Galasiërs 2:1-10

Galasiërs 2:1-10 AFR20

Daarna, veertien jaar later, het ek weer, saam met Barnabas, na Jerusalem opgegaan. Ek het ook Titus saamgeneem. Ek het op grond van 'n openbaring opgegaan, en die evangelie wat ek onder die heidene verkondig, aan hulle voorgelê – afsonderlik aan die mense van aansien – sodat ek nie vergeefs hardloop of gehardloop het nie. Maar selfs Titus, wat saam met my was, is nie gedwing om besny te word nie, alhoewel hy 'n Griek is. Die saak het ontstaan omdat skynheilige broers, wat onder valse voorwendsels ingesmokkel is, ingesypel het om te spioeneer op die vryheid wat ons in Christus Jesus het. Hulle doel was om van ons slawe te maak. Ons het nie vir 'n oomblik in onderdanigheid aan hulle toegegee nie, sodat die waarheid van die evangelie onder julle behoue sou bly. Maar die mense van aansien – wat hulle vroeër was – maak aan my geen verskil nie; God slaan nie ag op die aansien wat 'n mens het nie. Ja, die vooraanstaande mense het my niks meer opgelê nie. Inteendeel, toe hulle sien dat die evangelie aan die onbesnedenes aan my toevertrou is, soos aan •Petrus die evangelie aan die besnedenes – want Hy wat kragtig in Petrus gewerk het, met die oog op sy diens as •apostel aan die besnedenes, het ook kragtig in my gewerk, met die oog op die heidene – het Jakobus en Sefas en Johannes, wat as die pilare gereken is, die genade wat aan my gegee is, begryp, en het hulle die regterhand van broederskap na my en Barnabas gereik, sodat ons na die heidene sou gaan, en hulle na die besnedenes. Ons moes slegs sorg dat ons die armes in gedagte hou – presies wat ek my ook beywer het om te doen.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Galasiërs 2:1-10

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid