Galasiërs 1:11-24

Galasiërs 1:11-24 AFR20

Ek wil hê julle moet weet, broers, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie 'n menslike saak is nie; want ek het dit nie van 'n mens ontvang of geleer nie, maar wel deur 'n openbaring van Jesus •Christus. Julle het immers gehoor hoe ek vroeër volgens die Joodse godsdiens geleef het, dat ek die •kerk van God tot die uiterste vervolg en dit probeer vernietig het, en dat ek in die uitlewing van die Joodse godsdiens baie van my tydgenote in my volk oortref het, deurdat ek my soveel meer beywer het vir die tradisies van my voorvaders. Toe God dit egter goedgevind het – Hy wat my afgesonder het van voor my geboorte af en my deur sy genade geroep het – om sy Seun aan my te openbaar, sodat ek Hom aan die heidene sou verkondig, het ek nie dadelik vlees en bloed geraadpleeg nie. Ook het ek nie na Jerusalem opgegaan na hulle wat vóór my •apostels was nie, maar ek het wel na Arabië gegaan, en toe weer na Damaskus teruggekeer. Eers later, ná drie jaar, het ek na Jerusalem opgegaan om Sefas te ontmoet, en ek het vyftien dae by hom gebly; maar van die apostels het ek niemand anders gesien nie, behalwe Jakobus, die broer van die Here. Wat ek vir julle skryf, kyk, dit sê ek voor God – ek lieg nie! Later het ek na die streke van Sirië en Silisië gegaan, maar ek was persoonlik onbekend by die Christelike •gemeentes in Judea. Al wat hulle steeds bly hoor het, was: “Hy wat ons voorheen vervolg het, verkondig nou die geloof wat hy vroeër probeer vernietig het!” En hulle het God oor my verheerlik.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Galasiërs 1:11-24

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid