ESRA 3:2-8

ESRA 3:2-8 NLV

Jesua seun van Josadak en sy medepriesters, asook Serubbabel seun van Sealtiël en sy familie het toe die altaar van die God van Israel begin herbou. Hulle wou offers daarop bring soos die wet van Moses, die man van God, voorgeskryf het. Hoewel hulle bang was vir die plaaslike inwoners, het hulle die altaar weer op sy oorspronklike plek herbou. Hulle het dadelik vir die HERE brandoffers op die altaar begin offer. Hulle het dit elke oggend en aand gedoen. Hulle het ook die Huttefees gevier soos die wet van Moses voorgeskryf het. Elke dag van die fees het hulle die voorgeskrewe offer vir die dag gebring. Ná die fees het hulle voortgegaan om die gereelde brandoffers te bring. Hulle het ook die offers gebring wat met die Nuwemaanfees en ook die ander feeste van die HERE saamgaan. Die mense het ook weer vrywillige offers vir die HERE gebring. Reeds vyftien dae voor die Huttefees sou begin, het die priesters al vir die HERE brandoffers geoffer. Hulle het dit al gedoen selfs voordat hulle die fondasies vir die HERE se tempel begin lê het. Eers het hulle klipkappers en skrynwerkers gehuur. Hulle het ook vir die mense van Sidon en Tirus kos, wyn en olyfolie gegee om vir hulle sederhout te bring. Hulle het die houtstompe afgebring uit die Libanonberge en na Joppe toe gebring. Dit is met toestemming van koning Kores van Persië gedoen. Die bouwerk aan die tempel van God het in die tweede maand van die tweede jaar begin nadat hulle in Jerusalem teruggekom het. Serubbabel seun van Sealtiël, en Jesua seun van Josadak en sy medepriesters, die Leviete en almal wat uit ballingskap na Jerusalem toe teruggekom het, het saamgebou. Die Leviete van twintig jaar en ouer is aangestel om oor die bouwerk toesig te hou.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid