Markus 3

3
Die man met 'n gebreklike hand
(Ook Matt 12:9-10,12-14; Luk 6:6-11)
1Jesus het weer in die sinagoge ingegaan. Daar was 'n man met 'n gebreklike hand. 2Die mense het Jesus dopgehou om te sien of Hy die man op die Sabbatdag gesond sal maak. Hulle wou Hom beskuldig dat Hy verkeerd gedoen het. 3Hy sê toe vir die man met die gebreklike hand: “Kom staan hier tussen die mense sodat almal jou kan sien.”
4Jesus het vir die mense gevra: “Mag 'n mens op die Sabbatdag goed doen of verkeerd doen? Mag 'n mens iemand se lewe red, of mag 'n mens hom doodmaak?”
Maar die mense het stilgebly. 5Jesus het na die mense rondom Hom gekyk. Hy was kwaad en ook hartseer omdat hulle hardkoppig was. Hy sê toe vir die man: “Steek jou hand uit!”
Die man het sy hand uitgesteek, en toe was sy hand gesond. 6Die Fariseërs het uitgegaan en hulle het dadelik saam met die Herodiane planne gemaak om Jesus dood te maak.
Baie mense kom na Jesus toe
(Ook Matt 12:15-16; 4:25; Luk 6:17-19)
7Jesus en sy dissipels het teruggegaan na die see en 'n klomp mense van die provinsie Galilea het saam met Hom gegaan. Daar het ook baie mense van die provinsie Judea gekom, 8en van Jerusalem, en van die ander kant van die Jordaan-rivier en van die plekke rondom die stede Tirus en Sidon. Hulle het na Jesus toe gekom, want hulle het gehoor van die dinge wat Hy doen. 9Jesus het vir sy dissipels gesê hulle moet vir Hom 'n bootjie kry. Daar was so baie mense dat Jesus bang was hulle druk teen Hom en maak Hom seer. 10Jesus het baie mense gesond gemaak, en almal wat siek was, wou by Jesus kom en aan Hom raak. 11Daar was ook mense wat onrein geeste in hulle gehad het. Elke maal wanneer hulle Jesus gesien het, het hulle voor Hom op die grond geval en geskree: “U is die Seun van God,” 12maar Jesus het gesê hulle mag glad nie sê wie Hy is nie.
Jesus kies twaalf apostels
(Ook Matt 10:1-4; Luk 6:12-16)
13Jesus het na die berg gegaan en Hy het die mense wat Hy daar wou hê, na Hom toe geroep. Hulle het na Hom toe gekom. 14Hy het twaalf manne gekies en Hy het hulle apostels genoem. Hulle moes by Hom bly. Hy wou hulle stuur sodat hulle kon gaan preek. 15Hy het vir hulle krag gegee om duiwels uit mense te jaag. 16Jesus het twaalf apostels gekies en aangestel. Hy het vir Simon die naam Petrus gegee, 17en Hy het vir Jakobus en Johannes, die twee seuns van Sebedeus, die naam Boanerges gegee. Dit beteken “Manne van die donderweer.” 18Die ander apostels was: Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Taddeus, Simon die patriot, 19en Judas Iskariot wat later vir Jesus verraai het.
Die skrifgeleerdes sê Jesus is Beëlsebul
(Ook Matt 12:22-26,29-32; Luk 11:14-15,17-23; 12:10)
20Daarna het Jesus huis toe gegaan. Daar het weer so baie mense bymekaargekom dat Hy en sy dissipels nie kon eet nie. 21Toe Jesus se familie dit hoor, het hulle gegaan om Hom daar weg te vat, want party mense het gesê: “Hy is mal!”
22Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem gekom het, het gesê: “ Beëlsebul, die leier van die duiwels, is in hom. Beëlsebul help vir Jesus om die duiwels uit te jaag.”
23Jesus het die mense geroep om nader te kom en Hy het vir hulle gelykenisse vertel. Hy het gesê: “Hoe kan die Satan homself uitjaag? Hy kan nie. 24As die mense van 'n land nie met mekaar kan saamwerk nie, dan kan hulle nie aanhou lewe nie. 25En as die mense van 'n huisgesin nie met mekaar kan saamwerk nie, dan sal daardie huisgesin nie bymekaar bly nie. 26Wat julle sê, beteken dat die Satan teen homself baklei, en dat hy nie met homself kan saamwerk nie. As dit so is, dan kan hy niks meer doen nie, en dan is dit sy einde. 27'n Mens kan nie maklik in die huis van 'n sterk man ingaan en sy goed steel nie. Nee, jy moet eers die sterk man vasbind, dan kan jy alles in sy huis steel. 28Ek sê vir julle, en dit is seker: God sal mense vergewe wanneer hulle sonde doen en sleg praat van iemand. 29Maar as iemand iets sleg sê teen die Heilige Gees, dan sal God dit nooit vergewe nie. So iemand sal altyd skuldig wees.”
30Jesus het dit gesê omdat die mense gesê het: “Hy het 'n onrein gees in hom.”
Jesus se ma en sy broers
(Ook Matt 12:46-50; Luk 8:19-21)
31Jesus se ma en sy broers het na Hom toe gekom. Hulle het buite bly staan, en hulle het 'n boodskap na Hom toe gestuur om Hom te roep. 32Baie mense het rondom Jesus gesit. Hulle het vir Hom gesê: “Kyk, jou ma en jou broers en jou susters is daar buite en hulle soek jou.”
33Jesus het vir hulle gevra: “Wie is my ma en my broers?”
34Hy kyk toe na die mense wat in 'n kring rondom Hom sit, en Hy sê: “Hierdie mense is my ma en my broers. 35Elkeen wat doen wat God wil hê, is my broer of my suster of my ma.”

Tans Gekies:

Markus 3: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid