Eksodus 1:8-22

Eksodus 1:8-22 AFR20

Daar het toe 'n nuwe koning oor Egipte aan bewind gekom wat nie van Josef geweet het nie. Hy het vir sy volk gesê: “Kyk, die Israelitiese volk is meer en magtiger as ons. Kom ons beraam 'n slim plan teen hulle, anders vermeerder hulle en kan dit gebeur dat, wanneer 'n oorlog uitbreek, ook hulle by ons vyande aansluit en teen ons veg en optrek uit die land. ” Hulle het toe bevelvoerders van gedwonge arbeid oor die Israeliete aangestel om hulle met dwangarbeid te onderdruk. Hulle moes vir die farao die voorraadstede Pitom en Ramses bou. Maar hoe meer hulle die Israeliete onderdruk het, hoe meer het die Israeliete vermeerder en hoe meer het hulle versprei. Die Egiptenare het vreesbevange geraak vir die Israeliete en hulle toe met geweld gedwing om te werk. Hulle het hulle lewens bitter gemaak deur die harde slawewerk met klei en bakstene, en ook nog deur allerhande werk op die landerye, ja, met al die werk wat die Egiptenare die Israeliete met geweld gedwing het om te doen. Die koning van Egipte het toe met die Hebreeuse vroedvroue, wie se name Sifra en Pua was, gepraat. Hy het gesê: “Wanneer julle die Hebreeuse vroue met 'n bevalling help, kyk wat die baba se geslag is. As dit 'n seun is, maak hom dood; maar as dit 'n dogter is, laat haar leef.” Maar die vroedvroue het vir God ontsag gehad en hulle het nie gedoen wat die koning van Egipte vir hulle gesê het nie. Hulle het die seuntjies laat leef. Die koning van Egipte het toe die vroedvroue ontbied en vir hulle gesê: “Waarom het julle dit gedoen? Julle laat die seuntjies leef!” “Omdat,” antwoord die vroedvroue toe die farao, “die Hebreeuse vroue nie is soos die Egiptiese vroue nie – hulle is vol lewenskrag. Voordat die vroedvrou by hulle uitkom, het hulle klaar geboorte gegee.” En God het die vroedvroue goed behandel. Die volk se getalle het vermeerder en hulle het besonder baie geword. Omdat die vroedvroue vir God ontsag gehad het, het Hy vir hulle huisgesinne voorsien. Die farao het toe sy hele volk beveel: “Al die seuns wat gebore word, moet julle in die Nyl gooi, maar al die dogters moet julle laat leef.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid