1 Konings 2:1-12

1 Konings 2:1-12 AFR20

Toe die tyd nader kom vir Dawid om te sterf, het hy opdragte aan sy seun Salomo gegee: “Ek gaan die weg van die hele aarde. Wees onwrikbaar en wys jy is 'n man. Kom die verpligting na wat die HERE jou God jou oplê. Doen dit deur sy paaie te volg, deur sy vaste voorskrifte, sy gebooie, sy beslissings en bepalings na te kom, soos daar geskryf staan in die Wet van Moses, sodat jy sukses kan behaal in alles wat jy aanpak en oral waarheen jy jou wend. Doen dit, sodat die HERE sy woord wat Hy oor my gespreek het, gestand kan doen, naamlik, ‘As jou seuns let op hulle gedrag deur getrou, met hulle hele hart en hulle hele wese, voor My te leef, dan’ het Hy gesê, ‘sal daar nooit vir jou iemand ontbreek op die troon van Israel nie’. “Jy self weet ook wat Joab, seun van Seruja, aan my gedoen het, wat hy aan die twee bevelvoerders van die leërs van Israel, aan Abner, seun van Ner, en aan Amasa, seun van Jeter, gedoen het. Hy het hulle vermoor en die bloedskuld van oorlog op hom gelaai in vredestyd. Hy het die bloedskuld van oorlog op die gordel om sy heupe en die sandale aan sy voete laat kom. Tree dan op volgens jou wysheid. Sy grys hare mag jy nie in vrede na die •doderyk laat afgaan nie. Aan die seuns van Barsillai, die man uit Gilead, moet jy egter welwillendheid bewys. Hulle moet onder dié wees wat aan jou tafel eet, want so het hulle my ook tegemoetgekom toe ek gevlug het voor jou broer Absalom. Kyk, by jou het jy ook Simeï, seun van Gera, die Benjaminiet uit Bagurim. Hy is die een wat my gruwelik uitgeskel het die dag toe ek na Maganajim gegaan het. Maar hy is ook die een wat afgegaan het om my by die Jordaan te ontmoet, en ek het vir hom by die HERE gesweer en gesê, ‘Ek sal jou nie met die swaard doodmaak nie.’ Maar nou mag jy hom nie ongestraf laat nie. Jy is immers 'n slim man; jy sal self weet wat om aan hom te doen. Jy moet sy grys hare met bloed in die doderyk laat afgaan.” Daarna het Dawid by sy voorouers gaan rus, en hy is in die Stad van Dawid begrawe. Die tydperk wat Dawid koning was oor Israel, was veertig jaar. In Hebron was hy sewe jaar lank koning, en in Jerusalem was hy drie-en-dertig jaar lank koning. Salomo het op die troon van sy vader Dawid gaan sit, en sy koningskap was stewig gevestig.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid