Markus 4

4
Die gelykenis van die saaier
(Ook Matt 13:1-9; Luk 8:4-8)
1Jesus het weer vir die mense langs die see begin leer. Daar het 'n groot klomp mense na Hom toe gekom en hulle het by Hom kom staan. Daarom het Jesus in 'n boot geklim wat in die water gelê het, en Hy het gaan sit. Al die mense het op die strand langs die water gestaan. 2Jesus het altyd vir hulle gelykenisse vertel en vir hulle baie dinge geleer. Hy het gesê: 3“Luister wat Ek vir julle sê: 'n Man het saad gaan saai, hy was die saaier. 4Terwyl hy gesaai het, het party van die saad op die voetpad in die koringland geval. Die voëls het gekom en hulle het die saad opgepik. 5Party van die saad het op vlak grond geval. Daar was klip onder die grond. Die saad het gou begin groei omdat die grond nie diep was nie. 6Maar toe die son opkom en warm word, het die plante doodgebrand, omdat dit nie sterk wortels gehad het nie. 7Party van die saad het tussen die dorings geval. Die dorings het gegroei en grootgeword en dit het die ander plantjies heeltemal toegegroei. Die man het daar niks koring afgesny nie. 8Party van die saad het in vrugbare grond geval. Dit het opgekom en gegroei en daar was baie koring. Een plant het 30 maal meer gegee as die saad, 'n ander plant 60 maal meer, en 'n ander plant 100 maal meer.”
9Jesus het gesê: “As iemand kan verstaan wat Ek sê, dan moet hy gehoorsaam wees!”
Jesus sê hoekom Hy gelykenisse vertel
(Ook Matt 13:10-11,13; Luk 8:9-10)
10Later was Jesus alleen. Die twaalf dissipels en die ander mense by Hom het vir Hom gevra wat die gelykenisse beteken. 11Jesus het vir hulle gesê: “God het vir julle gehelp om die geheim te verstaan dat Hy die Koning is en dat Hy regeer. Die ander mense wat nie aan My behoort nie, verstaan dit nie. 12Ek vertel vir hulle die gelykenisse
“ want Ek wil hê hulle moet
kyk en kyk
maar niks sien nie,
en hulle moet hoor en hoor
maar niks verstaan nie.
As die ander mense
dit verstaan het,
dan sou hulle begin lewe het
soos God wil hê,
en dan sou God hulle sonde
vergewe het.”
Jesus sê wat die gelykenis van die saaier beteken
(Ook Matt 13:18-23; Luk 8:11-15)
13Jesus sê toe vir sy dissipels: “Verstaan julle nie hierdie gelykenis nie? As julle dit nie verstaan nie, dan sal julle die ander gelykenisse nog minder verstaan. 14Die saad wat die saaier saai, is die boodskap wat van God kom. 15Wanneer die saad op die voetpad val, dan is dit soos wanneer mense die woorde van die boodskap hoor, maar die Satan kom dadelik en hy vat die woorde weg wat God in hulle harte gesaai het. 16Wanneer die saad in vlak grond val waar daar klippe onder die grond is, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor en dadelik bly is daaroor. 17Maar hulle is soos die plante wat nie diep wortels het nie en wat net 'n kort tydjie lewe. Hulle hoor die boodskap en hulle glo dit, maar wanneer die mense hulle daaroor verdruk, en hulle begin swaarkry, dan hou hulle op om te glo. 18Wanneer die saad tussen die dorings val, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor 19maar hulle is bekommerd oor die dinge van hierdie wêreld. Hulle dink net aan geld en hulle wil baie ander dinge graag hê. Die dinge van die wêreld is soos die dorings wat die koringplantjies toegroei. Vir hierdie mense word ander dinge belangriker as die boodskap van God. Daarom kan die boodskap nie hulle lewe verander nie, soos die saad nie vrugte dra nie. 20Wanneer die saad in vrugbare grond val, dan is dit soos wanneer mense die boodskap hoor en dit glo, en dit verander hulle lewe. Dit dra vrugte, by party mense 30 maal meer as die saad wat die saaier gesaai het, by party mense 60 maal meer, en by party mense 100 maal meer.”
Die dissipels moet goed luister na die boodskap van God
(Ook Matt 5:15; 10:26; 7:2; 13:12; Luk 8:16-18; 11:33)
21Jesus het ook vir hulle gesê: “Niemand sit 'n lamp onder 'n emmer of onder 'n bed nie. Nee! 'n Mens sit 'n lamp op die lampstaander. 22God is Koning. Niemand kan hierdie geheim wegsteek nie. Almal sal daarvan weet en almal sal dit kan sien. Daar is dinge wat mense nou nie ken nie, maar God sal dit vir hulle wys. 23As iemand kan verstaan wat Ek sê, dan moet hy gehoorsaam wees!”
24Jesus het ook vir hulle gesê: “Julle moet goed luister na die boodskap van God. God sal luister na julle soos julle luister na Hom. Hy sal nog beter luister na julle. 25As iemand klaar die boodskap 'n klein bietjie verstaan, dan sal God hom help om nog beter te verstaan. Maar as iemand dit nie verstaan nie, dan sal God hom nie help nie, hy sal niks verstaan nie.”
Die gelykenis van die saad wat self groei
26Jesus het gesê: “Wanneer God Koning is, dan is dit soos wanneer 'n man saad in die grond saai, 27en dan in die aand gaan slaap en in die oggend opstaan. Die saad begin groei en die plante word groter. Die man weet nie hoe dit gebeur nie. 28Die grond laat die koring self groei. Eers groei 'n klein plantjie, dan kom die koring-aar uit en daarna word dit 'n groot koring-aar. 29Wanneer die koring ryp is, dan sny die man dit dadelik af met 'n sekel, want dan is dit die tyd om dit te doen.”
Die gelykenis van die mosterd-saad
(Ook Matt 13:31-32; Luk 13:18-19)
30Jesus het gesê: “Hoe kan Ek vir julle verduidelik hoe dit is wanneer God Koning is? Watter gelykenis kan Ek gebruik? 31Dit is soos 'n mosterd-saad. Iemand plant dit, en dit is die kleinste saadjie op die aarde. 32Maar wanneer hy dit geplant het en die plant klaar gegroei het, dan is dit groter as al die ander plante in die tuin. Dit kry groot takke en die voëls maak neste in sy skaduwee.”
Hoekom Jesus gelykenisse vertel het
(Ook Matt 13:34)
33Jesus het baie gelykenisse soos hierdie vertel wanneer Hy met die mense gepraat het. Hy het gelykenisse vertel wat hulle kon verstaan. 34Hy het altyd gelykenisse gebruik wanneer Hy met die mense gepraat het. Wanneer Hy alleen was saam met sy dissipels, dan het Hy vir hulle verduidelik wat die gelykenisse beteken.
Jesus maak die storm stil
(Ook Matt 8:23-27; Luk 8:22-25)
35Daardie aand het Jesus vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan oor na die ander kant van die see.”
36Die dissipels het weggegaan van die groot klomp mense. Jesus was nog in die boot en die dissipels het Hom saamgeneem. Daar was ook ander bote saam met hulle. 37'n Sterk stormwind het begin waai en die branders het so hoog teen die boot begin slaan dat die boot vol water begin word het. 38Jesus het agter in die boot op 'n kussing gelê en slaap. Die dissipels maak Hom toe wakker en hulle vra vir Hom: “Meneer, is U nie bekommerd oor ons nie? Ons sal verdrink!”
39Jesus het opgestaan en Hy het kwaai met die wind gepraat. Hy het vir die see gesê: “Bly stil! Word kalm!”
Die wind het opgehou waai en die see het stil en kalm geword. 40Jesus vra toe vir hulle: “Hoekom is julle bang? Glo julle nou nog nie in My nie?”
41Die dissipels het baie bang geword. Hulle sê toe vir mekaar: “Wie is hierdie Man? Ook die wind en die see luister na Hom.”

Tans Gekies:

Markus 4: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid