Handelinge 11:1-18

Handelinge 11:1-18 AFR20

Die •apostels en die broers dwarsdeur Judea het gehoor dat ook die heidene die woord van God aanvaar het. Toe •Petrus na Jerusalem opgegaan het, het diegene wat besny is, met hom geargumenteer en gesê: “Jy was by onbesnede mans aan huis en het saam met hulle geëet.” Daarop het Petrus dit soos volg stap vir stap vir hulle begin uitlê: “Ek was in die stad Joppe besig om te bid, en in ekstase het ek 'n visioen gesien: iets soos 'n groot linnedoek wat afsak en wat aan sy vier hoeke uit die hemel neergelaat word; en dit het tot by my gekom. En ek het aandagtig daarna gekyk, en opgemerk, en viervoetige diere van die aarde en wilde diere en kruipende diere, asook voëls van die hemel gesien. Ek het ook 'n stem vir my hoor sê, ‘Staan op, Petrus, slag en eet!’ Maar ek het geantwoord, ‘Onder geen omstandighede nie, Here! Want niks wat besoedel of •onrein is, het al ooit by my mond ingegaan nie.’ Die stem het toe 'n tweede keer uit die hemel geantwoord, ‘Wat God rein gemaak het, mag jy nie as onrein beskou nie.’ Dit het drie maal gebeur, en toe is alles weer in die hemel opgetrek. En kyk, skielik het daar drie mans wat van Caesarea af na my gestuur is, aangekom by die huis waar ons was. En die Gees het vir my gesê dat ek sonder aarseling saam met hulle moes gaan. Hierdie ses broers het toe saam met my gegaan en ons het die man se huis binnegegaan. Daarop het hy ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het wat vir hom sê, ‘Stuur manne na Joppe en laat haal Simon, ook bekend as Petrus. Hy sal vir jou 'n boodskap meedeel waardeur jy verlos sal word – jy en jou hele huis.’ En toe ek begin praat, het die Heilige Gees op hulle neergedaal, net soos aanvanklik ook op ons. Ek het egter die woord van die Here onthou, toe Hy gesê het, ‘Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.’ As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het as aan ons wat in die Here Jesus Christus glo, wie was ek dan dat ek God sou verhinder?” Toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: “So het God dus ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid