Leesplan inligting

Dis Tyd Vir... NadenkeVoorbeeld

Dis Tyd Vir... Nadenke

DAG 1 VAN 5

Passie en olie

1 Petrus 1:19: “... julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.”

Glo jy dít? ‘n Paar jaar gelede het ek na die film "Passion of the Christ" gekyk. Hierdie film het groot opslae gemaak in die filmindustrie. My hele wese was gevul met veragting vir die mensdom en waartoe ons in staat is. Die mens verwoes, beskuldig, verkleineer en haat waarheid. Selfsug en eie eer is orals óm ons en nie net te bespeur in hierdie film nie. ‘n Passievolle “woede” het my gevul ... die arrogansie van die mens en die openbare tentoonstelling van mag teenoor waarheid.

Passie: ‘n sterk woord wat beteken hartstog, toorn, vurigheid en drif. Dit kan ook "sag" wees binne óns begrip van die woord, dus tweeledig (bv. ‘n passie om oumense te versorg). Ek raai dat God soms tweeledig, selfs in twee geskeur kan voel. Die toorn en ook liefde ... baie gedagtes het in my hart geroer.

God is oral — ín jou, om jou, saam gedompel in pyne en daarna. Hy sien, beleef en weet álles. Dis menslik abstrak om regtig te verstaan. Hy ís ... Hy voed jou siel passievol (hartstogtelik) met sy strelende olie. Hy kan jou hart met drif (ook passie) oorreed om, deur die werking van sy Gees, op te staan teen sonde en te glo dat Hy alleen kan red.

In my geestesoog sien ek dat Hy ‘n groot pot geurige olie uitgiet op al die onvolmaakte potte (die mens) waaraan Hy, die Pottebakker, steeds werk. Die simboliek daarvan is dat sy genade en liefde, sag en passievol gegéé word oor elkeen. As droë erdekruike is ons hopelik poreus genoeg om die olie te absorbeer en te marineer in sy genade — dít is verniet en voorkom verdere krake.

Hyself, dié pragtige Erdekruik moes eers in stukke opgebreek word om later vir ons te kon voed. Ek het steeds passie-olie nodig om verskeie droë porieë te bevog. Jy en ek behoort aan Hom, die meester Pottebakker!

Jesus, deurdrenk my met u olie as salf vir my gebrokenheid en sonde. U voeding genees op alle vlakke.

Lees gerus ook Jesaja 30:13-15 waar daar verwys word na kleipotte wat in skerwe val (die mens), maar dat God tot jou redding kom!

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Dis Tyd Vir... Nadenke

Soms raak mens mismoedig oor die lewe en die "kaarte wat vir jou gedeel is". Ons lees die Woord maar fokus nie regtig nie. Tog help dit om vir 'n oomblik asem te haal en na te dink oor waar jy jou bevind. Baie woorde in ...

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://whitevapor.wordpress.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid