1 Konings 2:13-47

1 Konings 2:13-47 AFR20

Adonia, seun van Gaggit, het na Batseba, die moeder van Salomo, gekom. Sy het gevra: “Beteken jou koms vrede?” Hy het geantwoord: “Ja, vrede!” Hy sê toe: “Ek wil graag 'n woord met u praat.” Sy het gesê: “Praat!” Hy sê toe: “U weet self dat die koningskap my toekom, en dat die hele Israel se oë op my gerig was om koning te word. Die koningskap het egter oorgegaan na my broer, omdat dit deur die HERE vir hom bedoel was. Nou is daar egter een guns wat ek van u vra; moet my dit nie weier nie.” Sy het vir hom gesê: “Praat!” Hy sê toe: “Praat asseblief met koning Salomo, want hy sal u dit nie weier nie, om Abisag uit Sunem vir my as vrou te gee.” Daarop sê Batseba: “Goed, ek sal oor jou met die koning praat.” Batseba gaan toe na koning Salomo om oor Adonia met hom te praat. Die koning het opgestaan, haar tegemoetgegaan en diep voor haar gebuig. Hy het op sy troon gaan sit en vir die koninginmoeder 'n troon laat neersit, en sy het aan sy •regterhand gaan sit. Sy sê toe: “Daar is een klein gunsie wat ek van jou wil vra – moet my dit nie weier nie.” Die koning het vir haar gesê: “Vra gerus, moeder, want ek sal u dit nie weier nie.” Daarop sê sy: “Laat Abisag, uit Sunem, aan Adonia, jou broer, as vrou gegee word.” Koning Salomo het geantwoord en vir sy moeder gesê: “En waarom vra u Abisag, uit Sunem, vir Adonia? Vra dan maar die koningskap ook vir hom, want hy is mos my broer wat ouer is as ek – ja, vir hom en vir Abjatar, die priester, en vir Joab, seun van Seruja.” Toe sweer Salomo by die HERE en sê: “Mag God my swaar straf as Adonia nie hierdie woord ten koste van sy lewe gespreek het nie. Daarom, so waar as die HERE leef, wat my aangestel en my op die troon van my vader Dawid laat sit het, en wat vir my 'n koningshuis voorsien het soos Hy beloof het: Vandag nog word Adonia om die lewe gebring!” Koning Salomo het dit aan Benaja, seun van Jojada, opgedra. Hy het Adonia aangeval, en hy het gesterf. Vir Abjatar, die priester, het die koning gesê: “Na Anatot moet jy gaan, na jou grond, want jy verdien die dood; maar vandag sal ek jou nie doodmaak nie, omdat jy die ark van die HERE, my Heer, voor my vader Dawid gedra het, en omdat jy jou onderwerp het aan al die vernedering wat my vader moes deurmaak. ” Salomo het Abjatar verdryf, sodat hy nie meer priester van die HERE was nie, om so die woord van die HERE te vervul wat Hy in Silo oor die huis van Eli aangekondig het. Die berig het Joab bereik, want Joab het hom by Adonia geskaar, alhoewel hy hom nie by Absalom geskaar het nie. Joab vlug toe na die tent van die HERE en gryp die horings van die altaar vas. Aan koning Salomo is berig gebring: “Joab het gevlug na die tent van die HERE. Kyk, hy is daar langs die altaar!” Salomo stuur toe vir Benaja, seun van Jojada, met die opdrag: “Gaan val hom aan!” Benaja het by die tent van die HERE aangekom en vir Joab gesê: “So sê die koning, ‘Kom uit!’ ” Maar hy het gesê: “Nee, want hier wil ek sterf!” Benaja het toe aan die koning verslag gelewer: “Dit is wat Joab gesê het, en dit is wat hy my geantwoord het.” Die koning sê toe vir hom: “Doen dan wat hy gesê het. Val hom aan en begrawe hom, en verwyder so die bloed van my en my familie wat Joab sonder rede gestort het. Mag die HERE sy bloed op sy eie kop laat neerkom, hy wat twee manne, regverdiger en beter as hy, aangeval en met die swaard vermoor het sonder my vader Dawid se medewete: Abner, seun van Ner, die bevelvoerder van die leër van Israel, en Amasa, seun van Jeter, die bevelvoerder van die leër van Juda. Mag hulle bloed neerkom op die kop van Joab en op die kop van sy nageslag vir altyd; maar mag daar vir Dawid en sy nageslag, sy huis en sy troon vir altyd voorspoed wees van die kant van die HERE.” Benaja, seun van Jojada, het toe gegaan, hom aangeval en hom doodgemaak. Hy is begrawe by sy huis in die woestyn. Die koning het Benaja, seun van Jojada, daarna in sy plek aangestel oor die leër, en die koning het Sadok, die priester, aangestel in die plek van Abjatar. Die koning het Simeï toe ontbied en vir hom gesê: “Bou vir jou 'n huis in Jerusalem en woon daar. Maar jy mag nie uit die stad uitgaan nie, nêrens heen nie. En die dag wanneer jy uitgaan en die Kidrondal oorsteek – wees doodseker daarvan dat jy dan beslis sal sterf. Jou bloed sal op jou eie kop wees. ” Daarop het Simeï vir die koning gesê: “Die voorwaarde wat my heer die koning stel, is goed; u dienaar sal so maak.” Simeï het toe vir 'n lang tyd in Jerusalem gebly; maar ná verloop van drie jaar het twee slawe wat aan Simeï behoort, weggeloop na Agis, seun van Maäga, die koning van Gat. Aan Simeï is berig gebring: “Kyk, jou slawe is in Gat.” Simeï het toe gereedgemaak, sy donkie opgesaal en na Gat, na Agis, gegaan om sy slawe te soek. So het Simeï dan gegaan en sy slawe teruggebring uit Gat. Salomo is ingelig dat Simeï uit Jerusalem na Gat gegaan en teruggekeer het. Die koning het Simeï ontbied. Hy sê toe vir hom: “Het ek jou nie by die HERE laat sweer en jou gewaarsku, ‘Die dag wanneer jy uitgaan en êrens heen vertrek, moet jy doodseker daarvan wees dat jy beslis sal sterf’ nie? Jy het nog vir my gesê, ‘Die voorwaarde is goed, ek sal luister.’ Waarom het jy nie die eed voor die HERE nagekom, en ook die bevel wat ek jou opgelê het nie?” Die koning het ook vir Simeï gesê: “Jy weet self van al die kwaad, waarvan jy diep in jou hart bewus is, wat jy my vader Dawid aangedoen het. Die HERE laat al jou boosheid op jou eie kop neerkom. Maar koning Salomo is geseënd, en die troon van Dawid sal vir altyd voor die HERE gevestig bly.” Die koning het toe vir Benaja, seun van Jojada, opdrag gegee. Hy het uitgegaan en Simeï aangeval, en hy het gesterf. Die koningskap was toe stewig in die hand van Salomo.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Konings 2:13-47

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid