GALASIËRS 2:1-10

GALASIËRS 2:1-10 Bybel vir almal (ABA)

Ná 14 jaar het ek en Barnabas weer na Jerusalem gegaan. Ek het vir Titus saamgeneem. Ek het gegaan omdat God gesê het ek moet daarnatoe gaan. In Jerusalem het ek vir die gelowiges verduidelik hoe ek die goeie boodskap vir die heidene preek. Toe ek alleen by die belangrike leiers was, het ek dit vir hulle ook verduidelik. Ek wou seker maak dat ek die regte boodskap preek. Titus was saam met my. Hy is 'n Griek, maar die gelowiges in Jerusalem het nie vir hom gesê hy moet hom laat besny nie. Daar was mense in die gemeente in Jerusalem wat nie regtig gelowiges was nie. Hulle het skelm kom luister na wat ek sê, want hulle wou my beskuldig omdat ek sê Christus Jesus het ons vrygemaak. Hulle wou hê ons moet weer slawe word van die Wette van Moses. Ons het glad nie na hulle geluister nie. So het ons seker gemaak dat julle ook die waarheid van die goeie boodskap kon hoor. Die belangrike leiers in die gemeente in Jerusalem het niks verander aan my boodskap nie. Dit maak nie vir my saak dat hulle belangrik is nie. God dink nie dat een mens belangriker is as 'n ander mens nie. Die belangrike leiers in Jerusalem het besef dat God vir my gesê het ek moet die goeie boodskap vir die heidene bring, soos Hy vir Petrus gesê het hy moet die goeie boodskap vir die Jode bring. Ja, God het vir Petrus krag gegee om 'n apostel vir die Jode te wees en dieselfde God het vir my ook krag gegee om 'n apostel vir die heidene te wees. Jakobus, Sefas en Johannes was die belangrikste leiers in die gemeente in Jerusalem. Toe hulle besef dat God baie goed was vir my, het hulle my en Barnabas se hande geskud en gesê ons kan almal saamwerk. Ek en Barnabas moes vir die heidene preek en hulle moes vir die Jode preek. Hulle het net een ding vir my gevra, hulle het gevra dat ek ook die arm mense van die gemeente in Jerusalem moet help. Dit het ek baie graag gedoen.

GALASIËRS 2:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAARNA, veertien jaar later, het ek weer na Jerusalem opgegaan met Bárnabas, en Titus ook saamgeneem. Maar ek het opgegaan op grond van 'n openbaring en hulle die evangelie voorgelê wat ek onder die heidene verkondig; en afsonderlik aan die wat in aansien was, dat ek nie miskien tevergeefs sou loop of geloop het nie. Maar selfs is Titus, wat by my was, nie gedwing om besny te word nie, alhoewel hy 'n Griek is; en dit vanweë die ingesmokkelde valse broeders wat ingesluip het om ons vryheid te bespied wat ons in Christus Jesus het, sodat hulle ons in diensbaarheid kon bring; aan wie ons selfs nie 'n oomblik in onderworpenheid toegegee het nie, sodat die waarheid van die evangelie by julle bestendig sou bly. Maar van die wat in aansien was — wat hulle vroeër was, maak by my geen verskil nie; God neem die persoon van die mens nie aan nie — hulle dan wat in aansien was, het my niks meer opgelê nie. Maar, inteendeel, toe hulle sien dat aan my die evangelie vir die onbesnedenes toevertrou is, net soos aan Petrus dié vir die besnedenes — want Hy wat Petrus bekragtig het met die oog op die apostelskap vir die besnedenes, het my ook bekragtig met die oog op die heidene — en toe hulle merk die genade wat aan my gegee is, het Jakobus en Céfas en Johannes, wat as pilare geag is, aan my en Bárnabas die regterhand van gemeenskap gegee, sodat ons na die heidene en hulle na die besnedenes kon gaan; alleen moes ons aan die armes dink, wat ek my juis ook beywer het om te doen.

GALASIËRS 2:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

Veertien jaar later het ek weer Jerusalem toe gegaan, hierdie keer ek en Barnabas, en ek het vir Titus ook saamgeneem. God het dit aan my geopenbaar dat ek moet gaan. Ek het toe die evangelie wat ek onder die heidennasies verkondig, aan die broers daar voorgelê en dit nog afsonderlik met die leiers bespreek. Ek wou sekerheid hê dat ek nie tevergeefs werk of gewerk het nie. Hoewel Titus, wat saam met my was, 'n Griek is, is hy nie gedwing om hom te laat besny nie. Daar was wel sekere mense wat dit wou hê, maar dit was mense wat onder vals voorwendsels in die gemeente ingedring het en hulle as medegelowiges voorgedoen het. Hulle werklike doel was om ons lewe in die vryheid wat Christus Jesus vir ons verwerf het, dop te hou, sodat hulle weer slawe van ons kon maak. Aan hulle eise het ons egter nie 'n enkele oomblik toegegee nie, sodat die waarheid van die evangelie vir julle gehandhaaf sou word. Die leiers van die gemeente – wat hulle vroeër was, maak nie vir my saak nie; God kyk nie na 'n mens se uiterlike nie – die leiers van die gemeente het aan die evangelie wat ek verkondig, niks toegevoeg nie. Inteendeel, hulle het ingesien dat die taak aan my toevertrou is om die evangelie aan die nie-Jode te verkondig, net soos dit aan Petrus toevertrou is om die evangelie aan die Jode te verkondig. Dieselfde God wat van Petrus 'n apostel vir die Jode gemaak het, het van my 'n apostel vir die nie-Jode gemaak. Toe hulle dan ingesien het dat God my hierdie voorreg gegee het, het Jakobus, Sefas en Johannes, wat beskou is as die pilare van die gemeente, my en Barnabas die regterhand gegee as teken dat ons en hulle medewerkers is. Ons het ooreengekom dat hulle die evangelie aan die Jode sou verkondig, en ons aan die nie-Jode. Al wat hulle gevra het, is dat ons nie die armes onder hulle moet vergeet nie. Ek het my dan ook steeds vir hierdie liefdesdiens beywer.

GALASIËRS 2:1-10 Die Boodskap (DB)

Veertien jaar na my vorige besoek aan Jerusalem het ek weer soontoe gegaan. Barnabas en Titus was ook saam. Dit was egter nie my eie besluit nie. Nee, God het in ’n openbaring vir my kom wys dat ek Jerusalem toe moes gaan. Daar het ek die boodskap wat ek oral onder nie-Jode preek, aan die gelowiges in die stad voorgelê. Ek het ook privaat met die leiers van die kerk in Jerusalem gepraat, met al daardie mans wat so ’n groot naam in die kerk het. Ek het dit gedoen omdat ek doodseker wou maak dat my sendingwerk nie verniet was nie. Dink net wat sou gebeur het as Jerusalem se kerkleiers ernstige kritiek op my boodskap gehad het. Dan was al my harde werk daarmee heen. Titus, wat saam met my Jerusalem toe gegaan het, was ’n Griek. Hy was nie besny soos die Joodse wet dit vereis nie. Gelukkig het die gelowiges in Jerusalem ook nie van hom verwag om dit te doen nie. Maar daar was wel ’n paar mense wat wou hê dat hy besny moes word. Hierdie spul vals mense het die kerk skelm-skelm binnegesluip om te kom kyk of ons al die reëls en wette van die Jode nakom. Hulle wou die vryheid waarmee Jesus Christus ons vrygemaak het, van ons af wegvat en ons weer van voor af slawe van al hulle wette en reëls maak. Maar ons het dit nie toegelaat nie. Met al ons krag het ons gekeer dat die regte evangelie wat ons preek deur hierdie spul verander word. Weet julle, ons het dit ter wille van julle gedoen. Ons wou doodseker maak dat die regte evangelie ook daar by julle in Galasië uitkom. Maar wag, ek is nog besig om met julle te praat oor my ontmoeting met die leiers van die kerk in Jerusalem. Terloops, wie hulle vroeër was en wie hulle nou is, is regtig nie vir my belangrik nie. God kyk immers nie na mense se uiterlike nie. Wel, hierdie belangrike mans was heeltemal tevrede met wat ek preek. Hulle het besef dat God presies dieselfde boodskap aan my gegee het om aan mense buite Israel bekend te maak as wat Petrus onder die Jode verkondig. Natuurlik was dit nie vir my ’n verrassing nie. Dieselfde God wat Petrus as sy apostel aangestel het om onder mense te werk wat besny is, het my ook aangestel as sy apostel om onder mense te werk wat nie die teken van die besnydenis aan hulle liggame het nie. Toe Jakobus, Petrus en Johannes dan sien dat God so goed is vir my, was hulle baie bly. Net daar het hulle my en Barnabas se hand geskud. Die handdruk van daardie drie steunpilare wat aan die stuur van die kerk in Jerusalem staan, het gewys dat ons almal broers in die Here is. Ons het toe die volgende besluit geneem: Ek en Barnabas sou onder mense werk wat nie Jode is nie. Die leiers van die kerk in Jerusalem sou onder Israel oor Jesus gaan preek. Hulle het wel een versoek aan ons gerig: dat ons tog nie die armes in die Jerusalemgemeente moet vergeet nie. En, soos julle baie goed weet, is ek nog steeds besig om vir hulle geld in te samel.

GALASIËRS 2:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dit was eers veertien jaar later dat ek weer Jerusalem toe gegaan het. Ek het Barnabas en ook Titus saam met my gevat. Daar is in ’n openbaring vir my gesê om te gaan. In ’n privaat gesprek met die leiers het ek die Goeie Nuus voorgelê wat ek aan die nie-Jode verkondig. Ek wou seker maak dat ek my nie tevergeefs inspan nie. Maar hoewel Titus, wat saam met my was, ’n Griek is, is hy nie gedwing om hom te laat besny nie. Net ’n paar skyngelowiges het daarop aangedring. Hulle het die byeenkoms binnegesluip om te kom spioeneer op die vryheid wat ons in Christus Jesus het. Hulle doel was om ons weer slawe te maak. Ons het egter vir geen oomblik toegegee nie sodat die waarheid van die Goeie Nuus vir julle gehandhaaf kan bly. Verder het die leiers – wat hulle status was, maak nie vir my saak nie; God kyk nie na ’n mens se status nie – niks meer van my verwag nie. Inteendeel! Hulle het ingesien dat die Goeie Nuus vir die nie-Jode aan my toevertrou is, soos die Goeie Nuus vir die Jode aan Petrus toevertrou is. Want, soos God vir Petrus toegerus het om ’n apostel vir die Jode te wees, het Hy my toegerus om ’n apostel vir die nie-Jode te wees. En toe, omdat hulle besef het dat God sy genade aan my gegee het, het Jakobus en Petrus en Johannes – hulle is as die sleutelfigure beskou – my en Barnabas die hand gegee as teken dat ons kollegas is: Ons sou na die nie-Joodse nasies gaan en hulle na die Jode. Al wat hulle gevra het, was dat ons aan die armes moes dink, en juis dit het ek ywerig gedoen.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid