ESEGIËL 37:1-14

ESEGIËL 37:1-14 Bybel vir almal (ABA)

Ek het gevoel die Here sit sy hand op my. Hy het sy Gees gestuur om my uit die stad te bring en Hy het my neergesit in 'n vallei. Die vallei was vol bene van mense wat dood is. Die Gees het gesê ek moet rondom die bene loop. Daar was baie bene in die vallei, en die bene was baie droog. Die Here het vir my gevra: “Mens, kan hierdie bene weer lewe?” Ek het geantwoord: “Here, U wat Here is, net U weet dit.” Toe sê die Here vir my: “Jy moet my boodskap bring vir hierdie bene, jy moet vir hulle sê: Droë bene, julle moet hoor wat sê die Here. Die Here, Hy wat Here is, sê vir hierdie bene: Luister, Ek sal asem in julle laat kom, en julle sal lewe. Ek sal spiere aan julle sit, Ek sal vleis oor julle laat kom en Ek sal vel oor julle sit. Ek sal asem in julle gee, en julle sal lewe. Julle sal weet dat Ek die Here is.” Ek het die boodskap vir die bene gebring soos die Here vir my gesê het. Terwyl ek dit gedoen het, het ek iets gehoor. Dit was 'n aardbewing. En toe kom al die bene na mekaar toe, elke been het gekom na die been wat by hom pas. En terwyl ek kyk, het daar spiere aan die bene gekom, vleis het die bene toegemaak, en daar het 'n vel oor die bene gekom. Maar daar was nie asem in hulle nie. Toe sê die Here vir my: “Mens, jy moet my boodskap bring vir die wind, jy moet my boodskap bring en jy moet vir die wind sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Wind, jy moet kom van die noorde en die suide, die ooste en die weste en jy moet in hierdie dooie mense blaas sodat hulle kan lewe.” Ek het die boodskap gebring soos die Here vir my gesê het, en toe kom daar asem in die bene. Hulle het begin lewe en hulle het regop gestaan. Dit was baie baie mense. Die Here het vir my gesê: “Mens, hierdie bene is die hele volk Israel. Hulle sê: ‘Ons is soos droë bene, ons kan niks meer hoop nie. Daar kan nie meer iets gebeur wat goed is vir ons nie.’ Daarom, jy moet my boodskap vir hulle bring, jy moet vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: My volk, Ek sal nou julle grafte oopmaak en Ek sal julle laat uitkom uit julle grafte. Ek sal julle laat teruggaan na die land Israel. My volk, julle sal weet dat ek die Here is wanneer Ek julle grafte oopmaak en wanneer Ek julle uit julle grafte bring. Ek sal my asem in julle gee, en julle sal lewe. Ek sal julle laat woon op julle eie grond, en julle sal weet dat Ek die Here is. Ek het dit gesê en Ek sal dit doen.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

ESEGIËL 37:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DIE hand van die HERE was op my, en Hy het my uitgebring deur die Gees van die HERE en my neergesit in die laagte; en dit was vol bene. En Hy het my by hulle laat verbygaan na alle kante toe; en kyk, daar het 'n groot menigte oor die laagte gelê, en kyk, hulle was baie dor. Toe sê Hy vir my: Mensekind, kan hierdie bene lewendig word? En ek antwoord: Here HERE, U weet dit. Daarop sê Hy vir my: Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: Dor bene, hoor die woord van die HERE! So spreek die Here HERE tot hierdie bene: Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word. En Ek sal senings op julle lê en vlees oor julle laat opkom en 'n vel oor julle trek en gees in julle gee, sodat julle lewendig kan word; en julle sal weet dat Ek die HERE is. Toe het ek geprofeteer soos my beveel was. En sodra ek geprofeteer het, was daar 'n geruis, en kyk — 'n beroering! En die bene het nader gekom, elke been na sy been. Toe kyk ek en — daar was senings op hulle, en daar het vlees op gekom, en 'n vel is bo-oor hulle getrek, maar daar was geen gees in hulle nie. Daarop sê Hy vir my: Profeteer tot die gees, profeteer, mensekind, en sê aan die gees: So spreek die Here HERE: Kom aan uit die vier windstreke, o gees, en blaas in hierdie dooies, dat hulle lewendig kan word. En ek het geprofeteer soos Hy my beveel het. Toe het die gees in hulle gekom, en hulle het lewendig geword en op hulle voete gaan staan — 'n ontsaglike groot leër! Toe sê Hy vir my: Mensekind, hierdie bene is die hele huis van Israel. Kyk, hulle sê: Ons bene is verdor, en ons verwagting is verlore; dit is klaar met ons! Daarom, profeteer en sê aan hulle: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek sal julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o my volk! En Ek sal julle bring in die land van Israel. En julle sal weet dat Ek die HERE is as Ek julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o my volk! En Ek sal my Gees in julle gee, dat julle lewendig kan word; en Ek sal julle vestig in jul land; en julle sal weet dat Ek, die HERE, dit gespreek en gedoen het, spreek die HERE.

ESEGIËL 37:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die mag van die Here het my in besit geneem en my deur die Gees van die Here uitgebring en neergesit binne-in 'n laagte. Die laagte was vol bene. Die Here het my om die bene laat loop, en ek het gesien daar is baie bene in die laagte en hulle is baie droog. Toe vra Hy vir my: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?” Ek het geantwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God.” Hy sê toe vir my: “Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here, droë bene! So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe: Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.” Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is, en terwyl ek dit doen, hoor ek 'n gedreun: die bene het na mekaar toe beweeg, elkeen na die been toe wat by hom pas. Terwyl ek kyk, kom daar senings en vleis aan hulle en word daar vel bo-oor getrek. Maar daar was nog nie gees in hulle nie. Toe sê die Here vir my: “Praat nou as profeet met die gees, tree op as profeet, mens, sê vir die gees: So sê die Here my God: Kom uit die vier windstreke, gees, blaas in hierdie dooies in dat hulle kan lewe.” Ek het as profeet opgetree soos die Here my beveel het, en toe kom die gees in hulle, en hulle lewe en gaan staan regop. Dit was 'n baie groot menigte. Die Here het vir my gesê: “Mens, al hierdie bene stel die hele Israel voor. Hulle sê: ‘Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons.’ Tree op as profeet, sê vir hulle: So sê die Here my God: Ek sal julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, en Ek sal julle terugbring na die land Israel toe. Wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, sal julle besef dat Ek die Here is. Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en Ek sal julle in julle land laat woon. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het dit gesê en Ek sal dit doen,” sê die Here.

ESEGIËL 37:1-14 Die Boodskap (DB)

Die Here het Hom hierna weer op ’n spesiale manier aan my bekendgemaak. Die Here se Gees het my weggeneem, en ek het by ’n laagte gaan staan. In die laagte het daar baie bene van mense rondgelê. Die Here het my toe om die bene laat loop. Dit was ou, uitgedroogde bene. Die hele leegte was vol daarvan. Oral op die grond het daar net bene gelê. Toe vra die Here vir my: “Mens, kan hierdie bene weer lewendig word? Kan daar lewendige mense uit hierdie bene kom?” “Here, my God, U alleen weet wat die antwoord daarop is,” het ek geantwoord. Toe sê die Here vir my: “Praat met die bene, Esegiël. Sê vir hierdie bene: Droë bene, luister as die Here met julle praat! So sê die Here, Esegiël se God, vir hierdie bene: Kyk mooi! Ek gaan asem in julle inblaas. Dan sal julle weer lewendig word. Dan sal Ek vleis en spiere om julle sit. En dan sal Ek vel om julle sit. Ek blaas asem in julle. Julle sal lewendige mense word. En dan sal julle weet dat Ek die Here is.” Ek het toe met die bene gepraat, net soos die Here vir my gesê het. Die volgende oomblik, terwyl ek nog praat, was daar ’n groot geraas. Oor die hele vallei het die bene begin raas soos dit teen mekaar gekap en geskuur het. Die bene het elkeen beweeg na die ander bene van dieselfde liggaam. En liggame se bene het só by mekaar uitgekom. Terwyl ek nog kyk, het vleis en spiere gevorm wat om die bene gaan sit het. Toe het vel bo-oor elke liggaam gevorm. Maar al die liggame het leweloos op die grond bly lê. Toe sê die Here vir my: “Praat met die wind. Sê: So sê die Here, die God van Esegiël: Kom, wind, kom uit die vier rigtings van die aarde! Blaas in hierdie dooie liggame sodat hulle lewendig kan word!” Ek het gedoen soos die Here my beveel het. Die volgende oomblik het die wind oor die liggame gewaai, en die liggame het begin asemhaal. Hulle het almal lewendig geword. Die skare liggame wat lewendig geword het, het op hulle voete gaan staan. Toe sê die Here vir my: “Mens, Israel is soos hierdie bene. My volk sê: ‘Ons het soos ou, droë, dooie bene geword. Ons het geen hoop in die lewe meer oor nie!’ “Sê nou vir my volk die Here, die God van Esegiël, sê: My volk, Ek haal julle uit die graf waarin julle beland het toe julle as gevangenes weggevoer is na vreemde lande. Dit sal wees asof Ek julle uit die dood laat opstaan. Want Ek sal julle daar gaan haal en terugbring na julle eie land. Julle sal weer in Israel bly. Wanneer dit gebeur, sal julle erken dat Ek die Here is, my volk. Dan sal my Gees die wind wees wat Ek oor julle laat waai. Julle sal weer lewe en terugkom huis toe, na julle eie land toe. Dan sal julle weet dat Ek die Here is, as julle sien dat Ek alles presies gedoen het soos Ek belowe het.” Dit is Ek, die Here, wat gepraat het.

ESEGIËL 37:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het my in besit geneem, en die Gees van die HERE het my weggeneem na ’n vallei vol bene. Hy het my tussen die ou, droë bene wat op die valleivloer lê, rondgelei. Hulle het oral op die grond gelê. Toe vra Hy: “Mensekind, kan hierdie bene weer lewende mense word?” “Oppermagtige HERE, U alleen ken die antwoord,” het ek gesê. Hy sê toe vir my: “Profeteer vir hierdie bene en sê: ‘Droë bene, luister na die woord van die HERE! So sê die oppermagtige HERE: Kyk, Ek gaan in julle blaas en julle weer lewend maak! Ek sit vleis en spiere om julle en maak julle toe met vel. Ek sit asem in julle en julle sal lewend word. Dan sal julle besef dat Ek die HERE is.’” Ek het gesê soos Hy my beveel het. Skielik was daar ’n gedreun terwyl ek praat. Die bene van elke liggaam het bymekaargekom soos dit voorheen was. Terwyl ek gekyk het, het spiere en vleis oor die bene gevorm. Toe het vel die liggame toegemaak. Maar daar was nie lewe in hulle nie. Toe sê Hy vir my: “Praat met die wind en sê: ‘So sê die oppermagtige HERE: Wind, kom vanuit die vier windrigtings! Blaas in hierdie dooie liggame sodat hulle lewend kan word!’” Ek het toe gesê soos ek beveel is, en die wind het in die liggame gekom en hulle het begin asemhaal. Hulle het lewend geword en op hulle voete gaan staan, ’n groot klomp mense. Toe sê Hy vir my: “Mensekind, hierdie bene is die mense van Israel. Hulle sê: ‘Ons het ou, droë bene geword. Daar is geen hoop vir ons oor nie!’ Sê vir hulle die oppermagtige HERE sê: My volk, Ek maak die grafte van ballingskap oop en laat julle opstaan. En Ek bring julle terug na die land Israel. My volk, wanneer dit gebeur en Ek julle uit julle grafte bring, dan sal julle besef dat Ek die HERE is. Ek sit my Gees in julle, en julle sal lewe en terugkeer huis toe, na julle eie land toe. Dan sal julle besef dat Ek die HERE is. Julle sal sien dat Ek presies gedoen het soos Ek belowe het. Ek, die HERE, het so gesê!”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid