1 KONINGS 4

4
Salomo se administrasie
1Koning Salomo het nou oor die hele Israel regeer.
2Sy hoofamptenare was die volgende:
Asarja seun van Sadok
was die hoëpriester.
3Eligoref en Agija,
die seuns van Sisa,
was hofsekretarisse.
Josafat seun van Agilud
was die geskiedskrywer.
4Benaja seun van Jojada
was opperbevelvoerder
van die leër.
Sadok en Abjatar
was die priesters.
5Asarja seun van Natan
was oor die streekbestuurders.
Sabud seun van Natan
was ’n priester
en die koning se persoonlike
raadgewer.
6Agisar was die paleisopsigter.
Adoniram seun van Abda
was oor die dwangarbeiders.
7Salomo het ook twaalf streekbestuurders deur die hele Israel aangestel om lewensmiddele vir die koning en sy huishouding in te samel. Elkeen was verantwoordelik vir die voorraad van een maand in die jaar.
8Die name van die twaalf streekbestuurders was:
Ben-Gur in die bergland
van Efraim.
9Ben-Deker in Makas, Saälbim,
Bet-Semes
en Elon-Bet-Ganan.
10Ben-Gesed in Arubbot,
insluitend Soko
en die hele Geferstreek.
11Ben-Abinadab
in die bergland van Dor.
Hy was getroud met Tafat,
een van Salomo se dogters.
12Baäna seun van Agilud
in Taänak en Megiddo
en ook in Bet-San,
wat grens aan Saretan
onderkant Jisreël,
vanaf Bet-San
tot by Abel-Megola
en tot anderkant Jokmoam.
13Ben-Geber in Ramot-Gilead,
asook die tentdorpe
van Jaïr seun van Manasse
in Gilead,
die Argobgebied van Basan,
asook 60 ommuurde stede
met poortgrendels van brons.
14Aginadab seun van Iddo
in Maganajim.
15Agimaäs in Naftali.
Hy was getroud met Basemat,
’n ander dogter van Salomo.
16Baäna seun van Gusai
in Aser en Alot.
17Josafat seun van Paruag
in Issaskar.
18Simeï seun van Ela
in Benjamin.
19Geber seun van Uri
in die Gileadstreek
waar Sihon koning was
van die Amoriete,
en Og
die koning van Basan.
Daar was net een bestuurder
in hierdie streek.
Salomo heers van die Eufraatrivier tot in Egipte
20Die inwoners van Juda en Israel was so baie soos die sand by die see. Hulle het genoeg gehad om te eet en te drink, en was gelukkig en tevrede. 21Koning Salomo het regeer oor al die koninkryke vanaf die Eufraatrivier tot by die land van die Filistyne, en so ver suid as die grens van Egipte. Hierdie lande het belasting aan Salomo betaal en was aan hom onderdanig solank hy gelewe het.
22Die daaglikse kosvoorraad vir Salomo se paleis was vyf ton fynmeel en tien ton broodmeel, 23tien vetgemaakte beeste, twintig beeste uit die veld, 100 kleinvee, asook takbokke, gemsbokke, ribbokke en vetgemaakte pluimvee.
24Salomo se ryk het al die koninkryke wes van die Eufraatrivier ingesluit, vanaf Tifsag tot by Gasa. Deur die hele landstreek het daar vrede geheers. 25Gedurende die leeftyd van Salomo het Juda en Israel in veiligheid gelewe. Vanaf Dan in die noorde tot by Berseba in die suide het hulle veilig gewoon, elkeen met sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom.
26Salomo het 4 000#4:26a Volgens 2 Kron 9:25. Grondteks 40 000. stalle vir sy strydwaens se perde#4:26b Of 4 000 trekperde op stal gehad vir sy strydwaens. gehad en 12 000 ryperde. 27Die streekbestuurders het elkeen een maand per jaar gesorg dat daar genoeg kos vir koning Salomo en sy hofhouding was. 28Hulle het ook gars en hooi vir die ryperde en die trekperde op die bestemde plekke besorg.
Salomo se onoortreflike wysheid
29God het vir Salomo baie wysheid en onderskeiding gegee, en ook kennis wat soos die sand aan die see nie gemeet kan word nie. 30Trouens, sy wysheid het dié van die wyse manne van die ooste en dié van Egipte ver oortref. 31Hy was wyser as enigiemand anders, meer as Etan die Esragiet en Heman, Kalkol en Darda, die seuns van Magol. Sy naam het bekend geword onder al die omliggende nasies. 32Hy het 3 000 spreuke geskryf en 1 005 liedere gedig. 33Hy kon met gesag praat oor bome en plante, van die groot seders van die Libanon tot die kleinste hisop wat uit die mure groei. Hy kon ook praat oor diere, voëls, reptiele en visse. 34Mense het van oral af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. Al die konings van die wêreld wat van sy wysheid gehoor het, het gesante gestuur.

Tans Gekies:

1 KONINGS 4: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid