ESRA 3:2-8

ESRA 3:2-8 AFR53

En Jésua, die seun van Jósadak, met sy broers, die priesters, en Serubbábel, die seun van Seáltiël, met sy broers, het klaargemaak en die altaar van die God van Israel gebou om daar brandoffers op te offer soos geskrywe staan in die wet van Moses, die man van God. En hulle het die altaar op sy grondveste opgerig, omdat die skrik vir die volke van die lande op hulle gekom het; en hulle het daar brandoffers op geoffer aan die HERE, brandoffers smôrens en saans. En hulle het die huttefees gehou soos geskrywe staan, en brandoffers dag vir dag volgens die getal, na die eis van elke dag, soos voorgeskrywe was; en daarna die voortdurende brandoffer en dié van die nuwemane en van al die geheiligde feestye van die HERE en van elkeen wat aan die HERE 'n vrywillige gawe gebring het. Van die eerste dag van die sewende maand af het hulle begin om brandoffers aan die HERE te bring, alhoewel die fondament van die tempel van die HERE nog nie gelê was nie. Maar hulle het geld gegee aan die klipkappers en die skrynwerkers, en aan die Sidoniërs en Tiriërs voedsel en drank en olie om sederhout van die Líbanon te bring na die see, na Jafo, volgens die verlof van Kores, die koning van Persië, aan hulle. En in die tweede jaar ná hulle aankoms by die huis van God in Jerusalem, in die tweede maand, het Serubbábel, die seun van Seáltiël, 'n begin gemaak, hy en Jésua, die seun van Jósadak, en hulle ander broers, die priesters en die Leviete en almal wat uit die gevangenskap na Jerusalem gekom het: hulle het die Leviete van twintig jaar oud en daarbo aangestel om toesig te hou oor die werk aan die huis van die HERE.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid