Eksodus 34:1-10

Eksodus 34:1-10 AFR20

Die HERE het vir Moses gesê: “Kap vir jou twee kliptafels uit, soos die eerstes. Ek sal op die tafels die woorde skryf wat op die eerste tafels was, wat jy aan stukke gebreek het. Wees teen die oggend gereed. Klim dan die berg Sinai in die oggend uit, en staan gereed vir My daar op die kruin van die berg. Niemand mag saam met jou opklim nie. Ook mag niemand op die hele berg te sien wees nie. Selfs kleinvee of grootvee mag nie voor hierdie berg wei nie.” Nadat hy twee kliptafels soos die eerstes uitgekap het, het Moses vroeg die oggend opgestaan en teen die berg Sinai uitgeklim, net soos die HERE hom beveel het. Hy het die twee kliptafels met hom saamgeneem. Die HERE het in die wolk neergedaal en daar by hom plek ingeneem en die Naam “die HERE” uitgeroep. Die HERE het reg voor hom verbygegaan en uitgeroep: “Die HERE, die HERE, 'n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid, wat troue liefde vir duisende bly handhaaf, wat skuld, oortreding en sonde vergewe, maar wat beslis niks ongestraf laat nie, wat vir die sondeskuld van ouers, kinders en kleinkinders laat boet, ook die derde en vierde geslag. ” Moses het haastig op die grond gekniel en in aanbidding gebuig. Toe sê hy: “As ek wel guns gevind het in u oë, my Heer, moet my Heer asseblief in ons midde saamtrek. Al is dit 'n hardnekkige volk, moet U ons skuld en ons sonde vergewe, en ons as u eiendom aanvaar.” Die HERE het gesê: “Kyk, Ek gaan 'n verbond sluit. Voor jou hele volk sal Ek wonders doen wat op die hele aarde of onder al die nasies nog nie deur My verrig is nie. Dan sal die hele volk tussen wie jy is, die werk van die HERE sien. Want ontsagwekkend is dit wat Ek met jou gaan doen.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid