GALASIËRS 5:1-12

GALASIËRS 5:1-12 Bybel vir almal (ABA)

Christus het julle vrygemaak. Daarom moet julle vry bly. Julle moenie dat ander mense julle weer slawe van wette maak nie. Ek, Paulus, sê nou vir julle: As julle vir julle laat besny, dan help dit nie dat julle in Christus glo nie. Ek sê weer reguit vir julle: Elkeen wat hom laat besny, moet dan alles doen wat al die wette sê. Julle wat dink God sal julle vryspreek omdat julle doen wat die wette sê, julle is nie meer by Christus nie. Julle het God se genade verloor. Maar ons hoop en ons weet God sal ons vryspreek omdat ons die Heilige Gees het en in Christus glo. As ons aan Christus Jesus behoort, dan maak dit nie saak of ons besny is of nie besny is nie. Wat is belangrik? Dit is belangrik dat ons moet glo en dat ons lief moet wees vir God en vir ander mense. Julle het voorheen gedoen wat God wil hê, maar nou keer iemand vir julle en julle doen nie meer daardie dinge nie, die dinge wat mense doen wat die waarheid ken. Dit is nie God wat vir julle keer nie. God het julle geroep, en julle is nou sy kinders. Julle moet onthou 'n klein bietjie suurdeeg laat al die deeg rys. Ek is seker julle sal dink soos ek dink, want julle behoort aan die Here. Maar God sal die man straf wat julle koppe deurmekaar maak. Dit maak nie saak wie daardie man is nie. Vriende, daar is mense wat sê ek preek en sê gelowiges moet hulle laat besny, maar dit is nie waar nie. Ek het vir gelowiges gesê hulle moet hulle nie laat besny nie, dit is hoekom party mense my laat swaarkry. Want as ek vir gelowiges gesê het hulle moet hulle laat besny, dan was my boodskap oor die kruis van Christus nie vir party mense 'n probleem nie. Ek wens al die mense daar by julle wat julle koppe deurmekaar maak en wat sê julle moet besny word, sny hulle eie geslagsorgane heeltemal af.

GALASIËRS 5:1-12 Die Boodskap (DB)

Christus het ons vrygemaak om regtig vry te wees. Hou vas aan hierdie vryheid. Moet dit vir niks ter wêreld prysgee nie. Moenie toelaat dat ander mense julle weer slawe van hulle skewe sienings maak nie. Kom ek sê reguit vir julle wat ek bedoel. As een van julle julle laat besny, maak julle ’n bespotting van die nuwe vryheid wat Christus aan julle gegee het. Dan kan julle maar net sowel ophou om in Hom te glo. Dan moet julle ook weer die wet gehoorsaam. Julle wat besluit het om al hierdie godsdienstige reëls en wette te hou om in die regte verhouding met God te wees, sny julle heeltemal van Christus af. Julle het buite die kragveld van sy genade beland. Aan die ander kant, ons wat glo, het ’n wonderlike vooruitsig. Omdat die Gees by ons is, weet ons dat ons op pad is na God se nuwe wêreld. Hy sal sorg dat ons saak met God reg is wanneer ons eendag voor Hom moet gaan staan. As ons in Christus glo, maak dit glad nie saak of ons die teken van die besnydenis aan ons liggaam dra of nie, want dit tel glad nie meer by God nie. Dit is uit die mode; ou nuus. Al wat nou saak maak, is geloof, daardie soort geloof wat maak dat ons ander mense met alles in ons liefhet. Tot dusver het julle baie goed gevorder op die pad van die geloof. Soos goeie atlete het julle voluit gehardloop. Wie het nou vir julle kom sê om anders te lewe? Beslis nie God nie. As julle op hierdie verkeerde pad aanhou loop, gaan julle later die hele kerk saam met julle in die gemors insleep. Onthou, ’n klein bietjie suurdeeg maak immers ’n groot stuk deeg suur. Maar voordat julle dink ek het julle heeltemal afgeskryf, wil ek darem net sê: ek is nie te mismoedig oor julle nie. In vertroue op die Here weet ek dat julle nie op sleeptou geneem sal word deur verkeerde leringe nie. Maar daardie persoon wat julle kop so deurmekaar kom krap het, wie hy ook al is, speel met vuur. God se oordeel wag op hom. My liewe broers en susters, daar by julle word ’n storie versprei dat ek sou gesê het dat gelowiges nog steeds besny moet word. Dit is ’n leuen. Ek sou mos nooit soveel teëstand ervaar het as ek dit gesê het nie. My prediking oor die kruis sou dan nie so ’n groot probleem vir my opponente gewees het nie. Dit lyk vir my diegene wat sê Christene moet besny word, het julle kop behoorlik deurmekaargemaak. Ek wens daardie spul se mes gly ’n slag sodat hulle hulleself ontman. Dan het hulle iets anders om hulle oor te bekommer.

GALASIËRS 5:1-12

GALASIËRS 5:1-12 AFR83GALASIËRS 5:1-12 AFR83GALASIËRS 5:1-12 AFR83

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid