2 Samuel 19:1-8

2 Samuel 19:1-8 AFR20

Aan Joab is berig gebring: “Kyk, die koning huil en rou oor Absalom. ” Die oorwinning het daardie dag vir al die manskappe 'n dag van rou geword, omdat die manskappe daardie dag gehoor het die koning is gebroke oor sy seun. Die manskappe het dié dag die stad binnegesluip soos manskappe binnesluip wat verneder is omdat hulle in die geveg moes vlug. Die koning het sy gesig toegedraai en met 'n harde stem uitgeroep: “My seun Absalom! Absalom, my seun, my seun!” Toe gaan Joab na binne, na die koning, en sê: “Jy het vandag al jou dienaars met rooi gesigte gelaat – hulle wat vandag jou lewe en die lewe van jou seuns en dogters, en die lewe van jou vroue en byvroue gered het – deur dié lief te hê wat jou haat, en dié te haat wat jou liefhet. Jy het immers vandag te kenne gegee dat •aanvoerders en onderdane vir jou niks beteken nie. Ja, ek besef vandag dat, as Absalom sou lewe en ons almal vandag dood sou wees, dit dan reg sou wees in jou oë. Staan dan nou op, gaan uit en praat mooi met jou dienaars, want ek sweer voor die HERE dat as jy nie uitgaan nie, niemand vannag by jou sal bly nie; en dit sal vir jou 'n ramp wees, erger as enige ramp wat jou oorgekom het van jou jeug af tot nou toe.” Die koning het toe opgestaan en in die poort gaan sit, en toe al die manskappe die berig ontvang, “Kyk, die koning sit in die poort,” het al die manskappe voor die koning saamgekom. Israel het egter gevlug, elkeen na sy tente toe.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid