1 Konings 21:1-16

1 Konings 21:1-16 AFR20

Hierna het die volgende gebeur: Nabot, 'n man van Jisreël, het 'n wingerd gehad in Jisreël langs die paleis van Agab, koning van Samaria. Agab praat toe met Nabot en sê: “Gee vir my jou wingerd, sodat dit my groentetuin kan word, want dit is reg langs my paleis. Ek sal vir jou in die plek daarvan 'n wingerd gee wat beter is as dié een. Of, as jy dit verkies, sal ek vir jou die prys daarvoor in silwer betaal.” Maar Nabot het Agab geantwoord: “Mag die HERE my daarvan weerhou dat ek ooit die erfgrond van my voorgeslagte aan u gee! ” Agab is toe huis toe, nors en tierend oor die antwoord wat Nabot, die man van Jisreël, hom gegee het toe hy gesê het: “Ek sal nie die erfgrond van my voorouers vir u gee nie.” Hy het op sy bed gaan lê, sy gesig weggedraai en niks geëet nie. Isebel, sy vrou, het na hom gekom en vir hom gevra: “Nou hoekom is jy so nors en eet jy niks?” Hy sê toe vir haar: “Omdat ek met Nabot, die man van Jisreël, gepraat en vir hom gesê het, ‘Verkoop aan my jou wingerd vir silwer; of as jy wil, sal ek self vir jou 'n wingerd in die plek daarvan gee;’ maar hy het my geantwoord, ‘Ek sal nie vir jou my wingerd gee nie.’ ” Daarop sê sy vrou Isebel vir hom: “Jy is tog nou die een wat heerskappy voer oor Israel! Staan op, eet iets en laat jou hart vrolik wees. Ék sal vir jou die wingerd van Nabot, die man van Jisreël, gee.” Sy skryf toe briewe in die naam van Agab, verseël dit met sy rolseël en stuur die briewe aan die oudstes en hoëlui wat in sy dorp was, wat saam met Nabot gewoon het. In die briewe het sy geskryf: Roep 'n vasdag uit, en laat Nabot voor tussen die mense sit. Laat twee manne, booswigte, teenoor hom sit en teen hom getuig: “Jy het God en die koning gevloek! ” Neem hom dan uit die dorp en stenig hom, sodat hy sterf. Die manne van sy dorp, die oudstes en hoëlui wat in sy dorp gewoon het, het toe opgetree ooreenkomstig die boodskap wat Isebel vir hulle gestuur het, net soos geskryf is in die briewe wat sy vir hulle gestuur het. Hulle het 'n vasdag uitgeroep en Nabot voor tussen die mense laat sit. Die twee manne, die booswigte, kom toe en gaan sit teenoor hom. Die booswigte getuig toe voor die mense teen Nabot en sê: “Nabot het God en koning gevloek.” Hulle neem toe vir Nabot uit die dorp uit en gooi hom met klippe; en hy het gesterf. Daarna laat weet hulle vir Isebel: “Nabot is gestenig en hy is dood.” Toe Isebel hoor dat Nabot gestenig is en gesterf het, gaan sê sy dadelik vir Agab: “Staan op! Neem Nabot, die man van Jisreël, se wingerd in besit wat hy geweier het om aan jou te verkoop, want Nabot leef nie meer nie, ja, hy is dood.” Toe Agab hoor dat Nabot dood is, het hy dadelik opgestaan om af te gaan na Nabot, die man van Jisreël, se wingerd, om dit in besit te neem.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid