2 SAMUEL 19:1-8

2 SAMUEL 19:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN aan Joab is meegedeel: Kyk, die koning ween en bedryf rou oor Absalom. En daardie dag het die oorwinning vir die hele volk 'n roubedryf geword, omdat die volk dié dag hoor sê het: Die koning is bedroef oor sy seun. Daarom het die volk dié dag stilletjies die stad ingekom, net soos mense wat skaam is, wegsluip as hulle in die geveg gevlug het. En die koning het sy gesig toegemaak, en die koning het hardop uitgeroep: My seun Absalom! Absalom, my seun, my seun! Toe kom Joab by die koning in die huis en sê: U het vandag die aangesig van al u dienaars beskaamd gemaak, wat vandag u lewe en die lewe van u seuns en dogters en die lewe van u vroue en die lewe van u byvroue gered het, deur lief te hê diegene wat u haat, en te haat diegene wat u liefhet; want u gee vandag te kenne dat owerstes en onderdane vir u niks is nie, want ek merk vandag dat, as Absalom lewendig en ons almal vandag dood was, dit dan in u oë reg sou gewees het. Staan dan nou op, gaan uit en spreek na die hart van u dienaars, want ek sweer by die HERE — as u nie uitgaan nie, sal sekerlik vannag geen man by u bly nie; en dit sal vir u 'n groter onheil wees as al die onheile wat u oorgekom het van u jeug af tot nou toe. En die koning het opgestaan en in die poort gaan sit; en hulle het die hele volk laat weet en gesê: Kyk, die koning sit in die poort. Daarna het die hele volk voor die koning gekom. Maar Israel het gevlug elkeen na sy tente toe.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid