EKSODUS 1:8-22

EKSODUS 1:8-22 Bybel vir almal (ABA)

Maar toe het 'n nuwe koning oor Egipte begin regeer. Hy het nie vir Josef geken nie. Hy het vir die mense van Egipte gesê: “Die Israeliete is nou meer en sterker as ons. Wanneer ons vyande oorlog maak teen ons, dan sal die Israeliete miskien saam met hulle veg teen ons en hulle sal ons land vat. Kom ons maak 'n plan, sodat hulle nie nog meer kan word nie.” Die farao het die Israeliete toe soos slawe laat werk en hy het mense aangestel om te kyk dat hulle hard werk. Die Israeliete moes vir die farao twee stede bou: Pitom en Rameses. Die farao het kos en ander goed in hierdie stede gebêre. Die Egiptenaars het die Israeliete verdruk, maar dit het nie gehelp nie. Die Israeliete het nog baie meer geword. Die Egiptenaars het die Israeliete gehaat en hulle nog harder laat werk. Hulle het die Israeliete baie swaar laat kry en hard laat werk. Die Israeliete moes stene maak van klei en hulle moes in die grond werk. Die Egiptenaars het hulle soos slawe laat werk. Hulle was nie jammer vir die Israeliete nie. Die koning van Egipte het ook met die Hebreeuse vroedvroue gepraat. Die een vroedvrou se naam was Sifra, en die ander vroedvrou se naam was Pua. Die koning het vir hulle gesê: “Wanneer julle die Hebreeuse vroue help wat kinders kry, en julle sien dit is 'n seun, dan moet julle hom doodmaak. Maar wanneer dit 'n dogter is, dan mag sy lewe.” Die vroedvroue was bang dat God hulle sal straf, en hulle het nie gedoen wat die koning van Egipte vir hulle gesê het nie. Hulle het die seuns laat lewe. Die koning van Egipte roep toe die vroedvroue en vra vir hulle: “Hoekom doen julle nie wat ek gesê het nie? Hoekom maak julle nie die seuns dood nie?” Die vroedvroue het vir die farao gesê: “Die Hebreeuse vroue is nie soos die Egiptiese vroue nie. Die Hebreeuse vroue is sterk. Wanneer die vroedvrou by hulle kom, dan is die kind al klaar gebore.” God was goed vir die twee vroedvroue. God het vir hulle kinders gegee omdat hulle gehoorsaam was aan Hom. Die Israeliete het baie geword, hulle het 'n sterk volk geword. Daarom het die farao vir al sy mense gesê: “Julle moet elke Hebreeuse seuntjie wat gebore word, in die Nyl-rivier gooi. Maar moenie die dogtertjies doodmaak nie.”

EKSODUS 1:8-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe staan daar 'n nuwe koning oor Egipte op wat niks van Josef geweet het nie. Dié het aan sy volk gesê: Kyk, die volk van die kinders van Israel is meer en magtiger as ons. Kom, laat ons 'n slim plan teen hulle beraam, sodat hulle nie kan vermeerder nie, en as ons in oorlog geraak, hulle ook nie by ons vyande aansluit en teen ons veg en uit die land optrek nie. Daar is toe opsigters van dwangarbeid oor hulle aangestel om hulle met harde arbeid te verdruk. En hulle het vir Farao die voorraadstede Pitom en Raämses gebou. Maar hoe meer hulle verdruk is, hoe meer het hulle vermenigvuldig en hulle uitgebrei, sodat hulle bang geword het vir die kinders van Israel. Daarom het die Egiptenaars die kinders van Israel met hardheid laat dien en hulle lewe verbitter deur swaar werk met klei en bakstene en deur allerhande werk in die landerye — al dié werk wat hulle met hardheid deur hulle laat verrig het. En die koning van Egipte het met die Hebreeuse vroedvroue — die een se naam was Sifra en die ander se naam Pua — gespreek en gesê: As julle die Hebreeuse vroue by 'n geboorte help, moet julle na die geboortestoel kyk: as dit 'n seun is, maak hom dood; maar is dit 'n dogter, laat haar lewe. Maar die vroedvroue het God gevrees en nie gedoen soos die koning van Egipte aan hulle gesê het nie, maar die seuntjies laat lewe. Toe laat die koning van Egipte die vroedvroue roep, en hy sê vir hulle: Waarom het julle dit gedoen en die seuntjies laat lewe? En die vroedvroue sê vir Farao: Die Hebreeuse vroue is nie soos die Egiptiese nie, want hulle is sterk — voordat die vroedvrou by hulle kom, het hulle al gebaar. Maar God het aan die vroedvroue weldadigheid bewys. En die volk het vermenigvuldig en baie magtig geword. En omdat die vroedvroue God gevrees het, het Hy huisgesinne aan hulle geskenk. Toe gee Farao aan sy hele volk bevel en sê: Al die seuns wat gebore word, moet julle in die Nyl werp, maar al die dogters kan julle laat lewe.

EKSODUS 1:8-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe 'n nuwe koning wat nie van Josef geweet het nie, oor Egipte begin heers, het hy vir sy volk gesê: “Besef julle dat die Israeliete nou meer en sterker is as ons? Kom ons bedink 'n plan teen hulle sodat hulle nie kan vermeerder nie. Anders kan dit gebeur dat as daar oorlog uitbreek, hulle dalk by ons vyand aansluit om teen ons te veg en ons land te oorweldig.” Daar is toe slawedrywers oor hulle aangestel om hulle met dwangarbeid te onderdruk. Hulle moes die voorraadstede Pitom en Rameses vir die farao bou. Maar hoe meer die Israeliete onderdruk is, hoe meer het hulle geword en hoe meer het hulle oor die land versprei, in so 'n mate dat die Egiptenaars baie bang geword het vir hulle. Die Egiptenaars het slawe gemaak van die Israeliete en die lewe vir hulle bitter gemaak deur swaar werk met klei en bakstene en deur allerhande werk in die lande. Hulle moes onder dwang al die slawewerk vir Egipte doen. Die Egiptiese koning het vir die Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua gesê: “As julle 'n Hebreeuse vrou by geboorte bystaan en julle sien by die kraambed dat dit 'n seun is, moet julle hom doodmaak, maar as dit 'n dogter is, mag sy bly lewe.” Maar die vroedvroue het God gedien en nie gemaak soos die Egiptiese koning hulle beveel het nie: hulle het die seuntjies laat lewe. Die Egiptiese koning het die vroedvroue ontbied en vir hulle gevra: “Waarom doen julle dit? Waarom laat julle die seuntjies lewe?” Toe antwoord die vroedvroue die farao: “Die Hebreeuse vrouens is nie soos dié van Egipte nie, hulle is sterk van gestel: voordat die vroedvrou by hulle kom, is die kind al gebore.” As gevolg hiervan het die volk aanhou vermeerder en baie talryk geword. God het toe die vroedvroue self ook voorspoedig gemaak. Omdat hulle Hom gedien het, het Hy vir hulle huisgesinne gegee. Daarna het die farao sy hele volk beveel: “Julle moet elke pasgebore seuntjie in die Nyl gooi, maar spaar die dogtertjies se lewe.”

EKSODUS 1:8-22 Die Boodskap (DB)

In ’n stadium het daar ’n nuwe koning in Egipte gekom. Hy het niks geweet van Josef en alles wat in sy tyd gebeur het nie. Hy het vir die mense onder hom gesê: “Kyk ’n bietjie; die Israeliete is besig om meer as ons te word. Hulle raak ook sterker as ons. Ons sal ’n plan moet uitdink om te keer dat hulle nog meer word. As daar oorlog uitbreek, kan hulle by die vyand aansluit. Hulle kan dan van oral uit die land optrek en teen ons begin veg.” Die farao het toe manne oor die Israeliete aangestel wat hulle gedwing het om die werk te doen wat onbetaalde slawe doen. Die farao, soos die koning van Egipte genoem is, het die Israeliete gebruik om vir hom die twee stede Pitom en Rameses te bou waar hy voorrade kon wegbêre. Die plan het egter geboemerang. Hoe swaarder die farao hulle laat werk het, hoe meer het die Israeliete geword en op al meer plekke gaan bly. Dit het die Egiptenaars net al hoe banger vir die Israeliete laat word. Die Egiptenaars het die Israeliete hardhandig begin behandel en die lewe vir hulle bitter swaar gemaak. Hulle het die Israeliete gedwing om die swaar slawewerk te doen. Hulle moes klei uitgrawe en daarvan bakstene maak, bouklippe kap en op die landerye werk. Die koning van Egipte het Sifra en Pua, die Hebreërs se kraamverpleegsters, probeer dwing om iets leliks te doen. Hy wou hê hulle moes daarvoor sorg dat die seuntjies van die Hebreërs se vroue nie bly lewe nie. Wanneer hulle die vroue help om hulle kinders in die wêreld te bring, moes hulle die seuntjies laat doodgaan. As dit dogtertjies was, kon hulle bly lewe. Omdat hierdie twee verpleegsters respek vir God gehad het, het hulle nie gedoen wat die farao gesê het nie. Hulle het die seuntjies ook laat bly lewe. Die koning het toe die twee vroue laat kom. Hy vra vir hulle: “Nou hoekom laat julle die seuntjies bly lewe?” Die verpleegsters het die farao geantwoord: “Omdat die Hebreeuse vroue nie so sukkel soos die Egiptiese vroue nie. Teen die tyd dat die verpleegster by hulle kom om hulle te help is die babatjie al klaar gebore en dan kan ons niks daaraan doen nie.” Die Israeliete het op dié manier net al meer en al sterker geword. Die verpleegsters het respek vir God gehad. Daarom was Hy goed vir hulle en het hulle ook kinders laat kry. Die farao het toe al die Egiptenaars beveel om alle pasgebore Israelitiese seuntjies in die Nyl te gooi. Hulle moes die dogtertjies egter laat bly lewe.

EKSODUS 1:8-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daar het toe ’n nuwe koning in Egipte aan bewind gekom. Hy het niks van Josef geweet nie. Hy het vir sy mense gesê: “Hierdie Israeliete is vir ons ’n gevaar. Hulle het meer en sterker as ons geword. Ons moet ’n plan maak om hulle getalle te beperk. As iemand teen ons oorlog maak, sal hulle by ons vyand aansluit. Hulle sal van oral in die land uit die land ontsnap.” Die Egiptenaars het die Israeliete toe gedwing om vir hulle te werk. Hulle het opsigters oor hulle aangestel. Hulle het die Israeliete harde werk laat doen om hulle te laat swaarkry. Die Israeliete moes die stede Pitom en Rameses vir die farao bou om sy voorrade daarin te stoor. Hoe swaarder die Egiptenaars hulle egter laat werk het, hoe vinniger het hulle meer geword en al verder uitgebrei. Die Egiptenaars het bang geword vir die Israeliete. Hulle het toe die Israeliete met geweld verplig om soos slawe te werk. Hulle het die lewe bitter swaar gemaak vir die Israeliete. Die Israeliete moes stene maak en klippe kap en buite in die veld werk. Die verpleegsters wat die Israelitiese vroue gehelp het om geboorte te gee se name was Sifra en Pua. Die koning van Egipte het vir hulle gesê: “Wanneer julle die Hebreeuse vroue help om geboorte te gee, moet julle elke seuntjie wat gebore word net daar doodmaak. As dit ’n dogtertjie is, mag sy maar bly lewe.” Omdat hierdie vroue die HERE gedien het, het hulle nie gedoen wat die koning van Egipte gesê het nie. Hulle het die seuntjies laat bly lewe. Die koning het die vroue toe laat roep en vir hulle gevra: “Hoekom maak julle so? Hoekom laat julle die seuntjies bly lewe?” “Meneer,” het die vroue geantwoord, “die Hebreeuse vroue is baie sterk. Teen die tyd dat die kraamverpleegster by hulle kom, het hulle alreeds geboorte gegee. Hulle is nie so stadig om geboorte te gee soos die vroue van Egipte nie.” God het dit goed laat gaan met die kraamverpleegsters. Die Israeliete het steeds al meer en al sterker geword. Omdat hierdie vroue in die HERE geglo het, het Hy vir hulle ook huisgesinne van hulle eie gegee. Die farao het toe aan al sy mense opdrag gegee: “Elke Israelitiese seuntjie wat gebore word, moet julle in die Nylrivier verdrink. Julle kan die dogtertjies maar laat lewe.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid