2 KONINGS 10:1-17

2 KONINGS 10:1-17 Bybel vir almal (ABA)

Daar was 70 seuns van Agab in die stad Samaria. Jehu het briewe gestuur na die leiers in Samaria en na die mense wat Agab se kinders moes grootmaak. Hy het die briewe ook gestuur vir die leiers van die stad Jisreël. In die briewe het hy geskryf: “Julle koning se seuns is by julle, en ook sy oorlogkarre en perde en wapens, en julle is in 'n stad wat sterk mure het. Wanneer julle hierdie brief kry, dan moet julle kyk watter seun van julle koning is die beste om die werk te doen. Dan moet julle hom op die troon van sy pa laat sit en julle moet veg vir die familie van julle koning.” Die leiers het baie bang geword en gesê: “Twee konings kon nie teen Jehu wen nie, ons sal ook nie teen hom kan wen nie.” Die bestuurder van die paleis en die burgemeester en die leiers en die mense wat die koning se kinders moes grootmaak, het toe vir Jehu 'n boodskap gestuur en gesê: “Ons wil vir jou werk, ons sal alles doen wat jy sê. Ons wil nie vir iemand anders koning maak nie. Jy moet doen wat jy dink is reg.” Jehu skryf toe weer 'n brief en hy sê in die brief: “As julle kies om my te help en as julle wil doen wat ek sê, dan moet julle môre hierdie selfde tyd die koppe van die prinse vir my na Jisreël bring.” Die 70 prinse was in die stad by belangrike mense wat die kinders moes grootmaak. Toe die brief by hierdie belangrike mense kom, het hulle die 70 prinse almal doodgemaak. Hulle het die koppe in mandjies gesit en hulle het dit vir Jehu in Jisreël gestuur. Toe Jehu die boodskap kry dat hulle die prinse se koppe gebring het, het hy gesê: “Sit die koppe bymekaar in twee hope voor die poort en laat dit daar bly tot môre.” Die volgende oggend het Jehu uitgegaan. Hy het by die poort gaan staan en vir al die mense gesê: “Julle is onskuldig. Dit is ék wat planne gemaak het teen my koning, en ék het hom doodgemaak. Maar wie het al hierdie prinse doodgemaak? Julle moet dit weet: Alles het gebeur wat die Here gesê het oor die familie van Agab. Die Here het sy dienaar Elia gestuur om die boodskap te bring, en die Here het gedoen wat Hy gesê het.” Jehu het almal doodgemaak wat nog oor was van die familie van Agab in die stad Jisreël, ook al die belangrike amptenare van Agab, en sy vriende en sy priesters. Jehu het nie een laat aanhou lewe nie. Daarna het hy gereedgemaak en na Samaria gegaan. Langs die pad by die stad Bet-Eked-Roïm het hy koning Ahasia van Juda se broers gekry. Hy het gevra: “Wie is julle?” Hulle het gesê: “Ons is Ahasia se broers en ons gaan om te hoor hoe dit gaan met die prinse en met die seuns van die koning se ma.” Jehu sê toe: “Vang hulle lewendig!” Sy manne het Ahasia se broers gevang en doodgemaak by die watergat van Bet-Eked. Hulle was 42 mans, almal het gesterf, nie een het aangehou lewe nie. Toe Jehu verder gaan, kry hy vir Jonadab seun van Rekab en hy groet hom en vra: “Jonadab, ek is jou vriend en ek wil jou help. Wil jy ook vir my help?” Jonadab het gesê: “Ja, ek wil jou help, gee vir my jou hand.” Jonadab het sy hand vir hom gegee en Jehu het vir Jonadab gehelp om op die oorlogkar te klim. Hy het vir Jonadab gesê: “Jy moet saam met my kom, dan kan jy sien hoe werk ek vir die Here.” Jonadab het saamgery op die oorlogkar. Toe Jehu in Samaria aankom, het hy al die familie van Agab wat nog gelewe het in Samaria, doodgemaak. Nie een het aangehou lewe nie. Dit was soos die Here vir Elia gesê het.

2 KONINGS 10:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Agab het sewentig seuns gehad in Samaría. Toe skryf Jehu 'n brief, en hy stuur dit na Samaría aan die owerstes van Jísreël, die oudstes, en aan die opvoeders van die seuns van Agab, en sê: As hierdie brief dan nou by julle kom, terwyl die seuns van jul heer by julle is, en die strydwaens en die perde by julle is, en 'n versterkte stad en wapens, kyk dan uit na die beste en betroubaarste van die seuns van julle heer, en sit hom op die troon van sy vader en veg vir die huis van julle heer. Maar hulle het vreeslik bang geword en gesê: Kyk, twee konings het nie voor hom standgehou nie; hoe sou ons dan kan standhou? Toe laat die owerste oor die paleis en die owerste oor die stad en die oudstes en die opvoeders aan Jehu dít weet: Ons is u dienaars, en alles wat u ons beveel, sal ons doen; ons sal niemand koning maak nie; doen wat goed is in u oë. Daarop het hy vir die tweede maal 'n brief aan hulle geskrywe en gesê: As julle vir my is en my gehoorsaam wil wees, neem dan die hoofde van die manne, die seuns van julle heer, en kom môre omtrent sulke tyd na my in Jísreël; want die seuns van die koning, sewentig man, was by die grotes van die stad wat hulle grootgemaak het. En toe die brief by hulle kom, het hulle die seuns van die koning geneem en hulle gedood, sewentig man, en hulle hoofde in mandjies gesit en aan hom na Jísreël gestuur. En toe die boodskapper kom en hom berig bring en sê: Hulle het die hoofde van die koning se seuns gebring, sê hy: Sit hulle in twee hope neer by die ingang van die poort tot môre toe. En in die môre het hy uitgegaan en gaan staan en aan die hele volk gesê: Julle is onskuldig. Kyk, ék het 'n sameswering gesmee teen my heer en hom vermoor, maar wie het al hierdie manne doodgeslaan? Erken dan dat niks onvervuld bly van die woord van die HERE wat die HERE gespreek het teen die huis van Agab nie — die HERE het gedoen wat Hy deur die diens van sy kneg Elía gespreek het. Toe slaan Jehu almal dood van die huis van Agab wat in Jísreël oor was, en al sy grotes en sy vertroudes en sy priesters, totdat daar niemand van hom oor was wat vrygeraak het nie. En hy het hom gereedgemaak en gegaan en na Samaría getrek. Terwyl hy op pad by Bet-Eked van die herders was en Jehu die broers van Ahásia, die koning van Juda, aantref, sê hy: Wie is julle? En hulle antwoord: Ons is die broers van Ahásia, en ons het afgekom om die seuns van die koning en die seuns van die gebiedster te groet. En hy sê: Gryp hulle lewendig! En hulle het hul lewendig gegryp en gedood by die put van Bet-Eked, twee-en-veertig man; en hy het niemand van hulle laat oorbly nie. En vandaar het hy gegaan en Jónadab, die seun van Regab, gevind wat hom tegemoetkom. En hy groet hom en sê vir hom: Is jou hart reg soos my hart met jou hart is? En Jónadab antwoord: Ja. So ja, gee jou hand, sê Jehu. Toe gee hy sy hand; en hy het hom by hom op die wa laat klim en gesê: Gaan saam met my en aanskou met welgevalle my ywer vir die HERE. En hulle het hom op sy wa laat ry. En toe hy in Samaría aankom, het hy almal omgebring wat van Agab in Samaría oor was, totdat hy hom verdelg het volgens die woord van die HERE wat Hy tot Elía gespreek het.

2 KONINGS 10:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

In Samaria was daar sewentig prinse uit Agab se geslag. Jehu het briewe geskryf en dit na Samaria toe gestuur, na die regeerders van Jisreël, na die leiers en na die opvoeders van Agab se nakomelinge. Dit het so gelui: “As julle hierdie brief kry – julle het daar by julle die prinse, die strydwaens en perde, 'n versterkte stad en wapentuig – soek dan die beste en knapste prins uit en sit hom op die troon van sy pa. Maar julle sal moet veg vir julle koningshuis.” Hulle het bang geword, want hulle het gedink: twee konings moes die onderspit teen hom delf, hoe sal ons ons kan handhaaf? Die amptenaar in beheer van die paleis en die een in beheer van die stad, die leiers en die opvoeders het vir Jehu laat weet: “Ons wil u onderdane wees. Ons wil niemand koning maak nie. Alles wat u aan ons opdra, sal ons uitvoer. Doen wat u goedvind.” Toe skryf hy vir hulle 'n tweede brief: “As julle ten gunste van my is en aan my gehoorsaam wil wees, bring die koppe van die prinse môre hierdie tyd na my toe in Jisreël.” Die sewentig prinse was elkeen tuis by 'n vooraanstaande persoon van die stad wat hulle moes grootmaak. Toe die brief by die leiers kom, het hulle die prinse gevat en al sewentig doodgemaak en hulle koppe in mandjies na Jehu toe in Jisreël gestuur. Die boodskapper het kom rapporteer: “Hulle het die koppe van die prinse gebring.” Jehu het gesê: “Sit hulle tot môreoggend in twee hope neer by die ingang van die poort.” Die volgende môre het hy uitgegaan, daar gaan staan, en vir al die mense daar gesê: “Julle is onskuldig. Dit is ek wat teen die koning saamgesweer en hom vermoor het, maar wie het al hierdie mense doodgemaak? Erken dan dat nie 'n enkele ding wat die Here oor die huis van Agab gesê het, onvervul sal bly nie. Die Here het alles gedoen wat Hy deur sy dienaar Elia gesê het.” Jehu het almal doodgemaak wat nog van die koningshuis van Agab in Jisreël oor was: al die vooraanstaandes, vertrouelinge, selfs priesters; hy het nie een laat wegkom nie. Jehu het klaargemaak en na Samaria toe vertrek. Langs die pad by Bet-Eked-Roïm het hy die broers van koning Ahasia van Juda teëgekom. “Wie is julle?” het hy gevra. “Ons is Ahasia se broers,” het hulle geantwoord, “ons gaan kyk hoe gaan dit met die prinse en die koning se ma.” Jehu het beveel: “Vang hulle.” Hulle het hulle gevang en hulle doodgemaak by die put van Bet-Eked, altesaam twee en veertig; hy het nie een van hulle laat oorbly nie. Toe hy daar weg is, kom hy vir Jonadab seun van Rekab op die pad teë. Nadat hy hom gegroet het, vra hy vir hom: “Kan ek op jou reken soos jy op my?” Jonadab het geantwoord: “Ja.” “As dit ja is,” sê Jehu, “gee my jou hand.” Hulle het mekaar die hand gegee en Jehu het hom by hom op die wa laat klim. Jehu het gesê: “Kom saam met my, dan sal jy my ywer vir die Here sien.” Jehu het hom saam met hom laat ry, en toe Jehu in Samaria kom, het hy almal van Agab wat nog in Samaria oor was, doodgemaak; hy het tot die laaste een toe om die lewe gebring, soos die Here vir Elia gesê het.

2 KONINGS 10:1-17 Die Boodskap (DB)

Daar het 70 prinse uit Agab se familie in Samaria gewoon. Jehu het vir die leiers in Samaria en vir die mense wat die prinse grootgemaak en geleer het ’n brief geskryf. Hy het geskryf: “Die koning se seuns is almal by julle en julle het strydwaens, perde, wapens en ’n versterkte stad tot julle beskikking. Kies nou die beste kandidaat uit die seuns as sy pa se opvolger. Maak dan reg om Agab se koningshuis te verdedig.” Die leiers was baie bang vir Jehu en het vir mekaar gesê: “Hy het nou al klaar twee konings doodgemaak. Hoe sal ons ooit teen hom kan wen?” Hulle het eenparig vir Jehu laat weet: “U kan maar sê wat ons moet doen en ons sal dit doen. Ons wil nie een van die seuns koning maak nie. U is nou ons leier en ons wag op u bevele.” Jehu skryf toe ’n tweede brief en sê vir die leiers: “As julle regtig aan my kant is, maak dan al die prinse dood en kom môre na my toe. Maar bring die koppe saam, dat ek kan sien dat hulle regtig dood is. Die seuns was tuis by leiers wat hulle moes opvoed.” Toe die leiers die brief kry, het hulle gedoen wat Jehu geëis het. Hulle het al 70 die prinse doodgemaak, elkeen se kop afgekap en in mandjies gesit en na Jehu in Jisreël toe gestuur. Daar het toe boodskappers vir Jehu kom sê: “Die leiers van Samaria het die koppe van die 70 prinse hier laat aflewer.” “Dis goed so,” het Jehu geantwoord. “Pak hulle nou op twee hope buite die stadspoort en los dit tot môre daar.” Die volgende oggend het Jehu buite die stadspoort met die mense wat daar saamgedrom het, gaan praat. Hy het vir hulle gesê: “Julle is onskuldig. Dit is ék wat teen die koning in opstand gekom het en ék wat hom doodgemaak het. Maar wie het hierdie klomp mense doodgemaak? Julle moet net weet dat alles waar sal word wat die Here oor Agab en sy familie gesê het. Wat julle hier sien, is die manier waarop die Here dit wat Elia aangekondig het, laat gebeur het.” Daarna het Jehu al Agab se familielede in Jisreël doodgemaak. Ná hulle het hy Agab se hoë amptenare, asook sy vriende, vertrouelinge en priesters laat doodmaak. Daar het niemand uit Agab se familie oorgebly nie. Jehu is toe weg na Samaria toe. Op pad, by Bet-Eked van die skaapwagters, het hy ’n groep mense raakgeloop. “Wie is julle?” het hy gevra. “Ons is Ahasia se broers, van Jerusalem af,” het hulle geantwoord. “Ons is op pad om te gaan kyk hoe dit met die prinse en die koning se ma gaan.” “Vang hulle lewendig!” het Jehu vir sy manne geskree. Hulle het toe al 42 prinse van Juda gevang en hulle by ’n put daar naby gaan doodmaak. Op pad daarvandaan het Jehu vir Jonadab, die seun van Rekab, raakgeloop wat na hom toe gekom het. Nadat hulle mekaar gegroet het, het Jehu vir Jonadab gevra: “Is jy so lojaal aan my soos ek aan jou?” “Ja, ek is,” het Jonadab geantwoord. “Nou gee my dan jou hand!” het Jehu gesê en sy hand uitgesteek en vir Jonadab op sy strydwa gehelp. Jehu sê toe vir hom: “Kom nou saam met my. Kom kyk hoe ywerig kan ek vir die Here werk!” Jonadab het saam met Jehu Samaria toe gery. In Samaria het Jehu almal doodgemaak wat nog van Agab se familie oor was. Dit was soos wat die Here deur Elia gesê het dit sou gebeur.

2 KONINGS 10:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Agab het 70 seuns gehad wat in Samaria gewoon het. Jehu skryf toe briewe en stuur dit na Samaria toe, na die regeerders van Jisreël, na die leiers en na die oppassers van koning Agab se seuns. In die brief sê hy: “Die koning se seuns is daar by julle en julle het strydwaens, perde, ’n versterkte stad en wapens. Sodra julle hierdie brief ontvang, moet julle die beste en bekwaamste van koning Agab se seuns as koning aanwys. Wees dan gereed om vir Agab se koningshuis te veg.” Maar hulle was doodbang en sê: “Twee konings kon nie teen hierdie man weerstand bied nie! Hoe sal ons dit kan doen?” Gevolglik het die paleisbestuurder en die persoon in beheer van die stad, asook die ander leiers en die oppassers van die koning se seuns die volgende brief aan Jehu gestuur: “Ons is u dienaars en sal enigiets doen wat u ons beveel. Ons sal niemand koning maak nie. Doen wat u dink die beste is.” Jehu het ’n tweede brief gestuur: “As julle aan my kant is en vir my wil luister, moet julle môre teen hierdie tyd die koppe van die koning se seuns na my toe bring in Jisreël.” Die 70 seuns van die koning is versorg deur vooraanstaandes van die stad wat hulle moes grootmaak. Toe die leiers die brief ontvang, het hulle die koning se seuns geneem en al 70 doodgemaak. Hulle het die koppe in mandjies gesit en dit na Jehu in Jisreël gestuur. Die boodskapper het gekom en gesê: “Hulle het die koppe van die koning se seuns gebring.” Jehu beveel toe: “Sit dit in twee hope by die poort van die stad en los dit daar tot môre-oggend.” Die volgende oggend gaan hy buitentoe en gaan staan daar in die poort. Hy sê vir die groeiende skare: “Julle is onskuldig. Kyk, dis ek wat teen die koning saamgesweer en hom doodgemaak het. Maar wie het al hierdie mense doodgemaak? Weet dan dat niks van wat die HERE aangaande Agab se familie gesê het, onvervul sal bly nie. Die HERE het gedoen wat Hy deur sy dienaar Elia aangekondig het.” Daarna het Jehu al Agab se bloedverwante wat nog in Jisreël oor was, doodgemaak, asook al die vooraanstaandes, sy vriende en sy priesters. So het dit gebeur dat daar vir Agab niemand oorgebly het nie. Toe het Jehu na Samaria toe vertrek. Op pad, by Bet-Eked-Roïm, kom hy bloedverwante van koning Ahasia van Juda teë. “Wie is julle?” vra hy. Hulle antwoord hom: “Ons is naasbestaandes van koning Ahasia. Ons is op pad om die seuns van die koning en van die koninginmoeder te besoek.” “Vang hulle lewendig!” beveel Jehu. Hulle het toe al 42 gevang en net daar by die put van Bet-Eked doodgemaak. Nie een van hulle het oorgebly nie. Toe Jehu verder gaan, kry hy vir Jonadab seun van Rekab wat hom tegemoetkom. Nadat hy hom gegroet het, sê Jehu vir hom: “Is jy lojaal aan my soos ek lojaal is aan jou?” “Ja, ek is,” antwoord Jonadab. “As jy is,” sê Jehu, “gee my dan jou hand.” Jonadab gee hom toe sy hand en Jehu het hom op sy wa laat klim. Daarna sê Jehu: “Kom saam met my en jy sal my toewyding aan die HERE sien.” Jonadab het toe saam met hom gery. Toe Jehu in Samaria aankom, het hy almal doodgemaak wat nog oor was van Agab se bloedverwante. Hy het hulle uitgeroei soos die HERE deur Elia gesê het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid