2 Konings 10:1-17

2 Konings 10:1-17 AFR20

Agab het sewentig seuns in Samaria gehad. Jehu skryf toe briewe en stuur dit na Samaria, na die •hoë amptenare van Jisreël, die oudstes, en na die voogde van Agab se seuns, met hierdie woorde: “Nou, sodra hierdie brief by julle uitkom – die seuns van julle heer is mos by julle, en by julle is ook die strydwamag en perde, 'n versterkte stad en die toerusting – moet julle die beste en geskikste van julle heer se seuns uitsoek en hom op sy vader se troon sit. Dan moet julle veg vir die huis van julle heer.” Hulle het ontsettend bang geword en gesê: “Kyk, twee konings het nie voor hom stand gehou nie. Hoe kan ons dan standhou?” Die hoof van die hofhouding, die stadsbestuurder, die oudstes en die voogde het vir Jehu laat weet: “Ons is u dienaars. Alles wat u vir ons sê, sal ons doen. Ons sal niemand koning maak nie. Wat u goedvind – doen dit!” Hy skryf aan hulle toe 'n tweede brief met die woorde: “As julle aan my kant is en aan my gehoorsaam is, neem dan die koppe van die manne, van die seuns van julle heer, en bring dit môre teen hierdie tyd na my in Jisreël. ” Die seuns van die koning, sewentig man, was by vername mense van die stad, wat hulle grootgemaak het. Toe die brief by hulle kom, het hulle dadelik die koning se seuns geneem en die sewentig man onthoof. Hulle het die koppe in dramandjies gesit en na Jehu in Jisreël gestuur. Toe die boodskapper binnegaan en hom meedeel: “Hulle het die koppe van die koning se seuns gebring,” het hy gesê: “Sit hulle neer in twee hope by die ingang na die stadspoort tot môreoggend.” Die volgende oggend het hy uitgegaan, daar gaan staan en vir die hele volk gesê: “Julle is onskuldig. Kyk, ek is die een wat teen my heer 'n komplot gesmee en hom om die lewe gebring het. Maar wie het al hierdie mense neergevel? Weet dan dat daar niks onvervuld sal bly van die HERE se woord wat die HERE oor die huis van Agab gespreek het nie. Die HERE self het gedoen wat Hy by monde van sy dienskneg, Elia, gespreek het.” Jehu het almal wat van die huis van Agab in Jisreël oorgebly het, neergevel – al sy vername mense, sy vertrouelinge en sy priesters – totdat hy niemand van Agab laat vrykom het nie. Toe het Jehu opgestaan, die stad binnegegaan en na Samaria vertrek. Terwyl hy op pad was by Bet-Eked-Roïm, het Jehu die broers van Ahasia, die koning van Juda, teëgekom. “Wie is julle?” het hy gevra. “Ons is Ahasia se broers, en ons het afgekom om die seuns van die koning en die seuns van die koninginmoeder te groet,” het hulle geantwoord. “Gryp hulle lewendig!” het Jehu gesê. Hulle het hulle toe lewendig gegryp en onthoof by die opgaarput van Bet-Eked – twee-en-veertig man. Hy het niemand van hulle laat vrykom nie. Toe hy daarvandaan weggaan, kom hy af op Jonadab, seun van Regab, wat na hom toe op pad was. Hy groet hom toe en sê vir hom: “Is jy dit heelhartig met my eens, soos ek dit met jou is?” Jonadab het geantwoord: “Ek is.” Daarop sê Jehu: “Indien wel, gee jou hand!” Toe hy sy hand gee, help Jehu hom op die strydwa by hom en sê: “Gaan saam met my en aanskou my ywer vir die HERE.” So het hulle hom op sy strydwa laat ry. Toe hy in Samaria kom, het hy almal neergevel wat van Agab in Samaria oorgebly het, totdat hy hom uitgeroei het ooreenkomstig die woord van die HERE wat Hy met Elia gespreek het.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Konings 10:1-17

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid