Openbaring 12

12
Die vrou en die draak
1Ek het 'n groot teken in die hemel gesien: Daar was 'n vrou. Die son was haar klere, die maan was onder haar voete, en op haar kop was 'n kroon van twaalf sterre. 2Die vrou was swanger en sy het geskree, want sy was besig om 'n baba te kry en sy het baie pyn gehad. 3En ek het gekyk en ek het nog 'n teken in die hemel gesien: Daar was 'n groot draak! Die draak was baie rooi en hy het sewe koppe en tien horings gehad. Daar was sewe krone op sy koppe. 4Die draak het sy stert gebruik en hy het een derde van die sterre in die lug afgeruk en op die grond gegooi. Hy het gaan staan voor die vrou wat besig was om 'n kind te kry. Die draak wou die kind opvreet wanneer die kind gebore word. 5Die vrou het 'n seun gekry. God het besluit dat die seun die volke met 'n yster-septer moet regeer. En God het die kind vinnig weggeneem na die hemel, na God se troon.
6Toe het die vrou na die woestyn gevlug. Daar was 'n plek in die woestyn, 'n plek wat God vir haar gereedgemaak het. Daar het God 1 260 dae lank vir haar gesorg.
7Toe was daar oorlog in die hemel. Migael en sy engele het oorlog gemaak teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gemaak teen Migael en sy engele. 8Maar die draak en sy engele het verloor. Daar was nie meer plek vir hulle in die hemel nie. 9God het die groot draak uit die hemel gegooi. Die draak is die ou slang, die mense noem hom “ die duiwel” en “ Satan.” Hy bedrieg al die mense van die wêreld. God het hom en sy engele op die aarde gegooi.
10Toe het ek gehoor iemand skree hard in die hemel en hy sê:
“Ons God het ons gered!
Hy is baie sterk!
Hy is ons Koning en Hy regeer!
Ja, die Christus van God
regeer oor alles en almal!
Want God het die Satan
uit die hemel gegooi,
die Satan wat elke dag
en elke nag
die mense beskuldig
wat saam met ons glo.
11Maar die gelowiges
het die Satan oorwin
omdat die Lam gesterf het
en omdat hulle vir almal
vertel het wat hulle geglo het.
Ja, hulle was nie bang
toe die mense hulle
doodgemaak het nie.
12Daarom moet die hemel
bly wees,
almal wat in die hemel woon,
moet bly wees!
Maar die mense op die aarde
sal baie swaar kry,
en die see sal baie swaar kry.
Want die duiwel het afgekom
na julle toe
en hy is baie kwaad,
want hy weet hy het min tyd.”
13En toe die draak sien dat God hom op die aarde gegooi het, het hy die vrou gevolg en gejaag, die vrou wat die seun gekry het. 14Maar God het vir die vrou twee vlerke van 'n groot arend gegee sodat sy kon wegvlieg van die slang, sy kon vlieg na haar plek in die woestyn. Daar sal God vir haar sorg, drie en 'n half jaar lank. 15Toe het die slang baie water gespoeg na die vrou toe, so baie water soos 'n rivier. Hy wou hê dat die water die vrou moet wegspoel. 16Maar die aarde het die vrou gehelp. Die aarde het oopgegaan en die water het in die aarde ingevloei, die water wat die draak gespoeg het. 17Die draak was baie kwaad vir die vrou en hy het weggegaan om oorlog te gaan maak teen die vrou se ander kinders. Haar ander kinders is die mense wat doen wat God se wette sê en wat Jesus gesê het.
Die dier wat uit die see gekom het
18Die draak het op die strand gaan staan.

Tans Gekies:

Openbaring 12: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid