EKSODUS 34:1-10

EKSODUS 34:1-10 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir Moses gesê: “Kap twee plat klippe soos die twee klippe wat jy stukkend gegooi het. Dan sal Ek op hierdie klippe dieselfde woorde skryf wat Ek op die eerste twee klippe geskryf het. Jy moet môre-oggend gereed wees. Gaan dan teen Sinai-berg op en gaan wag daar bo-op die berg vir My. Maar niemand mag saam met jou opklim nie. Daar mag niemand op die berg wees nie. Die bokke en skape en beeste mag ook nie naby hierdie berg wei nie.” Moses het toe twee plat klippe gekap wat soos die eerste twee klippe gelyk het. Hy het vroeg die oggend opgestaan en teen Sinai-berg opgegaan soos die Here vir hom gesê het. Hy het die twee plat klippe saam met hom geneem. Die Here het toe in 'n wolk afgekom na die berg. Hy het by Moses gaan staan en Hy het sy Naam “die Here” hard gesê. Die Here het voor Moses verbygegaan en Hy het hard gesê: “Ek is die Here! Ek is 'n God wat goed is vir mense wat swaarkry en Ek is genadig. Ek is baie geduldig en vol liefde. Ek doen wat Ek belowe het. Ná 1 000 geslagte sal Ek nog altyd lief wees vir mense. Ek vergewe mense wanneer hulle verkeerd doen en opstandig is en sonde doen. Maar as Ek wil, dan sal Ek iemand straf wat skuldig is. As die pa verkeerd gedoen het, dan straf Ek ook sy kinders en kleinkinders en hulle kinders.” Moses het vinnig op die grond gekniel en hy het voor die Here gebuig. Hy het gesê: “Here, as U tevrede is met my, dan moet U asseblief saam met ons gaan. Hierdie volk is hardkoppig. Ons het verkeerd gedoen, ons het sonde gedoen. Vergewe ons asseblief. Laat ons weer u eie volk wees.” Die Here het gesê: “Ek maak nou 'n verbond met julle. Al die Israeliete sal sien dat Ek wonderwerke doen. Niemand het al hierdie wonderwerke gedoen op die hele aarde nie, nie by een van die volke nie. Al die volke rondom julle sal sien wat Ek doen. Hulle sal bang word vir My en hulle sal My respekteer wanneer hulle sien wat Ek vir julle doen.

EKSODUS 34:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE het die HERE aan Moses gesê: Kap vir jou twee kliptafels soos die eerstes; dan sal Ek op die tafels die woorde skrywe wat op die eerste tafels was, wat jy verbrysel het. En hou jou gereed teen die môre, en klim in die môre op die berg Sinai en gaan daar staan by My op die top van die berg. Maar niemand mag saam met jou opklim nie; laat daar ook niemand op die hele berg gesien word nie; laat ook geen kleinvee of beeste teen hierdie berg wei nie. Toe het hy twee kliptafels gekap soos die eerstes, en Moses het die môre vroeg klaargemaak en op die berg Sinai geklim, soos die HERE hom beveel het, en die twee kliptafels in sy hand geneem. En die HERE het neergedaal in die wolk en daar by hom gestaan. En Hy het die Naam van die HERE uitgeroep. En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag. Toe het Moses hom gou na die aarde toe gebuig en neergeval en gesê: Here, as ek genade in u oë gevind het, laat dan tog die HERE in ons midde trek; want dit is 'n hardnekkige volk; maar vergewe ons ongeregtigheid en ons sonde, en neem ons aan as 'n erfdeel. Toe antwoord Hy: Kyk, Ek sluit 'n verbond; voor jou hele volk sal Ek wonders doen soos daar op die hele aarde en onder al die nasies nie geskape is nie, sodat die hele volk onder wie jy is, die werk van die HERE kan sien. Want verskriklik is dit wat Ek aan jou gaan doen.

EKSODUS 34:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Here het vir Moses gesê: “Kap vir jou twee plat klippe net soos die voriges. Ek sal op die klippe die gebooie skryf wat op die voriges was wat jy stukkend gegooi het. Maak môreoggend klaar en klim die oggend nog Sinaiberg uit. Wag vir My daar op die top van die berg. “Niemand mag saam met jou opklim nie. Nêrens op die berg mag daar selfs iemand gesien word nie. Die kleinvee en beeste mag ook nie naby die berg wei nie.” Moses het toe twee plat klippe soos die voriges gekap. Nadat hy vroeg die oggend opgestaan het, het hy net soos die Here hom beveel het, Sinaiberg uitgeklim met die twee plat klippe in sy hand. Die Here het in 'n wolk afgekom en daar by Moses kom staan en die Naam “die Here” uitgeroep. Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.” Moses het toe vinnig gebuig in eerbied en gesê: “As ek u goedgesindheid geniet, Here, moet U saam met ons wegtrek. Al is die volk moedswillig, moet U ons ongeregtigheid en sonde vergewe. Laat ons tog u volk bly, u eiendom.” Toe het die Here gesê: “Ek sluit nou 'n verbond met julle. Voor jou hele volk gaan Ek magtige dade doen wat nog nooit tevore op die hele aarde onder enige nasie gedoen is nie. Die hele volk by wie jy is, sal sien wat Ek, die Here, doen. Wat Ek vir jou gaan doen, sal hulle met ontsag vervul.

EKSODUS 34:1-10 Die Boodskap (DB)

Die Here sê toe vir Moses: “Gaan kap vir jou twee plat klippe wat net so lyk soos die twee wat jy stukkend gegooi het. Ek sal weer alles daarop skryf wat op die eerste twee was. Jy moet dit teen môreoggend reg hê sodat jy in die oggend teen die berg kan uitklim en by My bo-op die berg kan kom staan. Daar mag nie nog iemand anders saam met jou teen die berg uitklim nie. Daar mag nêrens op die berg enigiemand anders te siene wees nie. Daar mag ook nie enige vee of beeste teen die hang van die berg wei nie.” Moses het toe twee plat klippe uitgekap wat net soos die eerstes gelyk het. Hy het gemaak soos die Here vir hom gesê het en die oggend vroeg opgestaan. Hy het teen Sinaiberg uitgeklim met die klippe in sy hand. Die Here het in ’n wolk afgekom en by Moses gaan staan. Hy het sy Naam “Die Here” uitgeroep. Terwyl die Here by Moses verbygaan, roep Hy uit: “Ek is die Here. Ek is die God wat mense help. Ek is jammer vir mense en geduldig met hulle. Ek bly altyd getrou. Jy kan op My reken. Ek bly getrou aan derduisende mense. Ek vergeet alles wat hulle verkeerd gedoen het. Maar Ek laat nie met My mors nie. Ek straf die kinders en die agterkleinkinders vir oortredings van die ouers wat nie na My wou luister nie. Ek onthou wat hulle verkeerd gedoen het vir ’n hele paar geslagte daarna.” Moses het dadelik op sy knieë gegaan en tot die Here begin bid. Hy het gevra: “Here, as U dan van my hou, gaan dan tog asseblief saam met ons. Ons is regtig ’n hardkoppige volk. Vergeef tog ons sonde en ons oortreding. Aanvaar ons as u eie volk.” Die Here antwoord toe: “Kyk, Ek sal ’n nuwe ooreenkoms met julle maak. Ek sal voor die hele volk wonderlike dinge laat gebeur. Sulke dinge het nog nêrens op die aarde gebeur nie. Geen volk het so iets gesien nie. Al die volke rondom julle sal sien wat die Here kan doen. Ek sal groot dinge met jou laat gebeur.

EKSODUS 34:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het vir Moses gesê: “Kry twee plat klippe gereed. Ek sal weer al die woorde wat op die klippe was wat jy stukkend gegooi het, daarop skryf. Wees môre-oggend vroeg gereed daarmee sodat jy die berg kan uitklim. Ontmoet My bo-op die berg. Niemand anders mag saam met jou teen die berg uitklim nie. Daar mag nêrens op die berg iemand anders wees nie. Daar mag selfs nie enige beeste of vee teen die berg wei nie.” Moses het toe twee plat klippe soos die eerstes gereed gekry. Hy het vroeg die oggend opgestaan en teen die berg begin uitklim, soos die HERE vir hom gesê het. Hy het die twee plat klippe in sy hande gedra. Die HERE kom toe in ’n wolk af, gaan staan by Moses en roep hardop sy eie Naam, “die HERE”, uit. Terwyl Hy by Moses verbybeweeg, het Hy uitgeroep: “Ek is die HERE. Ek is ’n God wat barmhartig en genadig is. Ek het geduld met mense. Ek is lojaal. Ek bly getrou. Ek bly vol liefde oor al die geslagte. Ek vergeef alles wat hulle verkeerd gedoen het. Ek laat sonde egter nie sommer verbygaan nie. Ek straf selfs die kinders tot in die derde en vierde geslag daarna vir die sonde wat hulle voorouers gedoen het.” Moses het diep vooroor gebuig en begin bid. Hy het gesê: “As ek dan regtig u goedkeuring geniet, Here, trek dan verder saam met ons. Dit is wel ’n eiesinnige volk hierdie, maar vergeef ons tog ons sonde en ons oortredings. Aanvaar ons tog as u eiendom.” Die HERE sê toe: “Goed, Ek sluit met julle ’n ooreenkoms. Ek sal voor die hele volk wonderlike dinge laat gebeur wat nog nêrens op aarde of voor enige volk gebeur het nie. Al die volke sal sien wat die HERE kan doen. Ek sal wonderlike dinge met julle laat gebeur.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid