2 KORINTIËRS 13

13
Saam met Christus leef gelowiges uit die krag van God
1Dit is die derde keer dat ek nou na julle toe kom. “In die mond van twee of drie getuies staan elke woord vas.”#13:1 Deut 19:15. 2Ek het dit vroeër gesê toe ek julle die tweede keer besoek het, en ek herhaal dit nou weer terwyl ek nog afwesig is – ek sê dit vir dié wat al vroeër sonde gedoen het, en ook vir die ander: As ek nou weer kom, sal ek niemand ontsien nie. 3Julle soek mos ’n bewys dat Christus deur my praat. In werklikheid is Hy nie swak nie, maar betoon Hy Hom kragtig teenoor julle, 4want al is Hy gekruisig in menslike swakheid, leef Hy uit die krag van God. Want ons is swak saam met Hom, maar ons sal ook saam met Hom uit die krag van God lewe. Dit sal duidelik blyk wanneer ons by julle is.
5Ondersoek julleself of julle in ’n egte geloofsverhouding met Christus staan. Toets julleself. As julle nie daarvan oortuig is dat Christus in julle woon nie, het julle die toets nie geslaag nie. 6Ek hoop julle besef dat ons wel die toets geslaag het.
7Ons bid tot God dat julle niks slegs sal doen nie. Ons bid dit, nie om daarmee bewys te lewer dat ons die toets geslaag het nie.
Ons bid dat julle die goeie sal doen, selfs al sou dit lyk of ons die toets nie geslaag het nie. 8Want ons vermag niks teen die waarheid nie, maar net ten gunste van die waarheid. 9Ons is maar te bly wanneer ons swak is, solank julle maar net sterk is. Waarvoor ons bid, is dat julle julle geestelik sal regruk.
10Ek skryf hierdie dinge terwyl ek nog afwesig is sodat wanneer ek by julle is, ek nie nodig sal hê om met die gesag wat die Here aan my gegee het – om op te bou en nie om af te breek nie – streng teenoor julle op te tree nie.
11Verder, broers en susters#13:11 Grondteks broers., wees bly, ruk julle reg, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle bly!
12Groet mekaar met die soen van Christelike liefde. Al God se mense#13:12 Grondteks Al die heiliges. stuur aan julle groete.
13Mag die genade#13:13 Of onverdiende goedheid. van die Here Jesus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees met julle almal wees.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid