1 KONINGS 2:13-47

1 KONINGS 2:13-47 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe kom Adónia, die seun van Haggit, na Bátseba, die moeder van Salomo, en sy vra: Is jou koms vrede? En hy antwoord: Vrede. Verder sê hy: Ek het 'n woord vir u. En sy antwoord: Spreek. En hy sê: Ú weet dat die koningskap myne was en die hele Israel sy aangesig op my gerig het, dat ek koning sou word; maar die koningskap het oorgegaan en my broer s'n geword, want deur die HERE was dit vir hom bestem. En nou doen ek een versoek aan u; wys my nie af nie. En sy antwoord hom: Spreek. Toe sê hy: Spreek tog met koning Salomo, want hy sal u nie afwys nie, dat hy Abísag, die Sunamitiese, aan my as vrou moet gee. En Bátseba sê: Goed, ék sal met die koning oor jou spreek. Toe Bátseba dan ingaan na koning Salomo om met hom oor Adónia te spreek, het die koning opgestaan om haar te ontmoet en voor haar gebuig; daarna het hy op sy troon gaan sit en vir die moeder van die koning 'n stoel laat neersit, en sy het aan sy regterhand plaas geneem. Toe sê sy: Een klein versoek doen ek aan u; wys my nie af nie. En die koning antwoord haar: Vra, my moeder, want ek sal u nie afwys nie. En sy sê: Laat Abísag, die Sunamitiese, aan u broer Adónia as vrou gegee word. Daarop antwoord koning Salomo en sê aan sy moeder: Maar waarom vra u Abísag, die Sunamitiese, vir Adónia? Vra ook die koningskap vir hom, want hy is my broer wat ouer is as ek, ja, vir hom en vir Ábjatar, die priester, en vir Joab, die seun van Serúja! En koning Salomo het gesweer by die HERE en gesê: Mag God so aan my doen en so daaraan toedoen — sekerlik, Adónia het hierdie woord ten koste van sy lewe gespreek. En nou, so waar as die HERE leef wat my bevestig het en my op die troon van my vader Dawid laat sit en vir my 'n huis gestig het volgens sy belofte — Adónia sal sekerlik vandag gedood word! Daarop het koning Salomo gestuur deur die diens van Benája, die seun van Jójada; en dié het op hom aangeval, sodat hy gesterf het. En vir Ábjatar, die priester, sê die koning: Gaan na Ánatot op jou grond, want jy verdien die dood; maar vandag sal ek jou nie doodmaak nie, omdat jy die ark van die Here HERE voor my vader Dawid uit gedra het en omdat jy deelgenoot was van alles wat my vader gely het. So het Salomo dan Ábjatar verdrywe, sodat hy nie meer priester van die HERE was nie, om die woord van die HERE te vervul wat Hy oor die huis van Eli in Silo gespreek het. Toe die gerug by Joab kom — want Joab was aan die kant van Adónia, alhoewel hy nie aan die kant van Absalom was nie — het Joab gevlug na die tent van die HERE en die horings van die altaar vasgehou. En aan koning Salomo is meegedeel: Joab het gevlug na die tent van die HERE, en kyk, daar is hy by die altaar! Toe laat Salomo aan Benája, die seun van Jójada, weet: Gaan heen, val op hom aan. Daarop het Benája by die tent van die HERE gekom en vir hom gesê: So spreek die koning: Kom uit. Maar hy sê: Nee, want hier wil ek sterf. En Benája het die koning 'n antwoord gebring en gesê: Só het Joab gespreek, en só het hy my geantwoord. Toe beveel die koning hom: Doen soos hy gespreek het: val op hom aan, en begrawe hom, sodat jy die onskuldige bloed wat Joab vergiet het, van my en my vader se huis af verwyder; en dat die HERE sy bloed op sy eie hoof laat neerkom, omdat hy op twee manne, regverdiger en beter as hy, aangeval en hulle met die swaard vermoor het sonder medewete van my vader Dawid: Abner, die seun van Ner, die leërowerste van Israel, en Amása, die seun van Jeter, die leërowerste van Juda; en dat hulle bloed op die hoof van Joab en op die hoof van sy nageslag vir ewig kan neerkom, maar Dawid en sy nageslag en sy huis en sy troon vrede kan hê van die HERE tot in ewigheid. Toe het Benája, die seun van Jójada, opgegaan en op hom aangeval en hom gedood; en hy is begrawe in sy huis in die woestyn. Daarop het die koning Benája, die seun van Jójada, in sy plek oor die leër aangestel; en Sadok, die priester, het die koning aangestel in die plek van Ábjatar. Verder het die koning Símeï laat roep en vir hom gesê: Bou vir jou 'n huis in Jerusalem, en jy moet daar woon en mag daarvandaan nie uitgaan, nêrens heen nie; die dag dat jy uitgaan en oor die spruit Kidron trek, moet jy voorwaar weet dat jy sekerlik sal sterwe; jou bloed sal op jou hoof wees. En Símeï sê vir die koning: Dit is goed; soos my heer die koning gespreek het, so sal u dienaar doen. En Símeï het baie dae in Jerusalem gebly. Maar aan die einde van drie jaar het twee van Símeï se slawe weggeloop na Agis, die seun van Máäga, die koning van Gat; en aan Símeï is meegedeel en gesê: Jou slawe is daar in Gat. Toe maak Símeï klaar en saal sy esel op en vertrek na Gat, na Agis toe, om sy slawe te soek; en Símeï het gegaan en sy slawe van Gat af gebring. Maar aan Salomo is meegedeel dat Símeï uit Jerusalem na Gat weggegaan en teruggekom het. Daarop laat die koning Símeï roep, en hy sê vir hom: Het ek jou nie by die HERE besweer en jou gewaarsku nie en gesê: Die dag dat jy uitgaan en êrens heen trek, moet jy voorwaar weet dat jy sekerlik sal sterwe? En jy het aan my gesê: Dit is goed; ek het gehoor. Waarom het jy dan die eed by die HERE en die gebod wat ek jou opgelê het, nie gehou nie? Verder sê die koning vir Símeï: Jy ken self al die boosheid waar jou hart van weet, wat jy my vader Dawid aangedoen het; daarom laat die HERE jou boosheid op jou eie hoof neerkom. Maar mag koning Salomo geseënd wees en die troon van Dawid bevestig word voor die aangesig van die HERE tot in ewigheid! Daarop gee die koning bevel aan Benája, die seun van Jójada: dié het uitgegaan en op hom aangeval, sodat hy gesterf het. En die koningskap is bevestig in die hand van Salomo.

1 KONINGS 2:13-47 Afrikaans 1983 (AFR83)

Adonia seun van Gaggit het na Batseba, Salomo se ma, toe gegaan. Sy het vir hom gevra: “Kom jy in vrede?” “Ja,” sê hy, “ek kom net met u praat.” “Praat maar,” sê sy. Hy sê toe: “U weet self dat die koningskap myne sou word, en dat die hele Israel na my opgesien het om te regeer. Maar dit het anders verloop, die Here het dit so bestem dat my broer koning geword het. Ek wil u nou net een guns vra, en u moet my dit nie weier nie.” “Vra maar,” sê sy. “Koning Salomo sal mos na u luister,” sê hy toe. “Vra hom asseblief dat hy vir my die Sunemmitiese meisie Abisag as vrou gee.” “Goed,” sê Batseba, “ek sal jou versoek aan die koning oordra.” Toe Batseba by koning Salomo binnekom om Adonia se versoek te gaan stel, het Salomo opgestaan en voor haar gebuig. Hy gaan toe weer op sy troon sit en laat vir die koninginmoeder 'n stoel aan sy regterkant naderbring om op te sit. Sy sê: “Ek wil 'n klein gunsie van jou vra. Moet my dit nie weier nie.” “My ma kan maar vra, ek sal nie vir haar nee sê nie,” het hy geantwoord. Sy sê toe: “Laat jou broer Adonia tog vir Abisag die Sunemmitiese meisie as vrou kry.” Toe sê koning Salomo vir sy ma: “Hoekom vra u dat hy vir Abisag moet kry? U kan dan net so wel die hele koningskap vir hom vra, want hy is my ouer broer, en die priester Abjatar en Joab seun van Seruja steun hom!” Toe het koning Salomo 'n eed voor die Here afgelê: “Mag God my met die dood straf as Adonia nie met sy lewe hiervoor boet nie! So seker as die Here leef, Hy wat my koning laat word het en my die troon van my pa laat bestyg het, en vir my 'n koningshuis gevestig het soos Hy beloof het, net so seker moet Adonia vandag nog dood!” Koning Salomo het vir Benaja seun van Jojada gestuur en dié het vir Adonia om die lewe gebring. Vir die priester Abjatar het die koning gesê: “Gaan na jou grond toe by Anatot! Jy moes eintlik ook doodgemaak gewees het, maar ek sal jou nie nou doodmaak nie, omdat jy die ark van die Here voor my pa uit gedra het, en omdat jy soveel saam met hom deurgemaak het.” Salomo het vir Abjatar ontslaan, sodat hy nie meer priester van die Here was nie. So het die oordeel wat die Here by Silo oor Eli se nageslag uitgespreek het, in vervulling gegaan. Joab, wat 'n ondersteuner van Adonia was maar nie destyds vir Absalom gesteun het nie, het hiervan te hore gekom. Hy het na die heiligdom van die Here toe gevlug en daar die horings van die altaar vasgegryp. Toe koning Salomo verneem dat Joab na die heiligdom toe gevlug het en daar by die altaar is, het hy vir Benaja seun van Jojada beveel: “Gaan maak hom dood!” Benaja het na die heiligdom toe gegaan en vir hom gesê: “Die koning sê jy moet uitkom!” Maar hy sê: “Nee, ek wil hiér sterf.” Benaja het toe eers aan die koning gaan rapporteer wat Joab gesê het. Die koning sê toe vir Benaja: “Nes hy wil. Maak hom dood en begrawe hom. So sal jy my en my familie onthef van die blaam vir die moorde wat Joab gepleeg het. Die Here laat hom nou sy verdiende straf kry. Hy het twee manne doodgemaak sonder die medewete van my pa: Abner, seun van Ner en hoof van die leër van Israel, en Amasa, seun van Jitra en hoof van die leër van Juda, albei onskuldiger en beter mense as hy. Laat die skuld vir hulle dood vir altyd op Joab en sy nageslag rus, en mag die Here vir altyd vrede gee aan Dawid en sy nageslag en aan sy hele familie en aan sy troon.” Toe het Benaja seun van Jojada teruggegaan en vir Joab daar aangeval en hom doodgemaak. Hy is begrawe by sy huis in die veld. Koning Salomo het vir Benaja seun van Jojada in Joab se plek aangestel oor die leër, en in die plek van Abjatar het hy vir Sadok as priester aangestel. Die koning het vir Simeï laat haal en vir hom gesê: “Jy mag vir jou 'n huis in Jerusalem bou en hier woon, maar jy mag nie uit die stad gaan nie, dit maak nie saak waarheen nie. Die dag as jy hier uitgaan en jou voete oor Kedronspruit sit, is jy dood. Dit moet jy beslis weet. Dit sal jou eie skuld wees.” Simeï sê toe vir die koning: “Dit is goed so. Ek sal die bevel van die koning eerbiedig.” Simeï het toe 'n hele tyd lank net in Jerusalem gebly, maar na drie jaar het twee van sy slawe weggeloop na koning Akis van Gat, seun van Maok, toe. Toe Simeï hoor dat sy slawe in Gat is, het hy sy donkie opgesaal en na Gat toe gegaan om sy slawe daar by Akis te soek. Simeï het net gegaan en sy slawe uit Gat uit teruggebring, maar toe Salomo hoor dat Simeï uit Jerusalem na Gat toe was en terug is, het hy hom laat kom en vir hom gesê: “Ek het jou dan 'n eed voor die Here laat aflê en jou gewaarsku: ‘Die dag as jy hier uitgaan, dit maak nie saak waarheen nie, is jy dood; dit moet jy beslis weet.’ Jy het nog vir my gesê: ‘Dit is goed so. Ek het gehoor.’ “Waarom het jy jou dan nie aan hierdie eed voor die Here en die bevel wat ek jou gegee het, gehou nie?” Die koning het verder vir Simeï gesê: “Jy weet in jou hart watter leed jy my pa aangedoen het. Mag die Here daardie leed op jou eie kop laat afkom, maar mag dit met my voorspoedig gaan en mag die troon van Dawid vir altyd bestendig wees voor die Here.” Die koning het vir Benaja seun van Jojada gestuur, en dié het vir Simeï doodgemaak. So het Salomo 'n stewige houvas op die koningskap gekry.

1 KONINGS 2:13-47 Die Boodskap (DB)

Op ’n dag het Adonia, die seun van Haggiet, vir Batseba, die ma van Salomo, besoek. “Kom jy in vrede?” het Batseba gevra. “Ja,” het Adonia geantwoord. “Ek wil u iets vra,” het hy voortgegaan. “Wat is dit?” het Batseba gevra. Adonia het gesê: “U weet tog dat ek eintlik koning moes geword het. Baie mense in Israel het ook so gedink, maar toe het dinge anders verloop. My broer het koning geword, want die Here wou dit so gehad het. Ek wil u ’n groot guns vra. Moet dit asseblief nie weier nie.” “Wat is dit, Adonia?” het Batseba gevra. Adonia het keelskoongemaak en toe gevra: “Sal u nie asseblief met koning Salomo praat en hom vra of ek met Abisag, die vrou uit Sunem, mag trou nie? As u hom namens my vra, weet ek hy sal luister.” “Goed,” het Batseba gesê, “ek sal met die koning oor jou versoek gesels.” Batseba het met die koning oor Adonia se versoek gaan praat. Toe sy die vertrek binnekom, het Salomo opgestaan en in eerbied voor sy ma gebuig. Hy het weer op sy troon gaan sit en gesê hulle moet vir sy ma ’n stoel bring. Batseba het aan die regterkant van Salomo gaan sit. Na ’n ruk het Batseba vir Salomo gesê: “Ek kom met ’n klein versoekie en ek hoop jy sal dit nie weier nie.” “Wat is dit, Ma?” het Salomo gesê. “Ek help mos graag.” Batseba sê toe: “Kan jou broer Adonia tog nie maar met Abisag trou nie?” “Wat?” het Salomo gesê. “Hoe kan Ma dit vra? Adonia vra vir Abisag, maar eintlik wil hy my koningskap hê. Hy is my ouer broer. En Abjatar die priester en Joab, die seun van Seruja, is natuurlik kop in een mus met hom. Nee, jammer, Ma, maar Adonia kry nie vir Abisag nie!” Salomo was woedend. Hy sê toe: “Mag die Here my straf as ek Adonia skotvry laat wegkom. Die Here het my koningskap voorspoedig gemaak en almal is aan my getrou. Lank gelede al het die Here my pa beloof dat ek en my kinders oor Israel sal regeer. Daarom sal ek vandag nog sorg dat Adonia vir sy opstand teen die koning boet.” Salomo het toe sy polisiehoof, Benaja, opdrag gegee om Adonia te arresteer en hom oor sy ontrouheid tereg te stel. Salomo het vir Abjatar laat kom en vir hom gesê: “Eintlik verdien jy die dood, maar ek sal jou toelaat om na jou tuisdorp Anatot terug te gaan. Ek spaar jou omdat jy as priester naby aan die Here was toe jy die ark gedra het en omdat jy my pa in al sy swaarkry bygestaan het.” Salomo het Abjatar weggestuur. Hy was nie meer een van die Here se priesters in Jerusalem nie. So het die woorde van die Here in verband met die ondergang van Eli en sy kinders se priesterskap in Silo waar geword. Toe Joab hoor wat gebeur het, het hy baie bang geword, want hy het Adonia ondersteun. Destyds was hy aan Dawid se kant teen Absalom, maar nou het hy vir Adonia gekies. In sy angs het Joab na die tent waar die Here teenwoordig was, gevlug en krampagtig aan die hoeke van die altaar vasgeklou. Toe Salomo hoor Joab het na die tent gevlug en hou wanhopig aan die altaar se hoeke in die tent vas, het hy iemand na Joab toe gestuur. Hy moes uitvind waarom Joab na die tent toe gevlug het. Joab het gesê dat hy uit vrees vir Salomo na die Here gevlug het. Toe hy dit hoor, het Salomo Benaja ontbied. “Gaan maak hom dood,” het Salomo vir Benaja gesê. Benaja is na die tent toe en het vir Joab gesê: “Die koning sê jy moet buitentoe kom.” “Nooit nie,” het Joab gesê. “As ek dan moet sterf, sterf ek net hier.” Benaja is daar weg en het die koning alles vertel wat Joab gesê het. “Doen dan wat Joab sê jy moet doen,” het Salomo geantwoord. “Maak hom daar op die plek dood en begrawe hom dan. Ek en my pa se kinders sal dan nie meer verantwoordelik gehou kan word vir Joab se moord op twee van my pa se generaals nie. Met Joab sal presies gebeur wat hy destyds met Abner, die hoof van Israel se leër, en Amasa, die hoof van Juda se troepemag, gedoen het. Sonder my pa se medewete het hy twee onskuldige mense doodgemaak. Joab se nageslag sal vir ewig die gevolge van hierdie verraderlike moord moet dra. Die Here sal egter altyd naby die kinders van Dawid wees wat oor Israel regeer.” Benaja is onmiddellik na die tent toe. Hy het Joab net daar doodgemaak en hom by sy huis in die woestyn laat begrawe. Salomo het Benaja in die plek van Joab as hoof van die leër aangestel terwyl Sadok, die priester, Abjatar se take oorgeneem het. Daarna het Salomo Simeï laat kom en vir hom gesê: “Jy kan vir jou ’n huis in Jerusalem bou, maar jy mag nooit die stad verlaat nie. As jy ooit buite Jerusalem gaan of selfs maar deur die stroompie hier onder in die Kidrondal loop, is jy dood. En dit sal dan jou eie skuld wees.” “Dit is goed so, U Majesteit,” het Simeï geantwoord. “Ek sal maak soos u sê.” Simeï het in Jerusalem gaan woon en ’n lang tyd daar gebly. Drie jaar later het twee van Simeï se slawe weggeloop. Hulle het vir Akis, die seun van Maok en die koning van Gat, vir meer geld gaan werk. Toe Simeï hiervan hoor, was hy woedend. Sonder om verder te dink het hy sy donkies gepak en is na koning Akis toe in Gat. Hy wou ten alle koste sy slawe terugkry. Toe Salomo hiervan hoor, was die gort gaar. Hy het Simeï laat kom en gesê: “Jy het my voor die Here beloof dat jy Jerusalem nooit sal verlaat nie. Ek het jou gewaarsku as dit gebeur, gaan jy met jou lewe betaal. Het jy nie destyds ingestem en gesê dat jy my bevel sal gehoorsaam nie? “Hoekom het jy nie jou belofte nagekom nie? Waarom was jy ontrou? “Jy onthou nog al die slegte dinge wat jy vir my pa gesê het. Hiervoor gaan die Here jou vandag straf. Met jou sal dit van nou af net sleg gaan. Die Here sal egter by my wees en Hy sal Dawid se troon tot in ewigheid beskerm.” In opdrag van Salomo het Benaja Simeï by sy huis gaan doodmaak. Salomo was nou volkome in beheer van die hele land.

1 KONINGS 2:13-47 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Op ’n dag kom Adonia seun van Dawid en Gaggit na Batseba, Salomo se ma, toe. “Kom jy in vrede?” vra sy. “Ja,” sê hy. “Ek wil net met u praat. Trouens, ek wil u ’n guns vra.” “Praat gerus,” sê sy. Hy antwoord: “Soos u weet, was die koningskap eintlik vir my bedoel, en almal het ook verwag dat ek die volgende koning sou wees. Maar sake het anders verloop en die HERE het bepaal dat my broer koning moet wees. Nou vra ek net een guns van u. Moet dit asseblief nie weier nie.” “Wat is dit?” vra sy. Hy antwoord: “Praat asseblief met koning Salomo, want ek weet hy sal enigiets doen wat u vra. Vra hom om Abisag, die meisie uit Sunem, vir my as vrou te gee.” “Goed,” sê Batseba. “Ek sal vir jou voorspraak doen by die koning.” Batseba gaan toe na koning Salomo om Adonia se versoek te stel. Die koning het opgestaan om haar te ontmoet en het voor haar gebuig. Hy het weer op sy troon gaan sit en beveel dat daar ’n troon aan sy regterkant vir sy ma neergesit word. “Ek wil een klein gunsie van jou vra,” sê sy. “Ek hoop jy sal my nie weier nie.” “Wat is dit, Ma?” vra hy. “U weet ek sal u niks weier nie.” “Laat dan toe dat jou broer Adonia met Abisag, die meisie uit Sunem, trou,” antwoord sy. “Hoe kan u hoegenaamd vra dat ek Abisag vir Adonia gee?” roep Salomo uit. “U kan netsowel vra dat ek die hele koninkryk vir hom moet gee! U weet dat hy my ouer broer is en dat hy Abjatar die priester en Joab seun van Seruja aan sy kant het.” Toe lê koning Salomo ’n eed af voor die HERE: “Mag God my straf as ek Adonia nie oor hierdie versoek teregstel nie. So seker as die HERE leef, Hy wat my stewig op die troon van my pa, Dawid, gevestig het en vir my ’n koningshuis geskep het soos Hy beloof het – net so seker moet Adonia vandag nog tereggestel word!” Koning Salomo stuur toe vir Benaja seun van Jojada na Adonia toe en hy het hom doodgemaak. Daarna sê die koning vir Abjatar die priester: “Gaan terug na jou landerye in Anatot! Jy verdien die dood, maar ek sal jou nie nou teregstel nie, want jy het die ark van die oppermagtige HERE voor my pa gedra, en jy het baie ontberings saam met hom meegemaak.” Salomo het Abjatar as priester van die HERE ontslaan. So het die oordeel van die HERE by Silo oor die afstammelinge van Eli in vervulling gegaan. Hoewel Joab destyds nie met Absalom saamgewerk het nie, het hy tog die opstand van Adonia gesteun. Toe Joab van Adonia se dood hoor, vlug hy na die heiligdom toe en gryp die horings van die altaar vas. Toe Salomo dit hoor, stuur hy vir Benaja seun van Jojada om hom dood te maak. Benaja het in die heiligdom van die HERE ingegaan en vir Joab gesê: “Die koning beveel jou om uit te kom!” Maar Joab antwoord: “Nee, ek wil hiér sterf.” Benaja het toe teruggegaan na die koning toe en hom vertel wat Joab gesê het. “Maak soos hy gesê het,” antwoord die koning. “Maak hom langs die altaar dood en begrawe hom. Dit sal die skuld van sy sinlose moorde wegneem van my en my pa se familie. So sal die HERE hom vergeld vir die moord op twee manne wat regverdiger en beter was as hy. Want my pa het geen deel gehad aan die dood van Abner seun van Ner en bevelvoerder van die leër van Israel nie, en ook nie aan dié van Amasa seun van Jeter en bevelvoerder van die leër van Juda nie. Mag die skuld vir hierdie moorde vir altyd op Joab en sy nageslag rus, maar mag die HERE vir altyd vrede gee aan Dawid, aan sy nageslag en aan sy troon.” Benaja het toe teruggegaan en Joab in die heiligdom doodgemaak. Joab is begrawe by sy huis in die wildernis. Die koning het vir Benaja seun van Jojada in die plek van Joab as bevelvoerder van die leër aangestel. Hy het ook vir Sadok die priester in die plek van Abjatar aangestel. Daarna het die koning Simeï laat kom en vir hom gesê: “Bou vir jou ’n huis hier in Jerusalem en kom woon hier. Maar jy mag nie uit die stad weggaan om enigiets elders te doen nie. Die dag as jy oor die Kidronspruit gaan, sal jy sekerlik doodgemaak word. Daarvoor sal jy net jouself moet blameer.” Simeï het geantwoord: “Ek aanvaar u uitspraak. Ek sal doen soos die koning my beveel.” Simeï het toe ’n geruime tyd lank net in Jerusalem gebly. Ongeveer drie jaar later het twee van Simeï se slawe weggeloop na koning Akis seun van Maäka, koning van Gat. Toe Simeï dit hoor, het hy sy donkie opgesaal en na Gat toe gegaan om hulle te gaan soek. Toe hy hulle kry, het hy hulle na Jerusalem toe teruggebring. Salomo het verneem dat Simeï uit Jerusalem na Gat toe gegaan en teruggekom het. Hy laat roep toe vir Simeï en vra: “Ek het jou tog voor die HERE ’n eed laat aflê dat jy nêrens sou gaan nie, want dan sal jy sekerlik sterf. En jy het toe geantwoord: ‘Ek aanvaar die uitspraak. Ek sal maak soos u sê.’ Hoekom was jy dan nie getrou aan jou eed voor die HERE nie? Hoekom het jy nie my bevel gehoorsaam nie?” Die koning het verder vir Simeï gesê: “Jy onthou sekerlik al die slegte dinge wat jy teenoor my pa, koning Dawid, gedoen het. Mag die HERE jou daarvoor straf. Maar mag ek die ryke seëninge van die HERE ontvang, en mag daar altyd een van Dawid se afstammelinge op hierdie troon sit.” Op bevel van die koning het Benaja seun van Jojada toe vir Simeï buitentoe geneem en hom doodgemaak. Nou het Salomo ten volle beheer oor die koninkryk gehad.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid