GALASIËRS 5:1-12

GALASIËRS 5:1-12 NLV

Om vry te wees! – dit is waarvoor Christus ons vrygemaak het! Maak seker dat julle vry bly, en moet nie weer onder ’n slawejuk vasgebind word nie. Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus niks vir julle beteken nie. Ek sê dit weer: Elkeen wat besny word, is verplig om die hele wet na te kom. Julle wat deur God vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, het julle van Christus losgemaak. Julle het God se genade verbeur. Wat ons betref, die Gees laat ons uitsien na dit waarop ons hoop: vryspraak deurdat ons glo. Vir mense wat met Christus verenig is, is dit nie belangrik of jy besny is of nie besny is nie. Wat egter wel belangrik is, is geloof wat deur liefde dade word. Julle het so goed gevorder. Wie het julle gekeer om die waarheid te bly gehoorsaam? Die idee kom nie van Hom wat julle geroep het nie! Onthou: ’n Bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur. Ek het vertroue in die Here wat julle betref dat julle nie anders as ek sal dink nie. Maar die persoon wat julle verwar het, sal gestraf word, wie dit ook al is. Wat my betref, broers en susters, as dit waar is dat ek steeds verkondig dat besnydenis noodsaaklik is, waarom word ek dan vervolg? Dan is daar mos nie meer ’n kruisboodskap wat kan aanstoot gee nie. Ek wens werklik dat dié wat julle opstandig maak oor die besnydenis, sommer hulleself kastreer!

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid