2 SAMUEL 19:1-8

2 SAMUEL 19:1-8 NLV

Joab is vertel: “Kan jy dit glo! Die koning huil en rou sowaar oor Absalom!” En hoe meer soldate gehoor het van die koning se hartseer oor sy seun, hoe meer het die vreugde van die oorwinning verander in trane. Hulle het die stad binnegesluip soos manne wat skaam was omdat hulle uit die geveg weggehardloop het. Maar die koning het sy gesig toegemaak en hard geroep: “My seun Absalom! Absalom, my seun, my seun!” Joab het na die koning se kamer toe gegaan en vir hom gesê: “Vandag het u al die manskappe laat skaam kry. Hulle het u lewe en die lewe van u seuns en dogters, u vroue en byvroue gered. U het nou hulle lief wat u haat, en u haat hulle wat u liefhet. “U het dit vandag duidelik gemaak dat u niks omgee vir u bevelvoerders en manskappe nie. As Absalom nog gelewe het en ons almal dood was, sou u eerder tevrede gewees het. “Kom nou buitentoe en stel die soldate gerus, want ek sê nou voor die HERE, as u dit nie doen nie, sal daar teen vanaand nie een van hulle meer hier wees nie. Dit sal vir u rampspoediger wees as enige ramp wat u nog getref het.” Die koning het toe uitgegaan en in die stadspoort gaan sit. Toe die soldate hoor: “Die koning sit in die poort,” het al die manskappe voor die koning verskyn.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid