Leesplan inligting

KykNET Lent GidsVoorbeeld

KykNET Lent Gids

DAG 3 VAN 39

Ek maak aanpassings vir die reis

“… Sorg jy liewer dat jy God reg dien. Jy moet oefen om dit te doen soos ’n atleet oefen om fiks te bly. ’n Atleet wat oefen om fiks te bly doen goed, maar dit help nie vir alles nie. Om egter geestelik te oefen om fiks te bly deur God te dien, is regtig die moeite werd. Dit help ’n mens op alle maniere, vir die lewe hier op aarde én die lewe wat vir ons wag in die toekoms. Hierna kan julle maar luister, want dit is die absolute waarheid.”
1 Timoteus 4:7-9 (Die Boodskap)

Ons belewenis van die Lydens-reis kan verdiep wanneer ons doelbewus aanpassings maak vir hierdie tyd. Ons kies ’n spesifieke tyd elke dag om te bid, ons rig ’n ruimte vir gebed in. Nog ’n praktyk vir Lydenstyd is om in jou vastyd iets prys te gee waarin jy soms ’n bietjie troos vind. Dallas Willard sê: "ons vas sodat ons op Jesus kan feesvier." Die anderkant van die muntstuk is dat ons ook iets opneem met die ekstra kapasiteit wat vas besorg, iets wat jou innerlike kan voed. Mense gee soms dinge prys soos sjokolade, koffie, wyn, sosiale media of ’n TV-reeks, en vervang dit dan met aktiwiteite soos om geestelike boeke te lees, gesprekke met ander te hê, of dienswerk te doen. Elke keer wanneer jy bewus raak van dit wat jy prysgegee het, is dit ’n geleentheid om jou na God te wend. Die “woestyn” raak ’n plek van ontmoeting met God.

Wat is dit wat jy gaan prysgee en in die plek daarvan moet doen?

Ek sien onlangs op sosiale media hoe ’n vriendin vertel van die reisjoernale wat sy vir hulle kinders gee wanneer hulle reis. Sy nooi hulle om aan die einde van die dag neer te skryf wat vir hulle spesiaal was, wat hulle geleer het, wat hulle ontstel het. Maande daarna kan hulle dan die stories van hulle reis met mekaar deel.

Dit kan nuttig wees om aan die einde van elke dag so ’n joernaal te hou. Vra die Here om jou te help onthou wat belangrik is, en loop in jou verbeelding saam met Jesus deur jou dag. Let op alles wat in jou hart gebeur, dit waarvoor jy dankbaar is, dit wat vir jou lewe gee, en dit wat vir jou moeilik was.

Laat jou dag in jou verbeelding soos ’n rolprent afspeel. Let op wat vandag in jou hart gebeur het; identifiseer die een ding wat jou lewe gegee het, en die een ding wat vir jou moeilik was.

Dit is belangrik om al hierdie aanpassings met baie geduld en deernis teenoor jouself aan te pak. Besluit op haalbare tye wat jy aan gebed kan wy. Wanneer jy dit mis, begin net weer. Ons doel is om met Jesus op reis te wees, ’n reis waarop ons altyd beginners is.

Herhaalgebed:

Here, gee my die genade om my oë op U te hou.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

KykNET Lent Gids

Lydenstyd nooi my om dit wat ek eerder vermy, in die gesig te staar — my verganklikheid, my gebrokenheid, my hartseer en teleurstellings.

Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.mosaiek.com/
 

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid