1 KONINGS 2:1-12

1 KONINGS 2:1-12 Bybel vir almal (ABA)

Die tyd het nader gekom dat Dawid moes sterf, en hy het vir sy seun Salomo gesê: “Ek gaan nou sterf, soos al die mense. Jy moet sterk wees, jy moet 'n dapper man wees. Jy moet doen wat jou God die Here gesê het. Jy moet lewe soos Hy wil hê, jy moet gehoorsaam wees en jy moet altyd doen wat die Here vir jou sê en leer, soos Moses in die wette geskryf het. Dan sal dit goed gaan met jou, dit sal goed gaan met alles wat jy doen en oral waar jy gaan. Dan sal die Here doen wat Hy belowe het toe Hy gesê het: ‘As jou seuns aanhou om gehoorsaam te bly aan My en as hulle met hulle hele hart en lewe doen wat Ek wil hê, dan sal daar altyd iemand van jou nageslag op die troon van Israel sit.’ Jy weet ook wat Joab seun van Seruja aan my gedoen het en wat hy gedoen het met die twee hoofde van die leër van Israel. Hy het vir Abner seun van Ner, en vir Amasa seun van Jeter vermoor. Hy het hulle doodgemaak toe daar vrede was, nie in 'n oorlog nie. Hulle bloed het gevloei oor die belt om sy heupe en oor die sandale aan sy voete, soos in 'n oorlog. Jy moet met hom doen wat jy dink is reg. Hy is 'n ou man, maar jy moenie hom in vrede laat sterf omdat hy oud is nie. “Maar jy moet onthou die seuns van Barsillai van Gilead is jou vriende. Jy moet hulle by jou tafel laat eet, want hulle het dit ook vir my gedoen toe ek moes vlug vir jou broer Absalom. “Simeï seun van Gera is ook hier by jou. Simeï is 'n Benjamin-man van die stad Bagurim. Dit is hý wat my beledig het en wat my baie hartseer gemaak het daardie dag toe ek na die stad Maganajim gegaan het. Dit is ook hý wat my later kom ontmoet het by die Jordaan-rivier, en toe het ek vir hom voor die Here belowe dat ek hom nie sal doodmaak nie. Maar nou moet jy hom nie vry laat wegkom nie. Jy is 'n wyse man en jy sal weet wat jy met hom moet doen. Hy is 'n ou man, maar sy bloed móét vloei, hy moet sterf.” Dawid het gesterf, en hulle het hom begrawe in die Dawidstad. Hy was 40 jaar lank koning, sewe jaar in Hebron en 33 jaar in Jerusalem. Salomo het op die troon van sy pa Dawid gaan sit. Almal het geweet dat hy nou die koning is.

1 KONINGS 2:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe die dae van Dawid nader kom dat hy sou sterwe, het hy sy seun Salomo bevel gegee en gesê: Ek gaan heen op die weg van die hele aarde: wees dan sterk en word 'n man; en onderhou die ordening van die HERE jou God deur te wandel in sy weë, deur sy insettinge, sy gebooie en sy verordeninge en sy getuienisse te onderhou, soos geskrywe is in die wet van Moses, sodat jy voorspoedig kan uitvoer alles wat jy doen, en alles waartoe jy jou begewe; sodat die HERE sy woord mag vervul wat Hy oor my gespreek het, naamlik: As jou seuns ag gee op hulle weg deur voor my aangesig getrou te wandel met hulle hele hart en met hulle hele siel, dan sal daar nie vir jou 'n man op die troon van Israel ontbreek nie. En jy weet ook self wat Joab, die seun van Serúja, my aangedoen het; wat hy die twee leërowerstes van Israel, Abner, die seun van Ner, en Amása, die seun van Jeter, aangedoen het; hoe hy hulle vermoor en oorlogsbloed in vredestyd vergiet het, sodat hy die gord wat om sy heupe en die skoene wat aan sy voete was, met oorlogsbloed bevlek het. Handel dan na jou wysheid, en sy grys hare moet jy nie met vrede in die doderyk laat neerdaal nie. Maar aan die seuns van Barsíllai, die Gileadiet, moet jy guns bewys, en hulle moet wees onder die wat aan jou tafel eet; want só het hulle na my toe aangekom toe ek vir jou broer Absalom gevlug het. Verder is daar by jou Símeï, die seun van Gera, die Benjaminiet, uit Bahúrim; hý naamlik het my gevloek met 'n hewige vloek die dag toe ek na Mahanáim gegaan het; en hý het afgekom om my te ontmoet by die Jordaan, sodat ek vir hom by die HERE gesweer en gesê het: Ek sal jou nie met die swaard doodmaak nie. Maar nou moet jy hom nie ongestraf laat bly nie, want jy is 'n wyse man; daarom sal jy weet wat jy hom moet aandoen, dat jy sy grys hare met bloed in die doderyk laat neerdaal. Toe het Dawid ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe in die stad van Dawid. En die dae wat Dawid oor Israel geregeer het, was veertig jaar; in Hebron het hy sewe jaar geregeer, en in Jerusalem het hy drie-en-dertig jaar geregeer. DAARNA het Salomo op die troon van sy vader Dawid gaan sit, en sy koningskap is goed bevestig.

1 KONINGS 2:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe Dawid se einde nader, het hy sy seun Salomo beveel: “Noudat ek die pad van alle mense moet gaan, moet jy sterk wees en soos 'n man optree. Hou jou aan wat die Here jou God jou voorskryf en lewe daarvolgens. Gehoorsaam sy voorskrifte, sy gebooie, sy bepalings en sy verordenings soos dit opgeskryf is in die wet van Moses. Dan sal jy voorspoedig wees in alles wat jy doen en oral waar jy gaan. Dan sal die Here sy beloftes vervul. Hy het vir my gesê: ‘As jou nakomelinge nougeset leef en met hart en siel aan My getrou bly, sal daar altyd een uit jou nageslag as koning oor Israel regeer!’ “Jy weet self wat Joab seun van Seruja my aangedoen het, wat hy gedoen het met die twee leërhoofde van Israel, met Abner seun van Ner en met Amasa seun van Jitra: hy het hulle vermoor, hy het hulle in vredestyd doodgemaak asof daar oorlog was. Hy het hulle onskuldige bloed op die gordel om sy lyf en op die skoene aan sy voete laat spat. Doen met hom soos jy dit goedvind. Moenie sy lewe spaar net omdat hy oud is nie. “Jy moet goed wees vir die seuns van Barsillai van Gilead. Laat hulle van jou tafel af eet, want hulle het vir mý kos gebring toe ek vir jou broer Absalom gevlug het. “Daar is ook nog Simeï seun van Gera die Benjaminiet, uit Bagurim. Hy het my vreeslik gevloek toe ek die dag na Maganajim toe gegaan het en ons mekaar by die Jordaan teëgekom het. Ek het vir hom voor die Here met 'n eed bevestig dat ek hom nie om die lewe sal bring nie, maar jy moet hom nou nie verskoon nie. Jy is 'n wyse man en jy sal weet wat om met hom te maak dat hy met die dood gestraf word al is hy al oud.” Dawid is oorlede, en hy is begrawe in die Dawidstad. Die duur van sy regering oor Israel was veertig jaar. In Hebron was hy sewe jaar lank koning, en in Jerusalem drie en dertig jaar. Salomo het sy pa se troon bestyg en 'n stewige houvas op sy koningskap gekry.

1 KONINGS 2:1-12 Die Boodskap (DB)

Toe Dawid voel sy einde is naby, het hy sy seun Salomo laat kom. Soos ’n goeie pa het hy Salomo ’n paar laaste stukkies goeie raad gegee. “Binnekort sal ek soos alle mense sterf,” het Dawid begin. “Maar jy moet moed hou en sterk wees. Doen wat die Here jou God van jou vra. Leef volgens die riglyne wat Hy vir Moses gegee het. Gehoorsaam sy wette en kom al sy voorskrifte na. As jy dit doen, sal dit altyd met jou goed gaan. As jy getrou is, sal die Here sy belofte aan my nakom. Lank gelede het Hy belowe dat my nageslag altyd oor Israel sal regeer. Maar dan moet my kinders Hom met alles in hulle, ja, met hulle hele wese, liefhê en getrou aan My bly. “Daar is ook iets anders. Jy onthou nog vir Joab? Hy het mos destyds twee van my generaals sonder rede doodgemaak. Die een was Abner die seun van Ner, en die ander een Amsa die seun van Jeter. Dit was onnodig en boonop nog in vredestyd. Die hele ding bly my hinder. Dit is of hulle bloed nou nog aan my lyf en my klere en my skoene kleef. Ek wil nie vir jou voorsê wat om te doen nie. Daarvoor is jy slim en wys genoeg, maar moenie dat Joab se daad ongestraf bly nie. “Wees egter baie goed vir die seuns van Barsillai, die man van Gilead. Sorg tog vir dié mense, want hulle het my destyds gehelp toe ek vir jou broer Absalom gevlug het. “O ja, daar is nog iemand. Dit is Simeï die seun van Gera. Hy kom van ’n klein dorpie, Bahurin, in die stamgebied van Benjamin. Die einste Simeï het my eendag vreeslik gevloek toe ek op pad Mahanajim toe was. Net duskant die Jordaan het ons mekaar raakgeloop en toe het hy my gevloek. Ek het hom egter in die Naam van die Here beloof om hom nie dood te maak nie. Ek wil weer nie vir jou voorskryf nie, maar Simeï se daad moet gestraf word. Omdat jy slim is, sal jy weet wat om te doen.” Toe het Dawid gesterf. Hulle het hom by sy mense in Jerusalem, die stad waar Dawid gewoon en gewerk het, begrawe. Dawid het 40 jaar oor Israel regeer, eers sewe jaar in Hebron en toe 33 jaar in Jerusalem. Salomo het sy pa as koning opgevolg. Sy koningskap is deur almal aanvaar en hy het ’n vaste greep op sy koninkryk gehad.

1 KONINGS 2:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe dit duidelik word dat Dawid se dood voor die deur is, het hy sy seun Salomo beveel: “Dis tyd dat ek die pad van alle mense moet gaan. Wees sterk en dapper. Volg die vereistes van die HERE jou God en leef daarvolgens. Wees gehoorsaam aan sy gebooie, bevele, opdragte en bepalings soos dit opgeteken is in die voorskrifte van Moses. Jy sal dan suksesvol wees in alles wat jy doen en waar jy ook al gaan. As jy só lewe, sal die HERE sy beloftes aan my vervul. Hy het gesê: ‘As jou afstammelinge in waarheid voor My lewe en My met algehele toewyding getrou navolg, sal daar altyd een van hulle op die troon van Israel wees.’ “Dan is daar ook nog iets anders. Jy weet dat Joab seun van Seruja my twee bevelvoerders, Abner seun van Ner en Amasa seun van Jeter, vermoor het. Hy het hulle in vredestyd doodgemaak asof dit oorlog was. Hy het die gordel om sy lyf en die skoene aan sy voete met bloed bevlek. Maak met hom soos wat jy goeddink, maar moenie dat hy in vrede sterf net omdat hy oud is nie. “Wees goed vir die seuns van Barsillai uit Gilead. Laat hulle in jou huis bly, want hulle het my versorg toe ek voor jou broer Absalom moes vlug. “Onthou ook vir Simeï seun van Gera, die man uit Bagurim in Benjamin. Hy het my vreeslik gevloek toe ek na Maganajim toe gevlug het. Toe hy my by my terugkeer by die Jordaanrivier kom ontmoet het, het ek voor die HERE onderneem dat ek hom nie met die swaard sou doodmaak nie. Maar hy is nie onskuldig nie. Jy is ’n wyse man. Jy sal weet hoe om hom in sy oudag met geweld te laat sterf.” Daarna het Dawid gesterf en is in die Dawidstad begrawe. Hy het 40 jaar lank oor Israel regeer, sewe jaar in Hebron en 33 jaar in Jerusalem. Salomo het sy pa, Dawid, opgevolg en het sy koningskap stewig gevestig.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid