GALASIËRS 1:11-24

GALASIËRS 1:11-24 Bybel vir almal (ABA)

Vriende, dit is vir my baie belangrik dat julle dít moet besef: Die goeie boodskap wat ek preek, kom nie van mense nie. Ek het die boodskap nie by mense gekry nie, ek het dit ook nie by iemand geleer nie. Jesus Christus het dit self vir my gegee toe Hy aan my verskyn het. Julle het gehoor hoe ek voorheen gelewe het toe ek net die Joodse godsdiens geken het. Ek het baie baie slegte dinge gedoen aan die kerk van God, ek het probeer om die mense van die kerk dood te maak. Ek was 'n baie beter Jood as al die baie ander Jode wat so oud was soos ek. Ek was baie meer gehoorsaam aan die dinge wat ons voorouers vir ons geleer het. Maar God het my gekies voordat ek gebore is. Hy was baie goed vir my en Hy het my 'n apostel gemaak. Hy het besluit om sy Seun vir my te wys sodat ek vir die heidene kon gaan vertel van sy Seun. Nadat ek Hom gesien het, het ek nie vir ander mense gaan vra wat hulle van Hom weet nie. Ek het ook nie na Jerusalem gegaan nie, na die mense toe wat vóór my apostels geword het nie. Nee, ek het na die land Arabië gegaan en ek het later weer teruggegaan na die stad Damaskus. Drie jaar later het ek na Jerusalem gegaan om vir Sefas te leer ken. Ek het twee weke by hom gebly. Ek het nie een van die ander apostels gesien nie, ek het net vir Jakobus, die broer van die Here, gesien. Ek skryf vir julle die waarheid, die Here is my getuie. Later het ek na die provinsies Sirië en Silisië gegaan. Die gemeentes van die Christene in die provinsie Judea het my nie geken nie. Hulle het net gehoor die mense sê: “Paulus het verander, hy het voorheen baie slegte dinge aan ons gedoen en hy het probeer om ons geloof te breek, maar nou vertel hy vir almal dat hulle in Christus moet glo.” En hulle het God geprys omdat ek verander het.

GALASIËRS 1:11-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dit moet julle goed besef, broers: die evangelie wat ek verkondig, is nie deur 'n mens uitgedink nie. Ek het dit ook nie van 'n mens ontvang of by 'n mens geleer nie. Inteendeel, Jesus Christus het dit in 'n openbaring aan my gegee. Julle het immers gehoor van my optrede toe ek destyds nog 'n aanhanger van die Joodse leer was. Ek het die kerk van God tot die uiterste vervolg en dit probeer uitroei. En in die Joodse leer het ek onder my volksgenote bo baie van my leeftyd uitgestyg, want ek was 'n fanatieke yweraar vir die oorgelewerde leer van my voorvaders. Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in sy genade geroep. Toe Hy in sy goedheid besluit het om sy Seun aan my te openbaar sodat ek die evangelie oor Hom onder die heidennasies sou verkondig, het ek nie dadelik daarna mense geraadpleeg of Jerusalem toe gegaan na dié wat voor my al apostels was nie. Nee, ek is Arabië toe, en daarvandaan het ek teruggekom Damaskus toe. Eers drie jaar later het ek Jerusalem toe gegaan om met Sefas kennis te maak, en ek het twee weke by hom gebly. Van die ander apostels het ek niemand ontmoet nie behalwe Jakobus die broer van die Here. Wat ek aan julle skrywe, is nie leuens nie – God is my getuie. Daarna is ek na Sirië en Silisië toe. Die gemeentes van Christus in Judea het my toe nog nie persoonlik geken nie; hulle het net gehoor: “Die man deur wie ons vroeër vervolg is, verkondig nou die geloof wat hy destyds probeer uitroei het.” En hulle het God verheerlik oor my.

GALASIËRS 1:11-24 Die Boodskap (DB)

My broers en susters, verstaan my baie mooi: die goeie nuus oor Jesus Christus wat ek preek, het ek glad nie self uitgedink nie. Dit kom ook nie tweedehands van iemand anders af nie. Ek het dit glad nie op die een of ander plek gaan leer nie. Nee, op ’n bonatuurlike manier het Jesus Christus die goeie nuus wat ek verkondig aan my bekendgemaak. Voordat ek ’n Christen geword het, was ek ’n groot aanhanger van die Joodse geloof. In daardie tyd het ek die kerk van God wreedaardig vervolg. Ek wou al wat Christen is van die aardbol afvee. Ek het vinnig opgang binne die Joodse godsdienstige kringe gemaak. Kort voor lank was ek ’n modelgodsdienstige wat kop en skouers bo my volksgenote uitgestaan het. Ek was ’n fanatiese aanhanger van die tradisies van my voorouers. God het egter ander planne met my lewe gehad. Trouens, nog voordat ek gebore is, het Hy Hom al oor my ontferm. Tóé al het Hy besluit dat ek aan Hom behoort en dat ek voltyds vir Hom gaan werk. Later het God sy Seun, Jesus Christus, aan my bekendgemaak. Van daardie oomblik af het ek net een doel voor oë gehad: om die goeie nuus oor Christus te verkondig aan mense wat nie aan Israel behoort nie. Ek het glad nie eens by ander Christene gaan raad vra oor wat ek moes sê nie. Ek het ook nie Jerusalem toe gegaan om daar te gaan kers opsteek by diegene wat voor my al apostels was nie. Nee, ek is direk na my bekering Arabië toe. Later het ek teruggegaan Damaskus toe. Eers drie jaar later het ek weer in Jerusalem gekom. Daar het ek vir Petrus ontmoet en vyftien dae by hom oorgebly. In daardie tyd het ek nie een van die ander apostels te sien gekry nie, behalwe vir Jakobus, die broer van die Here. Terloops, al hierdie dinge wat ek vir julle skryf, is die reine waarheid. God self weet dit. Ek het toe daar in die streke van Sirië en Silisië begin preek. Op daardie tydstip het Christus se volgelinge in Judea my nog nie persoonlik geken nie. Al wat hulle van my geweet het, was die volgende brokkie nuus: “Daardie man wat ons vroeër vervolg het, verkondig nou die evangelie. Hy praat nou met ander mense oor die geloof wat hy vroeër probeer uitroei het.” Natuurlik was hulle baie bly daaroor. Hulle het vir God dankie gesê dat Hy my nou gebruik om die goeie nuus bekend te maak.

GALASIËRS 1:11-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek verseker julle, broers en susters, die Goeie Nuus wat ek aan julle verkondig het, is nie deur mense uitgedink nie. Ek het dit nie by ’n mens gehoor of geleer nie, maar deurdat God Jesus Christus aan my geopenbaar het. Julle het mos gehoor hoe ek my vroeër, toe ek nog die Joodse godsdiens aangehang het, gedra het, dat ek God se kerk fanaties vervolg en verwoesting gesaai het. In die uitlewing van die Joodse godsdiens het ek in my ouderdomsgroep bo baie van my volksgenote uitgestaan. Ek was besig om my uitermate te beywer vir die tradisies van my voorgeslagte. Maar toe het God besluit – Hy wat my al voor my geboorte gekies het en my deur sy genade geroep het – om sy Seun aan my bekend te maak. Dit het gebeur sodat ek Hom aan die nie-Joodse nasies kan verkondig. Ek het nie dadelik met mense gepraat nie. Ek het ook nie Jerusalem toe gegaan na hulle wat reeds voor my apostels was nie. Nee, ek het Arabië toe gegaan en van daar af teruggekom Damaskus toe. Eers drie jaar later is ek Jerusalem toe om Petrus te ontmoet. Ek het twee weke by hom gebly, maar van die ander apostels het ek niemand gesien nie behalwe Jakobus, die broer van die Here. Kyk, God is my getuie dat die dinge wat ek vir julle skryf nie leuens is nie. Daarna het ek na die gebied van Sirië en Silisië toe gegaan. Die Christene in die gemeentes van Judea het my nog nie persoonlik geken nie. Hulle het net gehoor: “Die persoon wat ons vroeër vervolg het, verkondig nou die geloof wat hy wou uitroei!” En hulle het God oor my geprys.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid