KOLOSSENSE 2

2
Paulus se stryd sodat gelowiges God se geheim kan ken
1Ek wil hê julle moet weet hoe hard ek stry – vir julle, vir die gelowiges in Laodisea en vir al die ander gelowiges wat my nog nie persoonlik ontmoet het nie.
2Dit is my doel dat hulle moed sal skep en deur liefde aan mekaar verbind sal wees. Ek wil hê dat hulle insig skatryk en oorvloedig sal wees, ja, dat hulle God se geheim heeltemal moet ken, naamlik: Christus#2:2 Sommige manuskripte die geheim van God die Vader en van Christus..
3In die eenheidsband met Christus#2:3 Grondteks In Hom. is al die geheime skatte van wysheid en kennis te vind.
4Ek skryf dit vir julle sodat niemand julle met mooipraatjies om die bos kan lei nie. 5Al is ek nie persoonlik teenwoordig nie, is ek in die gees by julle. Ek is bly om te sien hoe ordelik julle is en hoe vas julle geloof in Jesus Christus is.
Julle het saam met Christus gesterf en opgestaan
6Noudat julle Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle lewe soos mense wat aan Hom verbonde is. 7Bly in Christus geanker en bou op Hom, standvastig in die geloof soos julle geleer is, en loop oor van dankbaarheid.
8Wees op julle hoede en laat niemand julle op sleeptou neem met ’n leë, misleidende filosofie wat wel rekening hou met menslike tradisie en met wêreldse magte#2:8 Grondteks die kosmos., maar nie met Christus nie. 9Die volheid van God is mos liggaamlik in Christus teenwoordig. 10En omdat julle één is met Christus deel julle in sy volheid – Hy wat die hoof is van elke heerskappy en gesag.
11Omdat julle één is met Christus is julle ook besny, nie met ’n besnydenis deur mense nie, maar met die besnydenis van Christus. Hierdie besnydenis bestaan uit die wegneem van julle sondige geaardheid. 12Toe julle gedoop is, is julle saam met Christus begrawe. Omdat julle één is met Hom is julle ook saam met Hom opgewek. Julle geloof in die krag van God het dit moontlik gemaak – hierdie selfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het!
13Julle was eintlik dood omdat julle gesondig het en omdat julle sondige geaardheid nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewendig gemaak. Hy het ons al ons sondes vergewe. 14Hy het die dokument met voorskrifte wat as klagstaat teen ons gedien het, uitgevee en dit vir goed weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker. 15So het Hy die regeerders en gesagvoerders ontwapen. Hy het hulle in die openbaar bespotlik gemaak deur aan die kruis oor hulle te triomfeer.
16Moet dus nie toelaat dat enigiemand julle veroordeel oor wat julle eet of drink, of oor die vier van sekere feesdae of die Nuwemaanfees of Sabbatte nie. 17Al hierdie dinge is net ’n skaduwee van wat sou kom. Die ware werklikheid#2:17 Grondteks liggaam. is Christus! 18Laat niemand wat aandring op selfvernedering en engelverering – en dit met ’n beroep op visioene!#2:18 Sommige manuskripte op wat hy nie gesien het nie. – julle op sleeptou neem nie. Verniet dink hierdie mense, tipies van hulle sondige geaardheid, baie van hulleself. 19Hulle is nie aan die hoof#2:19 Dit is Christus. verbind uit wie die hele liggaam groei nie. Vanuit die hoof groei die hele liggaam, ondersteun en saamgebind deur gewrigte en spiere. Gód laat dit groei!
20Aangesien julle, deur saam met Christus te sterf, die bose wêreldse magte afgesterf het, waarom leef julle nog volgens wêreldse voorskrifte soos: 21“moenie vat nie”, “moenie dit eet nie” en “moenie aanraak nie”? 22Dit is alles dinge wat verbruik word en vergaan – soos dit gaan met mensgemaakte voorskrifte en leringe. 23Met hulle selfuitgedinkte godsdienstige toewyding, selfvernedering en streng liggaamlike dissipline het hierdie voorskrifte nogal die reputasie dat hulle wysheid bevat. Inderwaarheid is hulle nutteloos vir die beheer van die sondige geaardheid.

Tans Gekies:

KOLOSSENSE 2: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid