2 KONINGS 10:29-36
2 KONINGS 10:29-36 Bybel vir almal (ABA)
Maar hy het aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat die Israeliete laat doen het. Die goue kalfbeelde was nog in die stede Bet-El en in Dan. Die Here het vir Jehu gesê: “Jy het dinge gedoen waarvan Ek hou, en jy het met die familie van Agab gedoen wat Ek wil hê. Daarom sal jou nageslag nog vier geslagte lank op die troon van Israel sit.” Maar Jehu het nie met sy hele hart gedoen wat die wette van die Here sê nie, hy het nie opgehou om die sondes te doen wat Jerobeam die Israeliete laat doen het nie. In die tyd toe Jehu koning was, het die Here begin om die land Israel kleiner te maak. Koning Gasael het die mense van Israel oral in die land oorwin. Hy het die grond oos van die Jordaan-rivier gevat. Dit was die hele land Gilead waar die stamme Gad, Ruben en Manasse gewoon het, die hele land noord van die stad Aroër in die Arnon-vallei tot by die land Gilead en die land Basan. Die ander dinge wat Jehu gedoen het, al die belangrike dinge wat hy gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel. Jehu het gesterf, en sy mense het hom begrawe in Samaria. Sy seun Joahas het koning geword ná hom. Jehu was 28 jaar lank in Samaria die koning van Israel.
2 KONINGS 10:29-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MAAR die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het — daar het Jehu nie van afgewyk nie, van die goue kalwers wat in Bet-el en in Dan was. Toe sê die HERE vir Jehu: Omdat jy goed gehandel het deur te doen wat reg is in my oë — volgens alles wat in my hart was, aan die huis van Agab gedoen het — sal jou seuns tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit. Maar Jehu het nie sorgvuldig in die wet van die HERE, die God van Israel, met sy hele hart gewandel nie; hy het nie afgewyk van die sondes van Jeróbeam wat Israel laat sondig het nie. In dié dae het die HERE Israel begin inkort, en Hásael het hulle in die hele gebied van Israel verslaan: van die Jordaan af na die ooste toe, die hele land Gílead, die Gadiete en die Rubeniete en die Manassiete, van Ároër af wat aan die Arnonrivier lê, Gílead sowel as Basan. En die verdere geskiedenis van Jehu en alles wat hy gedoen het, en al sy magtige dade, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie? En Jehu het ontslaap met sy vaders en is begrawe in Samaría, en sy seun Jóahas het in sy plek koning geword. En die dae wat Jehu oor Israel in Samaría geregeer het, was agt-en-twintig jaar.
2 KONINGS 10:29-36 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jehu het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie: die goue kalwers wat in Bet-El en in Dan was, is nog vereer. Die Here het vir Jehu gesê: “Omdat jy gedoen het wat goed en reg is in my oë en jy die huis van Agab alles aangedoen het wat Ek My voorgeneem het, sal jou kinders tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit.” Maar Jehu het nie met sy hele hart die woord van die Here die God van Israel gehoorsaam nie. Hy het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam vir Israel laat doen het nie. In daardie tyd het die Here begin om die gebied van Israel kleiner te maak. Oral in die grondgebied van Israel het Gasael hulle neerlae toegedien: van die Jordaan af ooswaarts, die hele Gilead waar die stamme Gad, Ruben en Manasse gewoon het, van Aroër af aan die Arnonrivier, Gilead sowel as Basan. Die ander verhale oor Jehu en alles wat hy gedoen het, al sy dapper dade, is opgeteken in die annale van die konings van Israel. Jehu is oorlede, en hulle het hom begrawe in Samaria. Sy seun Joahas het hom as koning opgevolg. Jehu het ag en twintig jaar in Samaria as koning oor Israel geregeer.
2 KONINGS 10:29-36 Die Boodskap (DB)
Jehu het egter nie opgehou om die verkeerde dinge te doen wat die Israeliete sedert die tyd van Jerobeam, die seun van Nebat, gedoen het nie. Hy het niks aan die goue bulbeelde gedoen wat in Bet-El en Dan gestaan het nie. Ten spyte daarvan het die Here vir hom gesê: “Jy het goed gedoen om die familie van Agab heeltemal uit te roei. Dit is wat Ek wou gehad het moes gebeur. Daarom het Ek besluit dat jou kinders en kleinkinders en agterkleinkinders vier geslagte lank in Israel sal regeer.” Maar Jehu was nie heeltemal getrou aan die Here, die God van Israel, se wette nie. Hy het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam in Israel ingebring het nie. Dit was juis in die tyd van Jehu dat die Here toegelaat het dat Israel se grondgebied kleiner word. Koning Hasael van Aram het dele van die land oos van die Jordaanrivier beset. Hy het Gilead beset, en dit het die stamgronde van Gad, Ruben en Manasse ingesluit, van Aroër aan die Arnonrivier af, tot by die Basanplato. Die res van Jehu se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings. Na sy dood is Jehu in Samaria begrawe. Sy seun Joahas het hom opgevolg, nadat Jehu 28 jaar oor Israel regeer het.
2 KONINGS 10:29-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hy het egter nie die goue kalwers in Bet-El en Dan vernietig nie. Daarom het Israel die verering daarvan voortgesit, net soos Jerobeam seun van Nebat gedoen het. Nogtans het die HERE vir Jehu gesê: “Jy het goedgedoen deur my bevele uit te voer, naamlik om die familie van Agab uit te roei. Omdat jy reg gedoen het, sal Ek toesien dat jou kinders tot in die vierde geslag konings van Israel sal wees.” Maar Jehu het nie die bevele van die HERE, die God van Israel, heelhartig gehoorsaam nie. Hy het nie weggedoen met die afgodery wat Jerobeam Israel laat doen het nie. Ongeveer hierdie tyd het die HERE begin om Israel se gebied kleiner te maak. Koning Gasael het verskeie dele van die land verower. Dit was die streke oos van die Jordaanrivier, die hele Gilead, insluitend die stamme Gad, Ruben en Manasse, vanaf die dorp Aroër by die Arnonrivier, sowel Gilead as Basan. Die ander gebeurtenisse tydens Jehu se bewind, wat hy gedoen het en sy dapper dade, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel. Toe Jehu sterf, is hy in Samaria begrawe. Sy seun Joahas het hom as koning opgevolg. Jehu het altesaam 28 jaar in Samaria oor Israel geheers.