Esegiël 37:1-14

Esegiël 37:1-14 AFR20

Die hand van die HERE was op my. Hy het my deur die Gees van die HERE uitgelei en my neergesit in die laagte – dit was vol beendere. Hy het my keer op keer daar rondom laat loop; en kyk, daar het geweldig baie versprei oor die laagte gelê, en hulle was heeltemal verdroog! Hy vra toe vir my: “Mensekind, kan hierdie beendere leef?” Ek het geantwoord: “My Heer, HERE, net U weet dit.” Toe sê Hy vir my: “Profeteer oor hierdie beendere. Sê vir hulle, ‘Verdroogde beendere, luister na die woord van die HERE. So sê my Heer, die HERE vir hierdie beendere: “Kyk, Ek gaan gees in julle laat kom, en julle sal leef. Ek sal senings aan julle heg, vleis aan julle sit, vel oor julle trek, asem in julle gee, sodat julle kan leef. Dan sal julle besef dat Ek die HERE is.” ’ ” Ek het geprofeteer soos ek beveel is. Daar was 'n geluid net toe ek profeteer – 'n geratel! Die beendere het nader aan mekaar beweeg, been na been toe. Ek het gekyk, en sowaar, aan hulle is daar senings, en vleis kom te voorskyn! Vel is van bo af oor hulle getrek, maar daar was nog geen asem in hulle nie. Hy sê toe vir my: “Profeteer vir die wind! Profeteer, mensekind, en sê vir die wind, ‘So sê my Heer, die HERE: “Wind, kom uit die vier windrigtings! Blaas in hierdie doodgemaaktes, sodat hulle kan leef.” ’ ” Ek het geprofeteer soos Hy my beveel het. Die wind het in hulle ingegaan en hulle het lewend geword en op hulle voete gaan staan – 'n buitengewone groot leër! Hy sê toe vir my: “Mensekind, hierdie beendere, hulle is die hele huis van Israel. Kyk, hulle sê, ‘Ons beendere is verdroog, ons hoop is verlore, ons is afgesny.’ Daarom, profeteer en sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die HERE: “Kyk, Ek maak julle grafte oop, en Ek sal julle uit julle grafte laat opkom, my volk! Ek sal julle terugbring na die grond van Israel. Julle sal besef dat Ek die HERE is wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle uit julle grafte laat opkom, my volk. Ek sal my Gees in julle gee, en julle sal leef. Ek sal julle tot rus bring op julle grond. Dan sal julle besef dat Ek die HERE is. Ek het gepraat en Ek sal dit doen.” ’ ” Dit is die uitspraak van die HERE.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid