Hooglied 4

4
Jy is heeltemal mooi
1Hy sê: “My liefste, jy moet luister, jy is mooi,
luister, jy is mooi,
jou oë is soos duiwe agter jou sluier,
jou hare is soos 'n trop bokke wat afkom teen Gilead-berg.
2Jou tande is soos 'n trop skaap-ooie,
skape wat skoon gewas en geskeer is.
Elke ooi het tweeling-lammers, en almal het lammers.
3Jou lippe is soos bloedrooi lint, jou mond is mooi,
jou wange is soos stukke granaat agter jou sluier.
4Jou nek is soos die toring van Dawid
met sy klippe in rye,
daar hang 1 000 skilde aan die toring,
dit is almal skilde van spesiale manne.
5Jou twee borste is soos twee jong takbokkies,
soos die tweeling-lammers van 'n gasel
wat tussen die blomme wei.
6Ek sal na die mirre-berg gaan,
na die wierook-heuwel
totdat die aandwind waai en die skaduwees verdwyn.
7My liefste, alles van jou is mooi,
daar is niks foute aan jou nie.”
Jy moet saam met my kom
8Hy sê: “Bruid, kom saam met my van die Libanon-berg,
jy moet saam met my kom van die Libanon-berg,
jy moet afkom van bo-op die Amana-berg,
van bo-op die Senir-berg en die Hermon-berg,
weg van die plekke waar die leeus woon,
weg van die berge van die luiperds.”
Daar is heuning en melk onder jou tong
9Hy sê: “My suster, my bruid,
jy het my opgewonde gemaak,
jy het my hart vinnig laat klop
toe jy net een maal na my gekyk het,
net een stukkie van die ketting om jou nek
het my opgewonde gemaak.
10My suster, my bruid, jou liefde is soet,
jou liefde is lekkerder as wyn,
jou olie ruik lekkerder as al die kruie.
11My bruid, jou lippe proe soos stroop,
daar is heuning en melk onder jou tong,
jou klere ruik na die Libanon-berg.”
'n Fontein in 'n tuin
12Hy sê: “'n Tuin wat 'n muur rondom het!
My suster, my bruid, is soos 'n tuin
wat 'n muur rondom het,
'n fontein wat tóé is.
13Jou arms is soos 'n tuin vol granaatbome
saam met baie kosbare kruie, henna en nardus,
14nardus en saffraan, kalmoes en kaneel,
saam met al die wierook-bome,
mirre en aalwyn saam met al die beste kruie.
15Jy is soos 'n fontein in 'n tuin, 'n put
met water wat borrel,
en strome water van die Libanon-berg.”
16Sy sê: “Noordewind, jy moet opstaan,
suidewind, jy moet kom,
jy moet waai deur my tuin,
almal moet sy kruie ruik.
Die man vir wie ek lief is, moet kom na sy tuin,
hy moet die kosbare vrugte kom eet.”

Tans Gekies:

Hooglied 4: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid