Eksodus 3:1-18

Eksodus 3:1-18 AFR20

Moses het sy skoonvader, Jetro, die priester van Midian, se kleinvee opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag en uitgekom by die berg van God, by Horeb. Daar het die •Engel van die HERE aan hom verskyn in 'n vuur wat uit 'n doringbos opvlam. Moses het gesien daar is 'n doringbos aan die brand, maar dié doringbos word sowaar nie verteer nie. Toe dink Moses, ek moet afdraai, sodat ek na hierdie buitengewone verskynsel kan kyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie? Toe die HERE sien dat hy afgedraai het om dit van nader te bekyk, het God na hom geroep uit die doringbos: “Moses! Moses!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” Toe sê die HERE: “Moenie nader kom nie. Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond.” Daarop sê Hy: “Ek is die God van jou voorvader, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Moses het sy gesig bedek, want hy was bang om na God te kyk. Die HERE sê toe: “Ek het die ellende van my volk wat in Egipte is, duidelik gesien. Hulle noodkreet oor hulle slawedrywers het Ek gehoor. Ja, Ek ken hulle lyding. Ek het afgekom om hulle uit die hand van Egipte te red en hulle uit daardie land te laat optrek na 'n goeie en uitgestrekte land, na 'n land wat oorloop van melk en heuning, die woonplek van die Kanaäniete, die Hetiete, die •Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete. En nou, kyk, die noodkreet van die Israeliete het My bereik. Ek het ook die verdrukking waarmee Egipte hulle verdruk, raakgesien. Gaan dan nou! Ek stuur jou na die farao om my volk, die Israeliete, uit Egipte uit te lei.” Moses het egter vir God gesê: “Wie is ek, dat ek na die farao kan gaan en dat ek die Israeliete uit Egipte kan lei?” Hy het geantwoord: “Ek is immers by jou. En dit sal vir jou die teken wees dat dit Ek is wat jou gestuur het: Wanneer jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle God op hierdie berg dien. ” Moses het vir God gesê: “Kyk, as ek by die Israeliete kom en vir hulle sê, ‘Die God van julle voorvaders het my na julle gestuur,’ en hulle vra my dan, ‘Wat is sy naam?’ wat moet ek vir hulle sê?” God sê toe vir Moses: “Ek Is Wie Ek Is.” Hy sê toe ook: “So moet jy die Israeliete antwoord, ‘Ek Is het my na julle gestuur.’ ” God het weer vir Moses gesê: “So moet jy vir die Israeliete sê, “ ‘Die HERE, die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle gestuur.’ Dit is my Naam vir altyd; dit is my gevierde Naam van geslag tot geslag. “ Gaan, en bring die oudstes van Israel byeen, en sê vir hulle, ‘Die HERE, die God van julle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob, het aan my verskyn en gesê: “Ek gee noukeurig aandag aan julle en aan wat julle in Egipte aangedoen word. Ek verklaar dan: Ek sal julle laat optrek, weg van die ellende in Egipte, na die land van die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete, na 'n land wat oorloop van melk en heuning.” ’ “Hulle sal na jou luister, en dan moet jy en die oudstes van Israel na die koning van Egipte gaan. Julle moet vir hom sê, ‘Die HERE, die God van die Hebreërs, het Hom aan ons bekend gemaak. Laat ons asseblief dan nou drie dagreise ver die woestyn ingaan, sodat ons aan die HERE ons God kan offer.’

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid