1 KONINGS 5

5
Salomo kry boumateriaal vir die tempel
1Koning Hiram van Tirus was al die jare ’n getroue vriend van Dawid. Toe hy verneem dat Dawid se seun Salomo as koning van Israel gesalf is, het hy gesante gestuur om hom geluk te wens. 2Salomo het vir hom die volgende boodskap gestuur: 3“U weet dat my pa, Dawid, nie ’n tempel tot eer van die Naam van die Here sy God kon bou nie omdat hy reg rondom oorloë moes voer totdat die Here hom die oorhand gegee het. 4Maar nou het die Here my God vir my aan alle kante vrede gegee. Daar is geen vyande of gevaar wat my bedreig nie. 5Daarom beplan ek om ’n tempel tot eer van die Naam van die Here my God te bou. Dit is soos die Here my pa belowe het toe Hy gesê het: ‘Jou seun wat Ek in jou plek op die troon sal sit, sal ’n tempel tot eer van my Naam bou.’ 6Nou versoek ek u dat u asseblief vir my seders op die Libanon sal laat afkap. Laat my arbeiders saam met u arbeiders werk. Ek sal vir u arbeiders betaal wat u vra. Soos u weet, kan niemand van ons mense bome kap soos die Sidoniërs kan nie!”
7Toe Hiram hierdie boodskap van Salomo kry, was hy baie in sy skik en het gesê: “Loof die Here wat vir Dawid ’n wyse seun gegee het om koning te wees van die groot volk Israel.” 8Hy het die volgende antwoord aan Salomo gestuur: “Ek het u versoek ontvang en sal u voorsien van sowel sederhout as sipreshout soos u versoek het. 9My arbeiders sal die stompe van die Libanonberge na die see toe bring en dit in vlotte aanmekaarbind. Ons sal hulle dan al seelangs laat dryf tot by die plek wat u verkies. Ons sal daar die vlotte opbreek en die hout aan u oorhandig. U kan my dan betaal deur my met die kos te voorsien wat ek vir my huishouding nodig het.”
10Op dié manier het Hiram vir Salomo soveel seder- en sipreshout verskaf soos wat hy nodig gehad het. 11Salomo het jaarliks vir Hiram se hofhouding 3 300 ton koring en 4 400 liter suiwer olyfolie voorsien. 12Die Here het aan Salomo wysheid gegee soos Hy belowe het. Daar was ’n goeie verhouding tussen Hiram en Salomo. Hulle het ook ’n vredesverdrag gesluit.
13Koning Salomo het dwangarbeid in Israel ingestel. Daar was altesaam 30 000 dwangarbeiders. 14Hy het hulle in skofte na die Libanon toe gestuur. Groepe van 10 000 het om die beurt vir ’n maand daar gewerk en dan vir twee maande huis toe gekom. Adoniram was in beheer van die dwangarbeid. 15Salomo het ook 70 000 draers en 80 000 klipkappers in die berge gehad. 16Hy het verder 3 300 opsigters aangestel wat oor die arbeiders moes toesig hou. 17Die koning het beveel dat die klipkappers groot blokke van goeie gehalte klip moes uitkap sodat die fondament vir die tempel van gekapte klip kon wees. 18Mense uit Gebal het saam met Salomo en Hiram se werkers die hout en die klippe vir die bou van die tempel voorberei.

Tans Gekies:

1 KONINGS 5: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid