1 Samuel 17

17
Dawid en Goliat
1Die Filistyne het hulle leër laat saamtrek vir oorlog. Hulle het byeengekom by Sogo, wat aan Juda behoort, en het kamp opgeslaan tussen Sogo en Aseka by Efes-Dammim. 2Saul en die manne van Israel het saamgetrek en kamp opgeslaan in die Ela-vallei. Hulle het die gevegslinies opgestel vir die oorlog teen die Filistyne. 3Die Filistyne het teen die een heuwel stelling ingeneem, en die Israeliete teen die ander heuwel, met die vallei tussen hulle.
4Daar tree toe 'n baasvegter uit die kampe van die Filistyne na vore met die naam Goliat, afkomstig uit Gat. Sy lengte was ses el en 'n span. 5Daar was 'n helm van brons op sy kop, en hy het 'n geskubde harnas aangehad. Die gewig van die harnas was vyfduisend sikkel brons. 6Daar was bronsplate voor sy skene en 'n kromswaard van brons tussen sy skouers. 7Die skag van sy vegspies was soos die dwarsbalk van 'n weefraam en die lem van sy vegspies was van seshonderd sikkel yster. Iemand wat 'n grootskild dra, het voor hom uit geloop.
8Hy het gaan staan en vir die gevegslinies van Israel geskreeu. Hy het vir hulle gesê: “Waarom trek julle uit om gevegslinies vir oorlog op te stel? Is ek nie 'n Filistyn, en julle Saul se slawe nie? Kies vir julle 'n man uit, dat hy na my toe afkom. 9As hy in staat is om teen my te veg, en hy verslaan my, sal ons julle slawe word; maar as ek oor hom die oorhand kry en hom verslaan, sal julle ons slawe word en moet julle ons dien.”
10 Die Filistyn het gesê: “Ek, ja ek, maak vandag van die gevegslinies van Israel 'n bespotting! Stuur vir my 'n man, sodat ons kan veg!”
11Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle paniekbevange en baie bang.
12 Dawid was die seun van hierdie man uit Efrata, uit Betlehem in Juda, met die naam Isai. Hy het agt seuns gehad. In Saul se tyd was die man al oud, gevorderd in jare. 13 Die drie oudste seuns van Isai het Saul gevolg na die oorlog. Die name van sy drie seuns wat oorlog toe is, was Eliab die eersgeborene, sy tweede was Abinadab, en die derde was Samma. 14Dawid was die jongste.
Die drie oudstes het Saul gevolg, 15maar Dawid het telkens van Saul af teruggekeer om sy vader se kleinvee op te pas in Betlehem. 16Intussen het die Filistyn vroeg soggens en smiddags laat nader gekom en stelling ingeneem – veertig dae lank.
17Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Neem tog vir jou broers hierdie efa geroosterde graan en hierdie tien brode. Vat dit gou na jou broers in die kamp. 18Hierdie tien blokke kaas moet jy vir die bevelvoerder van die afdeling gee. En oor jou broers moet jy uitvind hoe dit gaan, en 'n bewys van hulle af saambring. ” 19Saul en die broers en al die manne van Israel was steeds besig om teen die Filistyne oorlog te maak in die Ela-vallei.
20Dawid het die oggend vroeg opgestaan en die kleinvee by 'n wagter agtergelaat. Hy het gepak en vertrek, soos Isai hom beveel het. Toe hy by die oornagkamp aankom, was die leër besig om uit te gaan na die gevegslinies. Hulle het die oorlogskreet aangehef vir die geveg, 21en Israel en die Filistyne was besig om hulle gevegslinies teenoor mekaar op te stel.
22Dawid het die pakgoed wat hy gedra het by die oppasser van die pakgoed afgegee en na die gevegslinie gehardloop. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers hoe dit gaan. 23Hy was nog besig om met hulle te praat, toe die baasvegter met die naam Goliat, die Filistyn, uit Gat, juis na vore tree uit die gevegslinies van die Filistyne, en dieselfde woorde sê. Dawid het dit gehoor.
24Maar al die manne van Israel het, toe hulle die man sien, voor hom padgegee. Hulle was baie bang. 25Die manne van Israel het gesê: “Sien julle hierdie man wat na vore tree? Ja, dit is net om 'n bespotting te maak van Israel dat hy na vore tree! Die man wat hom verslaan – vir hom sal die koning met groot rykdom oorlaai, sy dogter aan hom gee en sy familie vrystel van verpligtinge in Israel.”
26Dawid vra toe vir die manne wat by hom staan: “Wat sal gedoen word vir die man wat hierdie Filistyn verslaan en die bespotting van Israel laat wyk? Want wie is hierdie onbesnede Filistyn nogal dat hy 'n bespotting maak van die gevegslinies van die lewende God?” 27Die manskappe het hom met dieselfde woorde geantwoord: “Dit is wat gedoen sal word vir die man wat hom verslaan.”
28Sy oudste broer, Eliab, het gehoor toe hy met die manne praat. Eliab het hom vir Dawid vererg en gesê: “Waarom het jy hierheen afgekom, en by wie het jy daardie klompie kleinvee in die woestyn agtergelaat? Ek ken jou verwaandheid en die boosheid van jou hart. Ja, dit is met die doel om die geveg te sien, dat jy hierheen afgekom het.”
29Dawid het geantwoord: “Wat het ek nou gedoen? Is dit nie maar net 'n vraag nie? ” 30Dawid het van Eliab weggedraai na iemand anders en dieselfde vraag gevra. Die manskappe het hom dieselfde antwoord gegee as die eerste.
31Die woorde wat Dawid gesê het, het rugbaar geword; en toe hulle dit vir Saul vertel, het hy hom laat haal.
32Dawid het vir Saul gesê: “'n Mens moenie moed verloor oor hom nie. U dienaar sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.” 33Maar Saul sê vir Dawid: “Jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie, want jy is nog maar 'n seun, en hy is 'n krygsman van sy jeug af.”
34 Toe sê Dawid vir Saul: “U dienaar het nog altyd vir sy vader die kleinvee opgepas. Wanneer daar 'n leeu of 'n beer kom en 'n lam uit die trop wegdra, 35gaan ek uit agter hom aan, slaan hom plat en ruk die lam uit sy bek. As hy opstaan en my aanval, gryp ek hom aan sy kaak, slaan hom plat en maak hom dood. 36U dienaar het al 'n leeu en selfs ook 'n beer doodgeslaan. Met hierdie onbesnede Filistyn sal dit net soos met een van hulle gaan, omdat hy 'n bespotting maak van die gevegslinies van die lewende God. 37Die Here wat my gered het uit die klou van 'n leeu en die klou van 'n beer,” het Dawid gesê, “dit is Hy wat my sal red uit die hand van hierdie Filistyn.” Toe sê Saul vir Dawid: “Gaan, en mag die Here met jou wees!”
38Saul het Dawid sy eie uitrusting laat aantrek. Hy het 'n helm van brons op sy kop gesit en hom 'n harnas laat aantrek. 39Dawid het ook Saul se swaard oor sy uitrusting vasgegord en probeer om te loop, want hy het dit nog nooit probeer nie. Dawid sê toe vir Saul: “Ek kan nie hiermee loop nie, want ek het dit nog nooit probeer nie.” Toe haal Dawid dit van hom af.
40Hy het sy staf in sy hand geneem, vir hom vyf gladde klippe in die spruit uitgesoek en dit in die skaapwagtersak wat hy gehad het, in die kantsak, gesit. Met sy slingervel in sy hand het hy die Filistyn genader.
41Die Filistyn het al hoe nader aan Dawid gekom, met voor hom die man wat die grootskild dra. 42Toe die Filistyn mooi kyk en Dawid sien, het hy hom geminag, want hy was nog maar 'n seun, rooierig, en met 'n mooi voorkoms.
43Die Filistyn sê toe vir Dawid: “Is ek 'n hond dat jy met stokke na my toe kom?” En die Filistyn het Dawid vervloek by sy gode. 44Verder sê die Filistyn vir Dawid: “Kom na my toe, sodat ek jou vleis vir die voëls van die hemel en die diere in die veld kan gee.”
45Maar Dawid het vir die Filistyn gesê: “Jy kom na my met 'n swaard en met 'n vegspies en met 'n kromswaard, maar ek kom na jou in die Naam van die Here, Heerser oor alle magte, die God van die gevegslinies van Israel, van wie jy 'n bespotting maak. 46Vandag sal die Here jou in my hand oorlewer, en ek sal jou verslaan en jou kop afkap. Ek sal die lyke van die Filistyne se leër vandag nog aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde gee, sodat die hele aarde sal weet dat Israel 'n God het. 47Dan sal hierdie hele strydmag moet erken dat dit nie deur swaard en vegspies is wat die Here verlos nie. Ja, die oorlog behoort aan die Here, en Hy sal julle in ons hand gee.”
48Toe die Filistyn gereedmaak en al nader kom om Dawid tegemoet te loop, het Dawid die Filistyn vinnig tegemoet gehardloop in die rigting van die gevegslinie. 49Dawid het sy hand in die sak gesteek en 'n klip daaruit geneem, met die slingervel gegooi, en die Filistyn op sy voorkop getref. Die klip het sy voorkop binnegedring, en hy het op die grond op sy gesig geval.
50Dawid het die oorhand gekry oor die Filistyn met 'n slingervel en 'n klip. Hy het die Filistyn verslaan en hom doodgemaak, al was daar nie 'n swaard in Dawid se hand nie. 51Dawid hardloop toe en gaan staan by die Filistyn, vat sy swaard vas, en trek dit uit die skede. Hy het hom die doodslag toegedien deur sy kop met die swaard af te kap.
Toe die Filistyne sien dat hulle held dood is, het hulle gevlug. 52Die manne van Israel en Juda het opgespring, die oorlogskreet aangehef en die Filistyne agtervolg tot by die ingang van Gat en tot by die poorte van Ekron. Die gesneuweldes van die Filistyne het op die pad na Saärajim en tot by Gat en Ekron gelê. 53Daarna het die Israeliete teruggekeer van die hakkejag op die Filistyne en hulle kampe geplunder.
54Dawid het die kop van die Filistyn geneem en dit na Jerusalem gebring. Die Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit.
Aanstelling van Dawid as bevelvoerder
55 Net toe Saul sien dat Dawid uitgaan om die Filistyn aan te durf, het hy vir Abner, die bevelvoerder van die leër gevra: “Wie se seun is hierdie jong man, Abner?” Abner het geantwoord: “So waar as wat u leef, o koning, ek weet nie!” 56Die koning sê toe: “Vra jý wie se seun die jongeling is.”
57Net toe Dawid terugkom nadat hy die Filistyn verslaan het, het Abner hom geneem en hom voor Saul gebring. Die kop van die Filistyn was nog in sy hand. 58Saul vra toe vir hom: “Wie se seun is jy, jong man?” Dawid het geantwoord: “Die seun van u dienaar Isai, uit Betlehem.”

Tans Gekies:

1 Samuel 17: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid