Lukas 15:11-30

Lukas 15:11-30 ABA

Jesus het ook gesê: “'n Man het twee seuns gehad. Die jongste seun het vir sy pa gesê: ‘Pa, gee vir my die goed wat ek van Pa moet erf.’ Die pa het toe vir elke seun gegee wat hy moet kry. Kort daarna het die jongste seun al sy goed verkoop en hy het van die huis weggegaan na 'n ver land. Daar het hy wild gelewe en hy het sy geld uitgemors. Toe hy al sy geld uitgemors het, het daar 'n groot hongersnood in daardie land gekom. Die seun het begin swaarkry. Toe gaan werk hy by een van die mense van daardie land. Die man het hom gestuur om sy varke in die veld te laat wei. Die seun het gewens hy kan saam met die varke eet van die peule sodat hy nie meer honger is nie, maar niemand het dit vir hom gegee nie. Hy het toe ernstig begin dink oor sy lewe en hy het vir homself gesê: ‘My pa het baie mense wat vir hom werk, en hulle het almal genoeg kos. Maar ek? Hier sit ek en ek gaan amper dood van die honger. Ek sal opstaan en na my pa toe gaan en ek sal vir hom sê: Pa, ek het sonde gedoen teen God en teen jou. Ek is nie meer goed genoeg om jou seun te wees nie. Kan ek een van die mense wees wat vir jou werk?’ Hy het toe opgestaan en hy het na sy pa toe gegaan. Toe hy nog ver weg was, het sy pa hom gesien en sy pa was baie jammer vir hom. Hy het na sy seun toe gehardloop en hy het sy arms om sy seun se nek gesit en hom gesoen. Toe sê die seun vir sy pa: ‘Pa, ek het sonde gedoen teen God en teen jou. Ek is nie meer goed genoeg om jou seun te wees nie.’ Maar sy pa het vir die slawe gesê: ‘Bring gou die beste klere en trek dit vir hom aan. Sit 'n ring aan sy vinger en trek vir hom sandale aan. Bring die kalf wat ek vetgemaak het en slag dit, sodat ons kan eet en vrolik wees. Want hierdie seun van my was dood en hy lewe weer, hy was weg en ons het hom weer gekry.’ Hulle het toe begin om vrolik fees te vier. Die oudste seun was in die veld. Toe hy later naby die huis kom, hoor hy die mense maak musiek en hulle dans. Hy roep toe een van die slawe en vra vir hom wat by die huis gebeur. Die slaaf het gesê: ‘Jou broer is hier, en jou pa is bly hy het jou broer gesond teruggekry. Daarom het hy die kalf geslag wat hy vetgemaak het.’ Toe word die oudste seun baie kwaad en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa het uitgekom en hy het vir die seun gesoebat om in te gaan. Hy het vir sy pa gesê: ‘Luister, Pa, ek werk al so baie jare vir jou en ek was nog altyd gehoorsaam, maar jy het nooit vir my 'n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie. Maar hierdie seun van jou het al jou goed by prostitute uitgemors, en toe hy hier aankom, toe slag jy vir hóm die kalf wat jy vetgemaak het!’

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid