Leesplan inligting

KykNET Lent GidsVoorbeeld

KykNET Lent Gids

DAG 2 VAN 39

Ek berei voor vir die reis

"As jy bid, gaan dan na ’n stil plek toe waar niemand jou kan sien nie. Trek die deur agter jou toe en praat daar eenkant opreg met jou hemelse Vader. Hy sal sorg dat jy jou hemelse beloning kry"
Matteus 6:6 (Die Boodskap).

Is daar spesiale plekke waar jy nader aan die Here voel?

Waar jy meer wil bid, op ’n ander manier van God bewus raak?

Waar jy voel dat jy jou skoene moet uittrek?

Vir baie mense is dit in die natuur. Vir my is dit by die see. Daar is iets aan die grootsheid, aan die in- en uitspoel van golwe en die gedruis van die branders wat my roep tot nadenke, verwondering; wat my wil laat bid. Ek voel ook so by plekke wat toegewy is aan gebed — soos katedrale, kerke en plekke van toevlug en afsondering. Dit feit dat mense vir so lank al daarheen gegaan het net om te bid, inspireer my ook om te bid.

Natuurlik kan ons enige plek bid. God woon nie in mensgemaakte tempels nie.

Jesus se teenwoordigheid vul elke deel van die heelal.

Ons kan hom vind in ons kar, by ons werkplek, in die kombuis.

Maar terselfdertyd kan plekke ons help om te bid. Dit is so dat God oral teenwoordig is. Die probleem is dat EK nie altyd teenwoordig is waar ek is nie.

My aandag word maklik afgelei, met soveel dinge wat na my fokus vereis. Jakob se woorde kan net sowel myne wees: “Waarlik, die Here was in hierdie plek en ek was nie daarvan bewus nie.” (Genesis 28:16)

Van al die dinge wat Jesus se dissipels hom kon vra om hulle te leer, is hulle enigste versoek: Here, leer ons om te bid. Hy gee vir hulle die woorde van die Ons Vader, maar nie voor Hy vir hulle die riglyne gee wat vandag ons Skrifgedeelte is nie.

In hierdie voorbereidingstyd word jy genooi om te dink aan die plek waar jy gaan bid tydens Lydenstyd. Dit kan vir jou goed wees om vir hierdie 40 dae van Lydenstyd 'n spesifieke plek te kry waar jy elke dag kan bid. Rig die plek so in dat jy daar wil bid. Jou huis het dalk ’n aparte vertrek wat jy hiervoor kan gebruik. Maar dalk is daar ’n stoel wat jy eenkant wil sit, met ’n kunswerk of ‘n kers. Dit kan dan sommer ook ’n visuele herinnering wees – iets wat jou herinner en roep om te bid elke keer wanneer jy dit sien.

Oefening: Staan tyd af om vir jou ’n plek van gebed in te rig tydens Lydenstyd. Besluit ook op ’n tyd en tydsduur wat vir jou die meeste dae goed sal pas.

Herhaalgebed:

Here, gee my die genade om bewus te wees van u teenwoordigheid.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

KykNET Lent Gids

Lydenstyd nooi my om dit wat ek eerder vermy, in die gesig te staar — my verganklikheid, my gebrokenheid, my hartseer en teleurstellings.

Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.mosaiek.com/
 

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid