2 Konings 10:29-36

2 Konings 10:29-36 AFR20

Maar die sondes van Jerobeam, seun van Nebat, die sondes waarmee hy Israel laat sondig het, daarvan het Jehu nie afgewyk nie – die goue kalwers wat in Bet-El en Dan was. Die HERE het toe vir Jehu gesê: “Jy het goed gedoen deur uit te voer wat reg is in my oë. Alles wat Ek in gedagte gehad het vir die huis van Agab, het jy uitgevoer. Daarom sal daar vir jou seuns tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit. ” Jehu het egter nie daarby gehou om die wet van die HERE, die God van Israel, met sy hele hart te volg nie. Hy het nie afgewyk van die sondes van Jerobeam waarmee hy Israel laat sondig het nie. In daardie tyd het die HERE begin om dele van Israel af te sny. Gasael het hulle verslaan in die hele gebied van Israel vanaf die Jordaan ooswaarts: die hele gebied van Gilead waar die stamme van Gad, Ruben en Manasse was, van Aroër af, wat langs die Arnondal lê – Gilead, sowel as Basan. Die verdere geskiedenis van Jehu, alles wat hy gedoen het, al sy magtige dade, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Jehu het by sy voorouers gaan rus en hy is in Samaria begrawe. Sy seun Joagas het in sy plek koning geword. Die tydperk wat Jehu in Samaria as koning geheers het oor Israel, was agt-en-twintig jaar.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Konings 10:29-36

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid