Handelinge 10

10
Petrus en Kornelius
1Daar was 'n man in die hawestad Sesarea. Sy naam was Kornelius. Hy was 'n offisier van 'n groep Italiaanse soldate. 2Hy en almal in sy huis het God gedien en gerespekteer. Hy het baie goeie dinge gedoen om die arm mense in die Joodse volk te help, en hy het elke dag tot God gebid. 3Een middag omtrent drie-uur het God iets vir Kornelius gewys: 'n Engel van God het na Kornelius toe gekom en vir hom gesê: “Kornelius!”
4Kornelius was bang. Hy het na die engel gekyk en gesê: “Wat is dit, Meneer?”
Die engel sê toe vir hom: “God het gehoor toe jy elke dag tot Hom gebid het en Hy het die goeie dinge gesien wat jy doen. 5Jy moet 'n paar mans na die hawestad Joppe stuur om vir Simon te gaan haal. Die mense noem vir Simon ook Petrus. 6Petrus bly by 'n man, sy naam is ook Simon. Hy is 'n leerlooier en hy het 'n huis by die see.”
7Die engel wat met Kornelius gepraat het, het weggegaan. Kornelius het twee van sy slawe wat in sy huis gewerk het, geroep en ook 'n soldaat wat vir hom gewerk het. 8Nadat Kornelius alles vir hulle vertel het, het hy hulle na Joppe gestuur.
9Terwyl hulle die volgende dag op die pad na Joppe was en nader kom na die stad, het Petrus op die huis se plat dak geklim om te bid. Dit was omtrent twaalfuur die middag. 10Hy het honger geword en hy wou iets hê om te eet. Terwyl die mense besig was om kos te maak, het die Here vir hom iets gewys, dit was soos in 'n droom. 11Petrus het gesien dat die hemel oop is en dat iets soos 'n groot stuk lap afkom uit die hemel. Dit het gelyk of iemand die lap vashou aan die vier hoeke en of hy die lap tot op die grond laat sak. 12In die groot stuk lap was van al die soorte diere: diere wat vier pote het, diere wat op die aarde kruip en voëls. 13Petrus hoor toe dat Iemand vir hom sê: “Petrus, staan op, slag die diere en eet dit.”
14Maar Petrus het gesê: “Nee, Here, ek kan dit nie doen nie, want ek het nog nooit iets geëet wat nie aan U gewy is nie, of iets wat onrein is nie.”
15Maar die Persoon het die tweede maal vir hom gesê: “God het hierdie diere rein gemaak. Jy moenie sê dit is onrein nie.”
16Dit het drie maal gebeur, en toe het iemand weer die lap opgetrek in die hemel in.
17Petrus het gewonder wat die dinge beteken wat hy gesien het. Die mans wat van Kornelius gekom het, het vir mense gevra waar Simon se huis is. Terwyl Petrus oor alles gewonder het, het hulle by die voordeur van die huis gestaan. 18Hulle roep toe en vra of Simon daar woon. Simon se ander naam was Petrus. 19Terwyl Petrus gedink het oor die dinge wat hy gesien het, het die Heilige Gees vir hom gesê: “Daar is drie mans wat jou soek. 20Jy moet nou opstaan en afgaan na hulle toe. En jy moet saam met hulle gaan, jy moenie twyfel nie, want Ék het hulle gestuur.”
21Petrus klim toe af van die dak en hy gaan na die mans toe en vra vir hulle: “Julle soek my, hier is ek. Hoekom is julle hier?”
22Toe antwoord hulle hom: “Die offisier Kornelius is 'n regverdige man, hy respekteer vir God, en die hele Joodse volk sê goeie dinge van hom. 'n Heilige engel het vir Kornelius gesê hy moet vir jou sê om na sy huis te kom sodat hy kan luister na wat jy sê.”
23Petrus het toe die mans genooi om in die huis te kom en hy het gesê hulle mag die nag daar slaap.
Die volgende dag het Petrus opgestaan en hy het saam met hulle gegaan. Party van die gelowiges van die hawestad Joppe het saam met hom gegaan. 24Die volgende dag het Petrus in Sesarea aangekom. Kornelius het klaar sy familie en sy beste vriende bymekaargeroep, hy het vir Petrus gewag en was haastig dat hy moet kom. 25Toe Petrus by die huis kom, het Kornelius hom gegroet en Kornelius het voor Petrus se voete gekniel soos 'n mens voor 'n koning kniel. 26Maar Petrus het vir Kornelius gehelp om op te staan en hy het vir hom gesê: “Staan op! Ek is self ook net 'n mens, soos jy.”
27Terwyl Petrus met Kornelius praat, het Petrus ingegaan in die huis. Hy sien toe daar is baie mense 28en hy sê vir hulle: “Julle weet dat 'n Jood nie by iemand mag wees wat nie 'n Jood is nie, 'n Jood mag ook nie vriende wees met iemand wat nie 'n Jood is nie. Maar God het vir my gewys dat ek nie mag sê dat iemand nie aan God gewy is óf dat hy onrein is nie. 29Daarom was ek nie ongehoorsaam nie en het ek gekom toe julle gesê het dat ek hiernatoe moet kom. Sê nou asseblief vir my hoekom het julle gesê dat ek moet kom?”
30Kornelius sê toe vir hom: “Drie dae gelede, op presies hierdie selfde tyd, drie-uur in die middag, was ek besig om te bid in my huis. Skielik het daar 'n man met blink klere voor my gestaan 31en hy het gesê: ‘Kornelius, God het geluister na jou gebed en Hy het die goeie dinge gesien wat jy gedoen het. 32Jy moet nou mense na die stad Joppe stuur om vir Simon te gaan haal. Die mense noem vir Simon ook Petrus. Hierdie Simon Petrus woon daar by 'n ander Simon, 'n leerlooier, sy huis is by die see.’ 33Daarom het ek dadelik mense na jou toe gestuur, en jy was baie vriendelik om hiernatoe te kom. Ons almal is nou hier bymekaar waar God ons kan sien. Ons is hier om te luister na alles wat die Here vir jou gesê het om vir ons te sê.”
Petrus praat by Kornelius se huis
34Toe het Petrus begin praat en gesê: “Ek verstaan nou waarlik dat God nie dink een persoon is belangriker as 'n ander persoon nie. 35Nee, in elke volk hou God van die mense wat Hom respekteer en wat die dinge doen wat God wil hê. 36Julle ken die boodskap wat God vir die Israeliete gestuur het. Jesus Christus het daardie goeie boodskap van vrede vir hulle gebring. En Hý, Jesus, is die Here van almal. 37Julle weet van die dinge wat gebeur het in die hele Joodse land. Dit het alles in die provinsie Galilea begin toe Johannes die Doper gepreek het oor die doop waarmee hy die mense doop. 38Julle weet dat God die Heilige Gees in Jesus van Nasaret laat kom het en dat God vir Hom krag gegee het. God was by Jesus, daarom het Jesus na baie plekke gegaan en Hy het goeie dinge gedoen: Hy het almal gesond gemaak wat baie swaar gekry het omdat die duiwel in hulle was. 39En ons is getuies van alles wat Jesus in die land van die Jode en in Jerusalem gedoen het. Die Jode het vir Jesus aan 'n houtpaal gehang en so het hulle Hom doodgemaak. 40Maar God het vir Jesus op die derde dag weer laat lewe en God het Jesus vir ons gewys. 41God het Hom nie vir al die mense van die volk gewys nie, net vir ons, ons wat saam met Jesus geëet en gedrink het nadat Hy gesterf het en nadat God vir Jesus weer laat lewe het. God het ons voor daardie tyd gekies om getuies hiervan te wees. 42God het ook gesê dat ons vir die volk moet vertel en moet getuig dat God vir Jesus gekies en aangestel het om die Regter te wees. Die Regter moet oordeel oor die mense wat lewe en oor die mense wat klaar gesterf het. 43Dit is oor Hóm wat al die profete getuig. Hulle sê dat God die sondes sal vergewe van elkeen wat in Jesus glo.”
Mense wat nie Jode is nie, ontvang die Heilige Gees
44Terwyl Petrus nog besig was om hierdie dinge te sê, het die Heilige Gees gekom in al die mense wat geluister het na Petrus se boodskap. 45-46Die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, het gehoor dat die mense in tale praat en hulle het gehoor dat die mense God prys. Die Joodse gelowiges was toe baie verbaas omdat God die Heilige Gees ook in heidene laat kom het. Petrus sê toe: 47“Niemand kan dit keer nie, hierdie mense mag met water gedoop word, want hulle het ook die Heilige Gees ontvang, soos ons.”
48Petrus het toe gesê dat Kornelius en al sy mense gedoop moet word in die Naam van Jesus Christus. Daarna het hulle vir Petrus gevra om nog 'n paar dae daar te bly.

Tans Gekies:

Handelinge 10: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid