1 Samuel 18

18
1Toe Dawid klaar met Saul gepraat het, was Jonatan reeds baie geheg aan Dawid. Jonatan het hom liefgekry soos homself. 2Saul het hom op daardie dag saamgeneem en hom nie toegelaat om na sy familie terug te gaan nie. 3Jonatan het met Dawid 'n verbond gesluit, omdat hy hom liefgehad het soos homself. 4Jonatan het die mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en dit vir Dawid gegee, ook sy uitrusting, ja selfs sy swaard, sy boog en sy gordel.
5Dawid het aan al die veldtogte deelgeneem, waarheen Saul hom ook al gestuur het. Hy het sukses behaal, en Saul het hom aangestel oor die krygsmanne. Die hele volk en ook Saul se amptenare het dit goedgevind.
Saul se jaloesie
6 Met hulle aankoms, toe Dawid terugkeer van sy oorwinning oor die Filistyn, het vroue uit al die stede van Israel gekom om te sing en koning Saul met kringdanse tegemoet te gaan, met tamboeryne, vreugderoepe en driesnarige instrumente. 7Die dansende vroue het gesing en gesê:
“Saul het sy duisende verslaan,
maar Dawid sy tienduisende.”
8Saul het baie kwaad geword. Hierdie saak was verkeerd in sy oë. Hy het gesê: “Aan Dawid gee hulle tienduisende, maar aan my gee hulle die duisende. Hy moet nou nog net die koningskap kry. ”
9Van daardie dag af het Saul vir Dawid wantrouig dopgehou.
10 Die volgende dag het 'n bose gees van God van Saul besit geneem, en hy was rasend in sy huis. Terwyl Dawid soos gewoonlik besig was om op die lier te speel, was daar 'n vegspies in Saul se hand. 11Toe gooi Saul die vegspies. Hy het gedink: “Ek sal Dawid teen die muur vaspen!” Maar Dawid het twee keer vir hom weggekoes.
12Saul het bang geword vir Dawid, want die Here was met hom, maar van Saul het Hy gewyk. 13Saul het Dawid toe uit sy onmiddellike omgewing verwyder en hom aangestel as •aanvoerder van 'n leërafdeling.
Dawid was op die voorpunt van die manskappe wanneer hulle uitgetrek en teruggekeer het. 14Dawid het oral waar hy gegaan het, sukses behaal, en die Here was met hom. 15Toe Saul sien dat hy baie voorspoedig is, het hy hom gevrees. 16Die hele Israel en Juda was lief vir Dawid, omdat hy op die voorpunt was wanneer hulle uitgetrek en teruggekeer het.
Dawid as Saul se skoonseun
17 Saul het vir Dawid gesê: “Hier is my oudste dogter Merab. Haar sal ek aan jou as vrou gee. Wees net vir my 'n onverskrokke vegter en voer die oorloë van die Here. ” Saul het gedink: “Laat my hand nie teen hom wees nie, maar laat die hand van die Filistyne teen hom wees.” 18Dawid het vir Saul gesê: “Wie is ek, en wie is my bloedverwante, die familiegroep van my vader in Israel, dat ek 'n skoonseun van die koning sou word?” 19Teen die tyd dat Saul se dogter Merab aan Dawid gegee moes word, is sy egter aan Adriël van Megola, as vrou gegee.
20Maar Migal, Saul se dogter, was verlief op Dawid. Hulle het dit vir Saul vertel, en die saak was reg in sy oë. 21Saul het gedink: “Ek sal haar aan hom gee, sodat sy vir hom 'n valstrik kan wees, en die hand van die Filistyne dan teen hom sal wees.” Saul het toe vir Dawid gesê: “Deur die tweede dogter kan jy vandag my skoonseun word.”
22Saul het sy amptenare beveel: “Sê stilletjies vir Dawid, ‘Kyk, die koning hou van jou, en al sy amptenare is lief vir jou. Word nou die koning se skoonseun.’ ” 23Die amptenare van Saul het hierdie woorde vir Dawid in die oor gefluister, maar Dawid het gesê: “Is dit in julle oë so 'n ligte saak om 'n skoonseun van die koning te word? Ek is arm en 'n nikswerd.”
24Saul se amptenare het aan hom berig gebring: “Dit is die woorde wat Dawid gesê het.” 25Toe sê Saul: “So moet julle vir Dawid gaan sê, ‘Die koning wil geen ander bruidsprys hê as 'n honderd voorhuide van Filistyne nie om wraak te neem op die koning se vyande.’ ” Saul het beplan om Dawid te laat sneuwel deur die hand van die Filistyne.
26Toe sy amptenare hierdie woorde aan Dawid oordra, was die saak reg in Dawid se oë om so die koning se skoonseun te word.
Voor die bepaalde tyd om was, 27het Dawid gereedgemaak en gegaan, hy en sy manne. Hy het tweehonderd man onder die Filistyne doodgeslaan. Dawid het hulle voorhuide gebring en die volle getal is aan die koning oorhandig, sodat hy die koning se skoonseun kon word. Daarop het Saul sy dogter Migal vir hom as vrou gegee.
28Saul het ingesien en besef dat die Here met Dawid is, en dat Migal, Saul se dogter, hom liefhet. 29Saul was toe nog banger vir Dawid, en hy het vir altyd 'n vyand van Dawid gebly.
30Die aanvoerders van die Filistyne het uitgetrek om oorlog te voer, maar telkens wanneer hulle uitgetrek het, het Dawid meer sukses behaal as al Saul se offisiere. Sy naam het groot agting afgedwing.

Tans Gekies:

1 Samuel 18: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid