KOLOSSENSE 3

3
Hoe om die nuwe lewe wat Christus gee, te leef
1Aangesien julle saam met Christus tot ’n nuwe lewe opgewek is, streef na die dinge wat daarbo by Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge, nie deur dinge op die aarde nie. 3Julle het mos saam met Christus gesterf#3:3 Grondteks Julle het mos gesterf. en julle lewe is saam met Hom veilig by God weggesteek. 4Wanneer Christus, wat julle#3:4 Sommige manuskripte ons. lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn.
5Daarom moet julle die volgende wêreldse dinge afsterf wat deel van julle lewe is: seksuele sondes, onreinheid, wellus, slegte begeertes en gierigheid, wat van geld ’n god maak#3:5 Grondteks wat afgodery is.. 6Dit is oor sulke goed dat God se straf ongehoorsame mense tref. 7Vroeër was hierdie dinge ook deel van julle leefstyl. 8Maar nou moet julle ook nog van al die volgende ontslae raak: kwaad wees, woedebuie, gemeenheid, gevloek. Vuil taal moenie uit julle mond kom nie. 9Moenie vir mekaar lieg nie. Julle het mos die vorige mens en sy praktyke soos klere uitgetrek 10en die nuwe mens aangetrek. Hierdie mens kry voortdurend nuwe insig en word só verander en nuut gemaak om al meer soos sy Skepper te lyk. 11In hierdie nuwe lewe is daar nie langer sprake van Griek of Jood, besny of onbesny, ongekultiveerd, barbaars#3:11 Grondteks Skiet; die Skiete was bekend vir hulle ruwe barbaarsheid., slaaf of vry man nie. Al wat saak maak, is Christus wat alles in elkeen is.
12Julle is die mense wat God uitgekies het wat Hy geheilig het en wat Hy liefhet.#3:12 Grondteks Julle is die heilige en geliefde uitverkorenes van God. Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: liefdevolle deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld. 13Verdra mekaar en as enigeen ’n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het. 14Die heel belangrikste wat julle moet aantrek, is die liefde. Die liefde bind alles volmaak saam. 15Verder, laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewens#3:15 Grondteks harte. die deurslag gee; want as lede van een liggaam is julle tot vrede geroep. En wees dankbaar.
16Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal#3:16 Grondteks in julle bly.. Met alle wysheid moet julle mekaar onderrig en mekaar die regte pad wys. Sing met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God. 17Verder, doen alles – of dit nou met woorde of dade is – in die Naam van die Here Jesus. Só is julle heeltyd besig om deur Hom dank aan God die Vader te bring.
Hoe Christenskap verhoudings bepaal
18Vroue, wees aan julle mans onderdanig soos dit pas by mense wat met Christus één is. 19Mans, julle moet julle vroue liefhê en julle moenie griewe teenoor hulle opbou nie.
20Kinders, julle moet in elke opsig aan julle ouers gehoorsaam wees, want dan is die Here tevrede. 21Ouers#3:21 Grondteks Vaders., moenie aanhou foutvind met julle kinders sodat hulle moed verloor nie.
22Slawe, julle moet julle eienaars hier op aarde in elke opsig gehoorsaam. Julle moenie mense probeer tevrede stel deur net te werk as iemand kyk nie. Nee, werk met opregtheid van hart omdat julle eerbied vir die Here het. 23Pak alles gemotiveerd aan. Werk soos vir die Here en nie soos vir mense nie. 24Weet dat die Here julle met ’n erfdeel sal beloon. Die Eienaar vir wie julle werk, is Christus! 25Wie onreg doen, kry hulle onreg terug. God trek niemand voor nie.

Tans Gekies:

KOLOSSENSE 3: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid