ESRA 3:2-8

ESRA 3:2-8 Bybel vir almal (ABA)

Jesua seun van Josadak en die ander priesters, en Serubbabel seun van Sealtiël en die ander leiers het begin om die altaar van die God van Israel weer te bou. Hulle wou brand-offers op die altaar offer, hulle wou doen soos die Wette van Moses sê, Moses, die man van God. Hulle was bang vir die ander volke in die land, maar hulle het die altaar gebou op die plek waar hy moet wees, en hulle het brand-offers op die altaar gebring vir die Here, die brand-offers in die oggend en die brand-offers in die aand. Hulle het die Hutte-fees gevier soos die wette gesê het. Hulle het elke dag al die brand-offers gebring wat hulle moes bring. Van toe af het hulle die brand-offers gebring wat hulle elke dag moes bring, ook die offers op die Nuwemaan-feeste en op die ander feeste van die Here, en die offers wat mense self besluit het om te bring. Hulle het op die eerste dag van die sewende maand begin om die brand-offers vir die Here te bring, maar toe het hulle nog nie die fondamente van die tempel van die Here gebou nie. Hulle het geld gegee vir die mans wat klippe moes kap en vir die ander ambagsmanne, en hulle het vir die mense van Sidon en Tirus kos en wyn en olyf-olie gegee sodat hulle sederhout moet bring na die see by die stad Jafo. Koning Kores van Persië het gesê hulle mag dit doen. Dit was in die tweede jaar nadat hulle by die tempel-gronde in Jerusalem gekom het. Hulle het toe begin om die tempel te bou, dit was Serubbabel seun van Sealtiël, Jesua seun van Josadak, en die ander mense, die priesters en die Leviete en almal wat gevangenes was en wat teruggekom het na Jerusalem. Hulle het die Leviete wat 20 jaar oud en ouer was, gekies en aangestel om te kyk dat almal die werk aan die tempel reg doen.

ESRA 3:2-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En Jésua, die seun van Jósadak, met sy broers, die priesters, en Serubbábel, die seun van Seáltiël, met sy broers, het klaargemaak en die altaar van die God van Israel gebou om daar brandoffers op te offer soos geskrywe staan in die wet van Moses, die man van God. En hulle het die altaar op sy grondveste opgerig, omdat die skrik vir die volke van die lande op hulle gekom het; en hulle het daar brandoffers op geoffer aan die HERE, brandoffers smôrens en saans. En hulle het die huttefees gehou soos geskrywe staan, en brandoffers dag vir dag volgens die getal, na die eis van elke dag, soos voorgeskrywe was; en daarna die voortdurende brandoffer en dié van die nuwemane en van al die geheiligde feestye van die HERE en van elkeen wat aan die HERE 'n vrywillige gawe gebring het. Van die eerste dag van die sewende maand af het hulle begin om brandoffers aan die HERE te bring, alhoewel die fondament van die tempel van die HERE nog nie gelê was nie. Maar hulle het geld gegee aan die klipkappers en die skrynwerkers, en aan die Sidoniërs en Tiriërs voedsel en drank en olie om sederhout van die Líbanon te bring na die see, na Jafo, volgens die verlof van Kores, die koning van Persië, aan hulle. En in die tweede jaar ná hulle aankoms by die huis van God in Jerusalem, in die tweede maand, het Serubbábel, die seun van Seáltiël, 'n begin gemaak, hy en Jésua, die seun van Jósadak, en hulle ander broers, die priesters en die Leviete en almal wat uit die gevangenskap na Jerusalem gekom het: hulle het die Leviete van twintig jaar oud en daarbo aangestel om toesig te hou oor die werk aan die huis van die HERE.

ESRA 3:2-8 Afrikaans 1983 (AFR83)

en daar het Jesua seun van Josadak en sy ampsgenote die priesters, en Serubbabel seun van Sealtiël en sy helpers die altaar van die God van Israel weer opgebou. Die altaar was bedoel vir die brandoffers soos dit voorgeskryf is in die wet van Moses, die man van God. Ten spyte van hulle vrees vir die ander bevolkingsgroepe in die land het hulle die altaar op sy oorspronklike plek opgerig en daarop brandoffers vir die Here gebring, soggens en saans. Hulle het ook die huttefees gevier soos dit voorgeskryf is en elke dag die vasgestelde hoeveelheid brandoffers gebring. Behalwe die gereelde brandoffers het hulle van toe af ook die offers by die nuwemaansfeeste en al die vasgestelde gewyde feeste van die Here gebring, en ook elkeen se vrywillige offers aan die Here. Hulle het brandoffers vir die Here begin bring op die eerste dag van die sewende maand. Die fondamente van die tempel van die Here was nog nie gelê nie. Hulle het toe klipkappers en ander vakmanne gehuur en die Sidoniërs en Tiriërs met kos, drank en olie betaal om uit die Libanon sederhout met die see langs na Joppe toe te bring. Dit was in ooreenstemming met die vergunning van koning Kores van Persië. In die tweede jaar na hulle aankoms by die tempelterrein in Jerusalem, in die tweede maand, het Serubbabel seun van Sealtiël, Jesua seun van Josadak, en hulle helpers, die priesters, die Leviete en almal wat uit die ballingskap na Jerusalem toe teruggekom het, met die werk begin. Hulle het die Leviete van twintig jaar en ouer aangestel om toesig te hou oor die werk aan die huis van die Here.

ESRA 3:2-8 Die Boodskap (DB)

Jesua seun van Josadak, saam met die priesters en Serubbabel seun van Sealtiël saam met sy helpers, het daar vir die Here ’n offerplek gebou. Hulle wou op die altaar offers vir die Here bring soos Moses dit voorgeskryf het. Hulle was maar bang vir die ander volke wat ook in die land gebly het. Hulle het nogtans die altaar op die plek gebou waar die tempel vroeër gestaan het. Hulle het elke oggend en elke aand vir die Here offers op die altaar gebring. Hulle het die fees van die hutte gevier, soos dit vir hulle in die wet voorgeskryf is. Hulle het elke dag van die fees die offers gebring wat vir daardie dag voorgeskryf is. Na die fees het hulle begin om gereeld daar vir die Here te offer. Hulle het ook gereeld die offers vir die sabbat en die fees van die nuwemaan gebring en vir al die verskillende ander feeste wat vir die Here gehou word. Hulle het weer begin om soos vroeër vrywillige offers vir die Here te bring. Van die eerste dag van die sewende maand af het hulle dus begin om weer gereeld daar by die plek waar die tempel was, vir die Here te offer. In daardie stadium was die hoeksteen van die nuwe tempel nog nie op sy plek gesit nie. Hulle het mense gehuur wat geweet het hoe om klippe vierkantig te kap waarmee hulle die tempel kon bou. Hulle het ook by die Sidoniërs en Tiriërs die dinge geruil wat hulle nodig gehad het. Hulle het by hulle kos, drank en olyfolie geruil vir sederhout wat die Sidoniërs in die Libanonberge gaan kap het. Hulle het van die boomstompe vlotte gemaak en dit in die see vir hulle na Joppe toe gebring. Dit was wettig. Die opdrag van Kores, die koning van Persië, het hulle toegelaat om dit te doen. Serubbabel, Jesua, al die ander priesters en die Leviete en almal wat teruggekom het, het met die bouwerk begin. Dit was in die tweede maand van die tweede jaar nadat hulle by die plek in Jerusalem aangekom het waar die tempel vroeër gestaan het. Hulle het mans uit die familie van Levi wat ouer as twintig jaar was, aangestel om te kyk dat die ander reg bou.

ESRA 3:2-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesua seun van Josadak en sy medepriesters, asook Serubbabel seun van Sealtiël en sy familie het toe die altaar van die God van Israel begin herbou. Hulle wou offers daarop bring soos die wet van Moses, die man van God, voorgeskryf het. Hoewel hulle bang was vir die plaaslike inwoners, het hulle die altaar weer op sy oorspronklike plek herbou. Hulle het dadelik vir die HERE brandoffers op die altaar begin offer. Hulle het dit elke oggend en aand gedoen. Hulle het ook die Huttefees gevier soos die wet van Moses voorgeskryf het. Elke dag van die fees het hulle die voorgeskrewe offer vir die dag gebring. Ná die fees het hulle voortgegaan om die gereelde brandoffers te bring. Hulle het ook die offers gebring wat met die Nuwemaanfees en ook die ander feeste van die HERE saamgaan. Die mense het ook weer vrywillige offers vir die HERE gebring. Reeds vyftien dae voor die Huttefees sou begin, het die priesters al vir die HERE brandoffers geoffer. Hulle het dit al gedoen selfs voordat hulle die fondasies vir die HERE se tempel begin lê het. Eers het hulle klipkappers en skrynwerkers gehuur. Hulle het ook vir die mense van Sidon en Tirus kos, wyn en olyfolie gegee om vir hulle sederhout te bring. Hulle het die houtstompe afgebring uit die Libanonberge en na Joppe toe gebring. Dit is met toestemming van koning Kores van Persië gedoen. Die bouwerk aan die tempel van God het in die tweede maand van die tweede jaar begin nadat hulle in Jerusalem teruggekom het. Serubbabel seun van Sealtiël, en Jesua seun van Josadak en sy medepriesters, die Leviete en almal wat uit ballingskap na Jerusalem toe teruggekom het, het saamgebou. Die Leviete van twintig jaar en ouer is aangestel om oor die bouwerk toesig te hou.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid