1 KONINGS 21:1-16

1 KONINGS 21:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hierna het die volgende gebeur: Nabot die Jisreëliet het in Jisreël 'n wingerd gehad langs die paleis van koning Agab van Samaria. Agab het met Nabot gaan praat en vir hom gesê: “Gee jou wingerd vir my vir 'n kruietuin, want dit lê net langs my huis; dan gee ek jou 'n beter wingerd in die plek daarvan. Of as jy wil, sal ek jou daarvoor betaal.” Maar Nabot het vir Agab geantwoord: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek die erfgrond van my voorouers ooit aan u sou afstaan!” Hierop het Agab bedruk en kwaad huis toe gegaan omdat Nabot die Jisreëliet vir hom gesê het: “Ek sal nooit die erfgrond van my familie aan u afstaan nie.” Hy het op sy bed gaan lê met sy gesig na die muur toe en hy wou niks eet nie. Toe kom sy vrou Isebel na hom toe en vra vir hom: “Wat is jy so bedruk dat jy niks wil eet nie?” Hy vertel haar toe: “Ek het met Nabot die Jisreëliet gepraat en vir hom gesê: ‘Verkoop jou wingerd aan my, of as jy wil, sal ek jou 'n ander wingerd in die plek daarvan gee.’ Maar hy het gesê: Ek sal nooit my wingerd aan jou afstaan nie.” Toe sê sy vrou Isebel vir hom: “Jy is mos die een wat oor Israel regeer! Gaan eet nou en moet jou nie bekommer nie. Ék sal die wingerd van Nabot die Jisreëliet vir jou gee.” Sy skryf toe briewe in die naam van Agab en sit sy seëlafdruk daarop, en sy stuur die briewe aan die leiers en die ampsdraers van Nabot se stad. Sy het geskryf: “Kondig 'n vasdag aan en laat Nabot heel voor in die vergadering sit. Laat twee gewetelose manne teenoor hom sit en laat hulle teen hom getuig: ‘Jy het 'n vloek uitgespreek teen God en teen die koning.’ Vat hom dan uit en gooi hom met klippe dood.” Die leiers en die ampsdraers in Nabot se stad het toe gedoen soos Isebel hulle beveel het in die briewe wat sy aan hulle gestuur het. Hulle het 'n vasdag aangekondig en vir Nabot heel voor in die vergadering laat sit. Toe kom sit daar twee gewetelose manne teenoor hom en hulle getuig teen Nabot in die vergadering en sê: “Nabot het 'n vloek uitgespreek teen God en teen die koning.” Daarop vat hulle vir Nabot uit die stad uit en gooi hom met klippe dood. Hierna het hulle vir Isebel laat weet: “Nabot is met klippe doodgegooi.” Toe Isebel hoor Nabot is doodgegooi, sê sy vir Agab: “Gaan vat nou die wingerd van Nabot die Jisreëliet, wat hy nie aan jou wou verkoop nie. Nabot leef nie meer nie, hy is dood.” Toe Agab hoor Nabot is dood, het hy klaargemaak om Nabot die Jisreëliet se wingerd vir hom te vat.

1 KONINGS 21:1-16 Bybel vir almal (ABA)

Daar het 'n tyd verbygegaan nadat hierdie dinge gebeur het. Nabot van Jisreël het 'n wingerd gehad voor die paleis van koning Agab van Samaria. Agab het met Nabot gepraat en gesê: “Gee vir my jou wingerd. Ek sal vir jou 'n beter wingerd gee, of as jy wil, dan sal ek vir jou geld gee daarvoor. Ek wil daar 'n kruie-tuin maak, want dit is naby, dit is voor my paleis.” Maar Nabot het vir Agab gesê: “Die Here moet my keer as ek dit wil doen. Ek sal nooit vir jou die grond gee wat ek van my voorvaders gekry het nie.” Toe Agab by die huis kom, was hy moedeloos en kwaad omdat Nabot van Jisreël vir hom gesê het hy sal nie vir hom die grond gee wat hy van sy voorvaders gekry het nie. Agab het op sy bed gaan lê en hy het sy gesig na die muur gedraai. Hy wou nie eet nie. Sy vrou Isebel kom toe by hom en vra vir hom: “Hoekom is jy moedeloos en hoekom eet jy nie?” Hy sê toe vir haar: “Ek het met Nabot van Jisreël gaan praat en vir hom gevra: Gee vir my jou wingerd, ek sal jou betaal, of as jy wil, sal ek vir jou 'n ander wingerd gee. Maar hy het gesê nee, hy sal nie sy wingerd vir my gee nie.” Agab se vrou Isebel sê toe vir hom: “Jy is die koning van Israel. Staan op en eet en wees vrolik. Ek sal 'n plan maak sodat jy Nabot van Jisreël se wingerd kan kry.” Isebel skryf toe briewe en sy sit Agab se naam en sy seël daarop. Toe stuur sy die briewe na die leiers en die amptenare wat saam met Nabot in sy stad gewoon het. In die briewe het sy geskryf: “Julle moet 'n vasdag hou en julle moet vir Nabot voor die mense laat sit. Julle moet twee manne wat kan jok voor Nabot laat sit. Hulle moet sê Nabot het God en die koning vervloek, en hulle moet sê hulle is getuies dat hy dit gedoen het. Dan moet julle vir Nabot buitetoe neem en julle moet hom doodgooi met klippe.” Die leiers en die amptenare wat saam met Nabot in sy stad gewoon het, het gedoen wat Isebel vir hulle geskryf het in die briewe wat sy vir hulle gestuur het. Hulle het 'n vasdag gehou en hulle het vir Nabot voor die mense laat sit. Hulle het twee manne gebring wat kan jok en hulle het die manne voor Nabot laat sit. Die twee manne het toe gepraat teen Nabot en hulle het gesê Nabot het God en die koning vervloek. Toe het hulle vir Nabot uit die stad geneem en hulle het hom doodgegooi met klippe. Hulle het vir Isebel laat weet dat hulle vir Nabot doodgegooi het met klippe. Toe Isebel dit hoor, het sy vir Agab gesê: “Nabot lewe nie meer nie, hy is dood. Nou kan jy Nabot se wingerd gaan vat wat hy nie aan jou wou verkoop nie.” Toe Agab hoor dat Nabot dood is, het hy gereedgemaak om na die wingerd van Nabot van Jisreël te gaan om dit vir hom te vat.

1 KONINGS 21:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN ná hierdie dinge het dít gebeur: Nabot, 'n Jisreëliet, het in Jísreël 'n wingerd gehad, wat langs die paleis van Agab, die koning van Samaría, was. En Agab het met Nabot gespreek en gesê: Gee my jou wingerd, dat dit my groentetuin kan word, want dit is naby, langsaan my huis; dan sal ek jou in die plek daarvan 'n wingerd gee wat beter is; of as dit goed is in jou oë, sal ek jou die koopprys daarvan in silwer gee. Maar Nabot het vir Agab gesê: Mag die HERE my daarvoor bewaar dat ek die erfdeel van my vaders aan u sou gee! Toe kom Agab in sy huis, verbitterd en toornig oor die woord wat Nabot, die Jisreëliet, met hom gespreek het, naamlik: Ek mag nie die erfdeel van my vaders aan u gee nie. En hy het op sy bed gaan lê en sy gesig omgedraai en geen brood geëet nie. Daarop kom sy vrou Isébel by hom en sê vir hom: Waarom is jou gees dan so verbitterd dat jy geen brood eet nie? En hy antwoord haar: Omdat ek met Nabot, die Jisreëliet, gespreek en aan hom gesê het: Gee my jou wingerd vir geld, of as jy wil, sal ek jou 'n wingerd in die plek daarvan gee — maar hy het gesê: Ek mag my wingerd nie aan u gee nie. Toe sê sy vrou Isébel vir hom: Oefen jý nou die koningskap oor Israel uit? Staan op, eet brood, en laat jou hart vrolik wees: ek sal jou die wingerd van Nabot, die Jisreëliet, gee. Daarop het sy briewe in die naam van Agab geskrywe en met sy seël dit verseël en die brief gestuur aan die oudstes en die edeles wat in sy stad was, wat by Nabot gewoon het. En in die briewe het sy dit geskrywe: Roep 'n vasdag uit, en sit Nabot vooraan onder die volk; en sit twee manne, deugniete, teenoor hom, wat teen hom getuig en sê: Jy het God en die koning gevloek! Lei hom dan uit en stenig hom, dat hy sterwe. Die manne van sy stad, die oudstes en die edeles wat in sy stad gewoon het, maak toe soos Isébel hulle laat weet het, soos geskrywe was in die briewe wat sy aan hulle gestuur het. Hulle het 'n vasdag uitgeroep en Nabot vooraan onder die volk gesit. Toe kom die twee manne, deugniete, en gaan sit teenoor hom; en die deugniete het teen hom, teen Nabot, voor die volk getuig en gesê: Nabot het God en die koning gevloek. Daarop lei hulle hom buitekant die stad uit en stenig hom, sodat hy gesterf het. Daarna laat hulle Isébel weet: Nabot is gestenig en is dood. Net toe Isébel hoor dat Nabot gestenig en dood was, sê Isébel vir Agab: Staan op, neem die wingerd van Nabot, die Jisreëliet, in besit wat hy geweier het om vir geld aan jou te gee; want Nabot leef nie, maar is dood. Net toe Agab hoor dat Nabot dood was, het Agab opgestaan om na die wingerd van Nabot, die Jisreëliet, af te gaan om dit in besit te neem.

1 KONINGS 21:1-16 Die Boodskap (DB)

Nabot het in Jisreël gewoon. Hy het ’n baie mooi wingerd gehad. Dit was langs die paleis in Jisreël. Agab het sommer baie van die wingerd gehou. Op ’n dag het Agab na Nabot toe gegaan en vir hom gesê: “Jou wingerd is mooi. Dit is ook amper teenaan my paleis. Verkoop dit asseblief aan my, want ek wil ’n groentetuin daarvan maak. Ek sal jou ’n beter wingerd gee of jou betaal. Sê net hoeveel jy wil hê.” Nabot het hom geantwoord: “Ongelukkig kan ek dit nie verkoop nie, U Majesteit. Dit is ’n stuk grond wat ek geërf het en wat al lank deel van my familie is. Dit sal teen die wil van die Here wees as ek dit verkoop.” Agab is toe terug huis toe, maar hy was baie bedruk en ongelukkig omdat Nabot nie sy wingerd wou verkoop nie. Hy het kwaad op die bed gaan lê en heeltyd na die muur lê en kyk. Hy wou ook niks eet nie. Sy vrou Isebel het hom kom vra: “Wat is fout? Hoekom eet jy nie?” “Nabot wil nie sy wingerd aan my verkoop nie,” het Agab gesê. “Ek het aangebied om hom te betaal of ’n ander wingerd vir hom te gee, maar hy wou niks weet nie.” Isebel vra Agab toe: “Wie is die koning hier? Jy of Nabot? Staan op, eet en word vrolik, want ek sal sorg dat jy Nabot se wingerd kry.” Isebel het toe ’n klomp briewe in Agab se naam geskryf en sy seël daarop afgedruk. Sy het dit na al die belangrike mense in Jisreël gestuur. In die briewe het sy gesê: “Roep ’n vasdag uit, laat al die mense bymekaarkom en laat Nabot voor by die belangrike mense sit. Kry twee booswigte wat aan weerskante van Nabot gaan sit. Laat hulle dan voor almal sê dat Nabot God en die koning gevloek het. Vat hom dan tot buite die stad en gooi hom met klippe dood.” Jisreël se leiers het gedoen wat Isebel beveel het. Hulle het ’n vasdag uitgeroep en vir Nabot voor laat sit. Twee booswigte het voor almal getuig dat Nabot God en die koning gevloek het. Toe het hulle Nabot gevat en hom met klippe doodgegooi. Jisreël se leiers het Isebel toe laat weet dat haar bevele uitgevoer is en dat Nabot dood is. Toe Isebel die nuus hoor, is sy na Agab toe. “Nabot is dood,” het sy gesê. “Gaan vat sy wingerd wat hy nie aan jou wou verkoop nie, want dit is nou joune.” Agab was so bly dat hy onmiddellik na Nabot van Jisreël se wingerd gegaan het om dit op sy naam te kry.”

1 KONINGS 21:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hierna het die volgende gebeur: Koning Agab van Samaria het ’n paleis in Jisreël gehad. Langs die paleis was ’n wingerd wat aan Nabot die Jisreëliet behoort het. Op ’n dag sê Agab vir Nabot: “Aangesien jou wingerd net langs die paleis is, wil ek dit graag van jou koop vir ’n groentetuin. Ek sal vir jou ’n beter wingerd in ruil gee. Anders kan ek jou daarvoor betaal.” Maar Nabot het Agab geantwoord: “Mag die HERE verhoed dat ek die erfgrond van my voorouers vir u gee.” Agab het huis toe gegaan en was bedruk en woedend oor Nabot se antwoord. Hy het op sy bed gaan lê met sy gesig na die muur toe en wou niks eet nie. “Wat gaan met jou aan?” vra sy vrou Isebel vir hom. “Wat het jou dan so ontstel dat jy niks wil eet nie?” “Ek het vir Nabot gevra om sy wingerd aan my te verkoop of dit met ’n ander wingerd te ruil, maar hy het geweier!” sê Agab vir haar. “Hy het gesê hy sal dit nooit vir my gee nie.” “Is jy koning van Israel of nie?” vra Isebel. “Staan nou op en eet en moenie jou verder daaroor bekommer nie. Ek sal Nabot die Jisreëliet se wingerd vir jou kry!” Sy skryf toe briewe namens Agab, plaas sy seël daarop en stuur dit aan die oudstes en leiers van die stad waar Nabot gewoon het. In haar brief het sy beveel: “Kondig ’n vasdag af en laat Nabot op ’n prominente plek sit. Laat twee gewetenlose manne teenoor hom gaan sit en laat hulle hom aankla: ‘Jy het God en die koning gevloek!’ Vat hom dan weg en stenig hom.” Die oudstes en leiers het toe so gemaak soos Isebel in die brief geskryf het wat sy vir hulle gestuur het. Hulle het ’n vasdag afgekondig en Nabot voor in die byeenkoms laat sit. Twee gewetenlose manne het toe ingekom, teenoor hom gaan sit en Nabot voor al die mense aangekla: “Jy het God en die koning gevloek.” Hulle het hom toe uit die stad gesleep en met klippe doodgegooi. Hulle laat weet toe vir Isebel: “Nabot is met klippe doodgegooi.” Toe Isebel die nuus kry, sê sy vir Agab: “Staan op en gaan lê beslag op die wingerd wat Nabot nie aan jou wou verkoop nie. Jy kan dit maar kry, want hy is dood!” Agab het dadelik na die wingerd toe gegaan en dit vir hom gevat.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid