Hooglied 3

3
Het julle die man gesien vir wie ek lief is?
1Sy sê: “Toe ek in my bed soek na die man
vir wie ek lief is,
toe ek hom soek in die nag,
het ek hom nie gekry nie.
2Ek het gesê ek wil opstaan
en in die stad rondloop
op die strate en die oop stukke grond,
ek wil soek na die man vir wie ek lief is.
Ek het na hom gesoek,
maar ek het hom nie gekry nie.
3Die polisie het my daar gekry.
Ek het vir hulle gevra:
‘Het julle die man gesien vir wie ek lief is?’
4Toe ek by hulle verbygeloop het,
het ek die man gekry vir wie ek lief is.
Ek het hom vasgehou, ek het hom nie gelos nie
totdat ek hom na my ma se huis gebring het,
na die kamer waar ek gebore is.
5Vroue van Jerusalem, julle moet vir my belowe,
en die gaselle en die takbokke in die veld
moet die getuies wees,
julle moet belowe dat julle ons nie sal wakker maak
en nie sal pla nie.
Ons is lief vir mekaar en ons sal self besluit
wat om te doen.”
Julle moet kom kyk na koning Salomo
6Hy sê: “Wie is sy wat daar uit die woestyn kom
soos 'n rookwolk?
'n Mens kan die mirre en die wierook ruik,
en al die goed wat lekker ruik
wat die handelaars verkoop.
7Kyk, dit is die dra-stoel van koning Salomo!
Daar is 60 spesiale manne rondom die dra-stoel,
dit is 60 van die spesiale manne van Israel.
8Elke man het 'n swaard, hy weet hoe om oorlog te maak,
elke man dra sy swaard langs sy heup,
elke man is gereed vir die gevaarlike dinge in die nag.
9Koning Salomo het sy troon laat maak
van hout uit die Libanon-berg.
10Die pote van die troon is van silwer,
die rug is van goud,
en die kussing is van pers wol.
Die vroue van Jerusalem het die kussing geborduur,
want hulle is lief vir die koning.
11Vroue van Sion, julle moet kom kyk na koning Salomo,
hy dra die kroon wat sy ma op sy kop gesit het
die dag toe hy getrou het, die dag toe hy baie bly was.”

Tans Gekies:

Hooglied 3: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid