PREDIKER 12

12
1Onthou jou Skepper
terwyl jy jonk is,
later kom daar moeilike tye
waarvan jy sal sê:
“Ek geniet dit nie.”
2Dan sal die son, die daglig,
die maan en die sterre
donker word,
die tyd wanneer dit weer bewolk word
ná die reën.
3Dit is die tyd wanneer die wagters
van die huis sal bewe,
die sterk manne waggel
en die malers ophou maal
omdat hulle min geword het,
die tyd wanneer dit donker word
vir dié wat deur die vensters kyk,
4wanneer die deure na die straat toe
toegemaak word,
die geluid van die meul dof word,
die tyd wanneer ’n mens opstaan
as die voëls begin sing
al hoor hy geen lied meer nie.
5Dit is die tyd wanneer hy bang is
vir ’n hoogte
en vir alles op die pad skrik,
die tyd wanneer die amandelboom
in bloei staan,
die sprinkaan homself
moeisaam voortsleep.
Dis die tyd
wanneer ’n mens se begeertes
nie meer opgewek kan word nie.
Dis die tyd
wanneer die mens
na sy ewige woning gaan,
en dié wat treur
op die straat rondgaan.
6Dis die tyd
wanneer die silwer draad van jou lewe
afgebreek word
en die goue kruik versplinter,
die kruik by die fontein
stukkend breek
en die wiel by die put
stukkend val.
7Dan sal die stof teruggaan
na die aarde toe
soos dit was
en die gees terugkeer na God
wat dit gegee het.
8“Alles is sinloos,”
sê die Prediker,
“alles is absoluut sinloos.”
Laaste opmerkings
9Die Prediker was nie net
baie wys nie,
maar het ook kennis
aan die volk gegee.
Hy het nagedink, nagevors
en spreuke gemaak.
10Die Prediker het
die regte woorde probeer kies,
en die waarheid
getrou neergeskryf.
11Die woorde van wyse mense
is soos skerp stokke,
versamelde spreuke
soos spykers wat ingeslaan is.
Dit is deur een Herder gegee.
12Wees verder versigtig, my kind:
Aan die skryf van baie boeke
kom daar geen einde nie.
En deur baie te studeer,
ooreis jy jou liggaam.
13Na alles wat jy gehoor het,
is dit die finale slotsom:
Wees eerbiedig teenoor God
en gehoorsaam sy gebooie.
Dit word van alle mense gevra.
14Want God gaan elke daad
beoordeel,
ook wat jy in die geheim
gedoen het,
of dit goed is of kwaad.

Tans Gekies:

PREDIKER 12: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid