EKSODUS 3:1-18

EKSODUS 3:1-18 Bybel vir almal (ABA)

Moses het sy skoonpa Jetro se skape en bokke opgepas. Sy skoonpa was die priester van Midian. Eendag het Moses die skape en bokke diep in die woestyn in geneem. Hy het by Sinai-berg gekom, die berg van God. Daar was 'n vuur in 'n doringbos. Die Engel van die Here was in die vuur en Hy het aan Moses verskyn. Moses het gesien die doringbos brand en dit hou nie op om te brand nie. Moses het gedink: Hier gebeur iets wat ek nog nooit gesien het nie. Ek wil nader gaan en gaan kyk hoekom die bos aanhou brand. Toe die Here sien Moses kom nader om te kyk, het Hy uit die doringbos vir Moses geroep: “Moses! Moses!” En Moses het gesê: “Hier is ek!” Die Here sê toe: “Moenie nader kom nie. Trek jou sandale uit, want die plek waar jy staan, is gewyde grond. Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.” Moses het sy gesig toegemaak, want hy was bang om na God te kyk. Toe sê die Here: “Ek het gesien my volk kry baie swaar in Egipte. Ek het gehoor hulle roep en vra dat Ek hulle moet help teen die mense wat hulle soos slawe laat werk. Ek is baie jammer vir hulle. Ek wil hulle gaan help teen die Egiptenaars. Ek wil hulle uit hierdie land laat uitgaan na 'n goeie en groot land, 'n land waar daar baie melk en heuning is. Dit is die land waar die Kanaäniete nou woon, en ook die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete. Ek het gehoor hoe die Israeliete bid en vir My vra om hulle te help. Ek het gesien dat die Egiptenaars slegte dinge aan hulle doen. Ek wil jou na die farao toe stuur om my volk, die Israeliete, uit Egipte te bring.” Moses het vir God gesê: “Ek is nie 'n belangrike man nie. Ek kan nie na die farao toe gaan en die Israeliete uit Egipte bring nie.” Maar God het gesê: “Ek sal by jou wees en Ek sal vir jou 'n teken gee om te bewys dat Ek jou gestuur het: Wanneer jy die volk uit Egipte gebring het, dan sal julle My op hierdie berg kom dien.” Toe sê Moses vir God: “Ek sal by die Israeliete kom en ek sal vir hulle sê: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur.’ Maar hulle sal vir my vra: ‘Wat is sy Naam?’ Wat moet ek dan vir hulle sê?” Toe sê God vir Moses: “My Naam is: ‘Ek is wat Ek is.’ Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek Is’ het my na julle toe gestuur.” God het ook vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Die Here het my na julle toe gestuur. Hy is die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.’ My Naam sal altyd ‘die Here’ wees. Hulle moet My altyd so noem, ook die mense wat later gebore sal word. Gaan maak die leiers van Israel bymekaar en sê vir hulle die Here, die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob, het aan jou verskyn en gesê: ‘Ek weet van julle, Ek sien wat die Egiptenaars aan julle doen. Ek het besluit Ek wil julle wegvat uit Egipte. Julle kry daar baie swaar. Ek wil julle laat gaan na die land van die Kanaäniete en die Hetiete en die Amoriete en die Feresiete en die Hewiete en die Jebusiete, dit is 'n land waar daar baie melk en heuning is. Die leiers sal na jou luister, en dan moet jy en die leiers van die Israeliete na die koning van Egipte toe gaan en vir hom sê: “Die Here, die God van die Hebreërs, het met ons gepraat. Laat ons asseblief in die woestyn ingaan, so ver soos 'n mens in drie dae kan loop. Ons wil daar vir ons God die Here offers bring.”

EKSODUS 3:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Moses het die kleinvee opgepas van sy skoonvader Jetro, die priester van Mídian. En toe hy die kleinvee agter die woestyn gedryf het, kom hy by die berg van God, by Horeb. Daarop verskyn die Engel van die HERE aan hom in 'n vuurvlam uit 'n doringbos. En toe hy weer sien, brand die doringbos in die vuur, maar die doringbos word nie verteer nie! En Moses sê: Laat ek tog nader gaan en hierdie groot verskynsel bekyk, waarom die doringbos nie verbrand nie. Toe die HERE sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na hom uit die doringbos en sê: Moses, Moses! En hy antwoord: Hier is ek. En Hy sê: Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond. Verder sê Hy: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien. En die HERE sê: Ek het duidelik gesien die ellende van my volk wat in Egipte is; en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja, Ek ken hulle smarte. Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en hulle te laat optrek uit daardie land na 'n goeie en wye land, na 'n land wat oorloop van melk en heuning, na die woonplek van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete. En nou, kyk, die jammerklagte van die kinders van Israel het tot by My gekom. Ook het Ek die verdrukking gesien waarmee die Egiptenaars hulle verdruk. Gaan dan nou heen, dat Ek jou na Farao kan stuur; en lei my volk, die kinders van Israel, uit Egipte uit. Maar Moses het tot God gespreek: Wie is ek, dat ek na Farao sou gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte sou lei? En Hy antwoord: Ek sal met jou wees, en dit sal vir jou 'n teken wees dat Ek jou gestuur het: As jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle op hierdie berg God dien. Hierop het Moses tot God gespreek: Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam? — wat moet ek hulle antwoord? En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur. Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die HERE, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag. Gaan heen en versamel die oudstes van Israel en sê vir hulle: Die HERE, die God van julle vaders, het aan my verskyn, die God van Abraham, Isak en Jakob, en het gesê: Ek het terdeë ag gegee op julle en op wat julle in Egipte aangedoen is. Daarom het Ek besluit: Ek wil julle uit die ellende van Egipte laat optrek na die land van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete, na 'n land wat oorloop van melk en heuning. En hulle sal na jou luister. Dan moet jy met die oudstes van Israel na die koning van Egipte gaan, en julle moet vir hom sê: Die HERE, die God van die Hebreërs, het ons ontmoet; laat ons dan nou tog drie dagreise ver die woestyn intrek en aan die HERE, onse God, offer.

EKSODUS 3:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, 'n priester van Midian, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het. Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in 'n vlam binne-in 'n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. En Moses sê vir homself: “Ek wil tog 'n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?” Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!” En hy antwoord: “Hier is ek.” Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” Verder sê Hy: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk. Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na 'n goeie en uitgestrekte land, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk. Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.” Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?” God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.” Daarna sê Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?” Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.” Verder sê God vir Moses: “Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is ewig my Naam, dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag. “Gaan roep nou die leiers van Israel bymekaar en sê vir hulle: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob, het aan my verskyn en gesê: Ek weet van julle en Ek weet ook wat julle aangedoen word in Egipte. Ek het besluit om julle te laat wegtrek uit die ellende van Egipte na die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, na 'n land wat oorloop van melk en heuning.’ “Die leiers van Israel sal na jou luister, en dan moet jy en hulle na die Egiptiese koning toe gaan en vir hom sê: ‘Die Here die God van die Hebreërs het Hom aan ons geopenbaar. Laat ons asseblief drie dagreise ver die woestyn in trek om vir ons God, die Here, 'n offer te bring.’

EKSODUS 3:1-18 Die Boodskap (DB)

Moses het sy skoonpa, Jetro, se vee opgepas. Jetro was die man in Midian wat vir die Here gewerk het. Moses het toe met sy skoonpa se vee al dieper die woestyn in getrek. Hy het naderhand by God se berg uitgekom. Dit is die berg Horeb. Daar het hy ’n man gesien wat van God uit die hemel kom. Die man het binne-in ’n vuurvlam gestaan wat lyk of dit in ’n doringbos brand. Alhoewel dit gelyk het of die bos besig was om af te brand, het dit glad nie uitgebrand nie. Moses het vir homself gesê: “Ek wil ’n bietjie gaan kyk wat hier aangaan. Hoekom brand die doringbos dan nie uit nie?” Toe die Here sien dat hy nader kom om te kom kyk wat gebeur, het die Here uit die doringbos met hom gepraat: “Moses! Moses!” Moses het geantwoord: “Dit is ek, ja.” Die Here sê vir hom: “Jy moenie nog nader kom nie. Trek uit jou sandale. Jy staan nou op ’n plek wat aan die Here behoort. Ek is die God van jou voorouers, die God van Abraham en van Isak en van Jakob.” Moses het toe sy hande voor sy oë gehou, want hy was bang hy moet na die Here kyk. Die Here het vir hom gesê: “Ek het mooi gesien hoe swaar my volk daar in Egipte kry. Ek het gehoor hoe hulle skree omdat hulle soos slawe gedryf word. Ek het baie duidelik gesien hoe swaar hulle kry. Ek het nou gekom om hulle weg te vat uit die hande van die Egiptenaars. Ek gaan hulle uit daardie land laat wegtrek na ’n mooi en ’n groot land waar daar volop kos is. Dit is die plek waar die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete op die oomblik bly. Ek het tot in die hemel gehoor hoe die Israeliete roep dat iemand hulle moet help. Ek het ook gesien hoe die Egiptenaars hulle mishandel. Gaan terug Egipte toe. Ek wil hê jy moet na die farao toe gaan. Jy moet my volk uit Egipte gaan uitlei.” Moses het toe vir die Here gesê: “Wie is ék dan nou dat dit juis ek is wat na die farao toe moet gaan? En wie is ék dat ek die Israeliete uit Egipte moet uitlei?” Die Here antwoord hom: “Ek self sal saam met jou gaan. Wanneer jy die volk uit Egipte uitgelei het en hulle kom aanbid My by hierdie berg, sal dit die bewys wees dat dit Ek is wat jou gestuur het.” Moses het vir God gesê: “Wanneer ek by die Israeliete aankom en vir hulle sê: ‘Die God van julle voorouers het my na julle toe gestuur,’ sal hulle dadelik vir my vra: ‘En wie is Hy nou?’ Wat moet ek dan vir hulle sê?” “Ek is wat Ek is,” het God vir Moses gesê. “Jy moet vir die Israeliete só sê: Ek-wat-is, dis Hy wat my na julle toe gestuur het.” God het ook nog verder vir Moses gesê: “Dit is wat jy vir die Israeliete moet sê: ‘Die Here, die God van julle voorgeslagte, God van Abraham, God van Isak, God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is wie Ek nog altyd was en dit is hoe al die geslagte wat nog moet kom, aan My sal dink.” “Gaan maak nou die leiers van Israel bymekaar en sê vir hulle: ‘Ek het die Here, die God van julle voorouers, die God van Abraham en Isak en Jakob, by die doringbos ontmoet. Hy het gesê: ‘Ek het goed na julle probleem gekyk. Ek het gesien wat daar alles met julle in Egipte gedoen word. Ek het besluit dat Ek julle sal laat wegtrek van die swaarkry in Egipte. Ek sal julle laat trek na ’n land waarin daar volop kos is. Dit is die land waar die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete op die oomblik woon.’ Die leiers van Israel sal aanvaar wat jy vir hulle sê. “Jy moet dan saam met hulle na die koning van Egipte toe gaan. Julle moet vir hom sê: ‘Die Here, die God van die Hebreërs, het na ons toe gekom. Gee tog vir ons kans om vir drie dae lank weg te gaan. Ons wil graag in die woestyn vir die Here ons God offers gaan bring.’

EKSODUS 3:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Moses het sy skoonpa, Jetro, se skape opgepas. Jetro was een van die priesters van Midian. Moses het al dieper in die woestyn inbeweeg en by Horeb uitgekom. Dit is die berg van God. Skielik het die engel van God aan hom verskyn in ’n vlam wat in ’n bos brand. Moses was verwonderd, want die bos het aanhou brand, maar dit het nie uitgebrand nie. “Dit is snaaks,” het Moses vir homself gesê. “Hoekom brand die bos dan nie uit nie? Laat ek gaan kyk wat aangaan.” Toe die HERE sien dat Moses nader kom om ondersoek in te stel, het Hy uit die bos na hom geroep: “Moses, Moses!” “Dit is ek, ja,” het Moses geantwoord. “Moenie nog nader kom nie,” het die HERE vir hom gesê. “Trek uit jou sandale. Die plek waarop jy staan, is heilige grond.” God sê toe vir hom: “Ek is die God van jou voorouers – die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.” Toe Moses dit hoor, het hy sy hande voor sy gesig gehou. Hy was bang om na God te kyk. HERE Die HERE sê toe vir hom: “Jy kan seker wees dat Ek gesien het hoe swaar my volk in Egipte kry. Ek het gehoor hoe hulle teen hulle slawedrywers om hulp roep. Ek is baie bewus van hoe swaar hulle kry. Daarom het Ek afgekom om hulle van die Egiptenaars te bevry en hulle weg te lei uit Egipte na hulle eie mooi, groot land. Dit is ’n land met oorgenoeg kos. Die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete bly nou daar. Die volk se noodroep het by My uitgekom en Ek het raakgesien hoe die Egiptenaars hulle verdruk en swaar laat werk. Gaan nou! Ek stuur jou na die farao toe. Jy moet my volk, die Israeliete, weglei uit Egipte uit.” “Maar wie is ek dan om voor die farao te verskyn?” het Moses vir God gevra. “Hoe kan U dit van my verwag om die Israeliete uit Egipte weg te lei?” God het geantwoord: “Ek sal by jou wees. Wanneer jy die volk uitgelei het uit Egipte en julle God by hierdie selfde berg kom aanbid, sal dit vir jou die bewys wees dat dit Ek is wat jou gestuur het.” Moses het egter teëgestribbel: “As ek by die volk van Israel kom en vir hulle sê: ‘Die God van julle voorouers het my na julle toe gestuur,’ sal hulle my nie glo nie. Hulle sal vra: ‘En wie is Hy eintlik?’ Wat moet ek dan vir hulle sê?” God het hom geantwoord: “Ek is soos wat Ek is. Sê maar net vir hulle: ‘Ek Is’ het my na julle toe gestuur.” God het verder vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: ‘Die HERE, die God van julle voorouers – die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob – het my na julle toe gestuur.’ Dit sal altyd my Naam wees en dit is wat elke geslag My sal noem. “Gaan maak nou die leiers van Israel bymekaar. Sê vir hulle: ‘Ek het die HERE, die God van julle voorouers – die God van Abraham, Isak en Jakob – by die bos wat brand, ontmoet. Hy het vir my gesê: Jy kan seker wees dat Ek oor julle bekommerd is en dat Ek raakgesien het wat met julle in Egipte gebeur. Ek sal julle weglei van die onderdrukking in Egipte na die land waarin die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete nou bly. Dit is ’n land waarin daar volop kos is.’ “Die leiers van die Israeliete sal aanvaar wat jy sê. Julle moet dan almal saam na die koning van Egipte toe gaan en vir hom sê: ‘Ons het die HERE, die God van die Hebreërs, ontmoet. Laat ons toe om drie dae ver die woestyn in te gaan sodat ons daar offers vir die HERE ons God kan bring.’

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid