ESRA 3

3
Die altaar word herbou
1Die Israeliete het hulle in hulle stede gaan vestig. Vroegherfs#3:1 Grondteks In die sewende maand. het die hele volk in Jerusalem bymekaargekom. 2Jesua seun van Josadak en sy medepriesters, asook Serubbabel seun van Sealtiël en sy familie het toe die altaar van die God van Israel begin herbou. Hulle wou offers daarop bring soos die wet van Moses, die man van God, voorgeskryf het. 3Hoewel hulle bang was vir die plaaslike inwoners, het hulle die altaar weer op sy oorspronklike plek herbou. Hulle het dadelik vir die Here brandoffers op die altaar begin offer. Hulle het dit elke oggend en aand gedoen.
4Hulle het ook die Huttefees gevier soos die wet van Moses voorgeskryf het. Elke dag van die fees het hulle die voorgeskrewe offer vir die dag gebring. 5Ná die fees het hulle voortgegaan om die gereelde brandoffers te bring. Hulle het ook die offers gebring wat met die Nuwemaanfees en ook die ander feeste van die Here saamgaan. Die mense het ook weer vrywillige offers vir die Here gebring. 6Reeds vyftien dae voor die Huttefees sou begin#3:6 Grondteks Van die eerste dag van die sewende maand., het die priesters al vir die Here brandoffers geoffer. Hulle het dit al gedoen selfs voordat hulle die fondasies vir die Here se tempel begin lê het.
Die herbou van die tempel
7Eers het hulle klipkappers en skrynwerkers gehuur. Hulle het ook vir die mense van Sidon en Tirus kos, wyn en olyfolie gegee om vir hulle sederhout te bring. Hulle het die houtstompe afgebring uit die Libanonberge en na Joppe toe gebring. Dit is met toestemming van koning Kores van Persië gedoen.
8Die bouwerk aan die tempel van God het in die tweede maand van die tweede jaar begin nadat hulle in Jerusalem teruggekom het. Serubbabel seun van Sealtiël, en Jesua seun van Josadak en sy medepriesters, die Leviete en almal wat uit ballingskap na Jerusalem toe teruggekom het, het saamgebou. Die Leviete van twintig jaar en ouer is aangestel om oor die bouwerk toesig te hou. 9Jesua, sy seuns en sy familie, Kadmiël en sy seuns, en al die afstammelinge van Hodaja het toesig gehou oor die herbouing van God se tempel. Die Leviete uit die nageslag van Genadad het hulle ook gehelp om toesig te hou.
10Die dag toe die bouers die fondasie van die Here se tempel gelê het, het die priesters, geklee in hulle seremoniële drag, hulle plekke ingeneem en op hulle trompette geblaas. Die Leviete en die Asafgroep het lof aan die Here gebring deur simbale te slaan soos koning Dawid van Israel voorgeskryf het. 11Hulle het die Here geloof en gedank deur te sing: “Hy is goed! Sy troue liefde vir Israel sal nooit ophou nie!” Al die mense het daarna hard uitgeroep terwyl hulle die Here geloof het omdat die fondasie van die Here se tempel gelê is.
12Baie van die ouer priesters, Leviete en van die ander leiers het onthou hoe die eerste tempel gelyk het. Toe hulle die fondasie van die nuwe tempel sien, het hulle hardop begin huil. Van die ander het op hulle beurt weer geskreeu van blydskap. 13Die geskreeu en gehuil kon nie onderskei word nie, maar het saam ’n oorverdowende lawaai veroorsaak. Dit kon baie ver gehoor word.

Tans Gekies:

ESRA 3: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid